Kreasioniste kla dikmond by SABC oor TV program

creationistPosterFull

 

 Twee jong aarde kreasioniste wat hulle naam op nasionale televisie tottie gemaak het tydens ʼn evolusiedebat, is nou dikmond vir die programaanbieder Theo Geyser, die SABC en die programvervaardigers.

Hulle beskuldig Geyser daarvan dat hy hulle woorde aan die einde van die program verdraai het. Hennie (Sesdag) Mouton en Henrietta Klaasing is tydens die program What God thinks of us wat Sondae-oggende om 08h30 op SABC 2 uitgesaai word met rooigesigte huis toe.

Hulle het sleg tweede gekom tydens ’n debat met die ongelowige prof Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg (UJ) ten spyte daarvan dat die aanbieder self ʼn gelowige is en dat daar twee kreasionistiese deelnemers teenoor Croukamp was.

Die twee jong aarde kreasioniste het nou hulle lot by die SAUK gaan bekla. Hennie (Sesdag) Mouton is diep beswaard omdat Theo Geyser aan die einde van die program gesê het:

“What I don’t like about the Christian viewpoint we heard here, is that you must deny all reality and say this is what the Bible says.”

Mouton glo daar skuil ʼn komplot agter alles. Hy beweer dit “lyk sterk na ’n afsluitingsgedagte waarop vooraf besluit is”. Geyser word voorts daarvan beskuldig dat dit ’n doelbewuste poging was Mouton se woorde so te probeer voorstel dat hy met ’n vooraf uitgedinkte afsluitingsgedagte kon eindig. Mouton sê sy afleiding is dat die episode ʼn sekere uitkoms moes hê ongeag wat eintlik gesê is en dat dit so gemanipuleer is.

Dit is glad nie vreemd vir Mouton en kie om ’n komplot agter alles te sien nie. In hulle Trojaanse perdeboekie wat onlangs verskyn het bespeur hulle ook die duiwel agter elke bos in wat in die NG Kerk gebeur. Oudergewoonte het hulle weer hulle mes vir my ook in. Sy Trojaanse stalmaat Hetta Klaasing skryf in ’n e-pos gesprek wat die rondte doen sy wonder of die SAUK Mouton se “siniese/sarkastiese woorde” oor my reg verstaan. Dit lyk vir haar of daar vir my geskerm word.

Die e-pos klaagliedere is onder meer ook aan ds Gideon Aggenbag gestuur. Hy is ’n bejaarde afgetrede dominee wat help skryf het aan die Trojaanse perdeboekie waarin die NG Kerk beskuldig word van allerlei dwaalleer en verskeie ander sondes. Aggenbag wat al by geleentheid gedreig het om sy offergawe van die NG Kerk te weerhou as ek nie afgedank word nie, meen Mouton het met ’n “baie goeie ontmaskering” vorendag gekom in sy brief aan die SABC. Aggenbag is ’n hipervrakrampte oom wat ’n verkeerskonstabel was voordat hy op rype ouderdom teologie gaan studeer het. Deesdae hou hy kerk by ’n klein APK gemeente in die Oos-Kaap waar slegs blankes welkom is om lidmate te word.

Mouton is verder die harnas in omdat die programvervaardiger Coetzee Zietsman op Monitor sou gesê het kreasioniste glo NET wat in die Bybel staan en niks meer nie. Mouton sê enigeen wat naastenby op hoogte is met dit wat kreasioniste voorstaan, “sal weet dat die wetenskap, en veral oorsprongwetenskappe (waaronder onder andere evolusie val), ʼn baie belangrike komponent van hul uitsprake en skrywes is.”

Hy kla ook oor verkeerde subtitels wat onder aan die program verskyn het maar praat self van Paul Bester as Monitor se aanbieder wanneer hy waarskynlik Cobus Bester bedoel.

Die SABC se redakteur wat verantwoordelik is vir die program, mnr Japie de Bruyn, sê in sy antwoord aan Mouton die program poog om beide kante van ʼn saak te stel. Dit is egter ook op ʼn manier ook die aanbieder Theo Geyser se ‘reis’ waar hy meer uitvind oor spesifieke sake en dan sy ervaring met kykers te deel. De Bruyn sê hy was aanvanklik ook bang dat die program eensydig sou wees. Nadat hy die program egter gesien het, was sy indruk dat dit in ’n goeie gesindheid plaasgevind het. Al het Mouton en Klaasing van Croukamp verskil is die Christen-perspektief volgens hom duidelik gestel.

  • What God thinks of us word elke Sondag om 08h30 op SABC2 uitgesaai.
This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

2 Responses to Kreasioniste kla dikmond by SABC oor TV program

  1. Coert Welman says:

    Ek is van mening dat die keuse van paneellede nie besonders goed was nie. Die reeks se naam is tog immers What does God think of us en dit impliseer tog dat God se bestaan nie-onderhandelbaar is nie. Hoekom is daar nie eerder ‘n aanhanger van die teistiese evolusie (daar is ‘n magdom in die kerk) nie eerder gekies om te debateer teen die jong aarde skeppingsleerders nie? Dit sou baie meer sinvol gewees het.

    Soos dit tans staan is Mouton en Klaasing gekies om die “Christelike” perspektief te verteenwoordig. GEbaseer daarop is daar meriete in Mouton se klag dat daar ‘n voorafbepaalde antwoord/gevolgtrekking was vir hierdie program. As Mouton en Klaasing die Christelike perspektief verteenwoordig het (Croucamp het beswaarlik nie), dan moes Geyser se slotrede dit genoem het.

    Maar Geyser se slotrede was juis lynreg teen dit wat Mouton geargumenteer het.

    As mens kyk na die enorme feitefoute wat die navorsers voorhou as waarheid, dan is die integriteit van hierdie reeks lankal kas toe. Copernicus brandstapel toe? Ja reg! Dit is baie duidelik dat daar ‘n sterk liberale teologie en selfs plek-plek Ontluikende Kerk en Nuwe Hervorming invloed is in hierdie program.

    Ek was baie teleurgesteld in die kwaliteit van aanbieding, asook die inhoudelike van hierdie program in besonder en die reeks in die algemeen. Ek neem dit egter op (ek is immers Sondae in die kerk soos dit ‘n Christen betaam) om later te kyk in die hoop dat dinge sal verbeter.

  2. Frikkie Beytell says:

    Ek het hierdie programme ongelukkig gemis. Is daar ‘n moontlikheid dat mens ‘n DVD hiervan sal kan bekom?

    Baie dankie