Om te mag twyfel

Om te mag twyfel

Jean Oosthuizen:

“Die God wat ek verloor het, is die teïstiese God,” skryf Julian Müller in sy nuwe boek Om te mag twyfel. “Ek het hom agtergelaat en ek voel verlig, maar tog is ek ook ambivalent daaroor. Enersyds juig ek, want dit is ’n bevryding om nie meer daardie God te hê nie. Andersyds voel ek soos om soos Julian Barnes aan die begin van sy boek Nothing to be frightened of te sê: I don’t believe in God, but I miss him.”

Müller wat adjunk-dekaan is van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria se lewensverhaal is gans anders as wat baie mense van iemand in sy posisie sou verwag. “Ek glo nie meer in die God van wat ver, ver anderkant, los van my van buite my vir my loer nie,” erken hy sommer vroeg in sy boek.  Tog ontdek hy God op ʼn nuwe manier soos deur Paul Tillich beskryf in sy konsep van “the God beyond God”.  Hoewel hy geen woorde meer het waarmee hy God kan beskryf nie, sê Müller hy voel nie meer van God verlate nie. “Daardie God anderkant die teïstiese God het vir my meer troos gebring.”

Die God wat nou sy lewe betree het, is nie meer so maklik om in woorde vas te vang nie. Die bekende begrippemateriaal van “Vader”, “Bo”, “Hoër Hand”, Beskikker”, “God se wil”, “Voorsienigheid” en nog heelwat meer pas nie meer in by die God wat hy leer ken het nie. God is nie meer daar bo en buite en manlik en sterk en in beheer nie. “God is nou vir my veel meer die Moontlike, die Onverwagte, die Vreemdeling, die Gemarginaliseerde, die Gedagte, die Werklikheid, die Beweging, die Lewe. Uiteindelik het die konsepte postteïsme en panenteïsme aan hom die nodige woordeskat en verwysingsraamwerk verskaf om in nuwe kategorieë oor God te dink, te praat en te skryf, verduidelik Müller in sy boek.

“Dit is ʼn verlies en tog ook ʼn verlossing. Ek hoef God nie meer met behulp van komplekse dogmatiese teorie te verdedig en verstaanbaar te maak nie. Toe ek daarmee vrede gemaak het, kon ek weer stadig begin om God te herontdek.”

Julian Müller se boek sal beslis nie in almal se smaak val nie. Dit is ook nie bedoel om so te wees nie. Om te mag twyfel is sy eie lewensreis. Enige mens wat sy persoonlike geloofsreis op die manier verwoord stel homself bloot. Hy loop die gevaar om verketter óf bespot te word. In Müller se geval kan jy maar weet albei sal gebeur. Verkettering én bespotting. Die boek is nie geskryf vir mense wat klaar gedink het oor God nie. Nie vir die fundamentaliste wat al die antwoorde ken nie en ook nie vir diegene wat met ewe groot sekerheid klaar besluit het daar is géén godheid nie.

Die boek is in Müller se eie woorde vir mense soos hy: mense wat soms met geloof sukkel, mense wat nie elke dag ewe goed glo nie en mense wat hulle geloof beslis nie as ʼn prestasie kan aanbied nie. “Dis mense wat soms daaroor verras is dat hulle tog nog glo en mense wat partykeer daaroor ontsteld is dat hulle so ongelowig is. Dis mense wat onthou hoe hulle as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar sukkel om steeds so naïef te vertrou.”

Met die titel Om te mag twyfel neem Müller posisie in teenoor die kampioene van geloof. Hy skaar hy hom liewer by die “ongelowige” gelowiges. Hy vertel nie van die oorwinning van geloof nie. Daarvan sê hy is daar genoeg in die Christelike populêre literatuur. “Ek wil eerder die teenoorgestelde beklemtoon, naamlik dat geloof gebroke, gehawend, swak en ontoereikend is, geloof het geen inherente krag en betekenis nie. Dit is kwesbaar en breekbaar.”

Daarmee distansieer Müller hom dan ook van die konsep “geloofsekerheid”, iets waaroor hy met die jare al hoe meer skepties oor geraak het. “Dit is ʼn konsep waarmee gepoog word om iets tot geloof toe te voeg, asof geloof alleen nie genoeg is nie. Jy moet nog ʼn kwaliteite daarby verwerf. Dis so asof daar twee soorte geloof is: sekere én onsekere geloof. En dan is die deur oop vir nog verdere onderskeidinge: geloof wat oortuig is en geloof wat onoortuig is; die geloof van wedergebore Christene en die geloof van gewone Christene.”

In die soeke na ʼn nuwe godsbeeld vind Müller geen finale antwoorde nie. Hy erken die “onvolledigheid” van sy eie waagstuk en sê reguit daar bestaan nie iets soos ʼn volledige teologie nie. “In my geval is dit ook so, want daar is nog baie ontbrekende stukkies. Met die skryf het ek eenvoudig by sekere plekke langs my lewenspad stilgehou.”

Muller se verhaal begin as jong seun wat van kleins af geweet het hy wil predikant word. Sy ouers was plaasboere met sy ma se familie as Hervormers. Hulle was die vrolike deel van die familie. Die aardse en rasionele spiritualiteit van die Hervormde kerk was deel van die erfenis wat hom tot vandag toe beïnvloed. Sy pa se kant se NG spiritualiteit was vromer as die Hervormer deel maar beslis ook nie deel van die evangeliese strominge in die NG Kerk nie.

Müller het duidelik geen erg in die evangeliese stroom nie. Sy ontnugtering met die evangeliese sekerheid het reeds as eerstejaar op Universiteit begin toe ʼn buurseun aan kanker dood is. In daardie stadium was Müller nog onder die invloed van die evangeliese vroomheidsgodsdiens. Ondanks sy moedige poging om die buurseun “voor die dood se gapende kake weg te bid” het die seun gesterf.

Dit het hom tot die besef gebring die evangeliese sekerheid bied geen bevredigende antwoord op lyding nie. Dit skep aan die een kant ongekende verwagtings wat in die krag van gebed en toewyding gesetel is. Dit het lank geneem voordat hy hom van die evangeliese oortuigings gedistansieer en dit as ʼn valse vorm van godsdiensbeoefening verwerp het. “Maar uiteindelik moes ek dit doen, al was dit teen die stroom in.”

Geloofsekerheid is volgens Müller so ʼn vae konsep dat dit blootgestel is aan misverstand en misbruik. “Dit dra die illusie van sekerheid wat van God ontvang is, maar dit is uiteindelik maar net ʼn eie konstruk. Dit word nie gegee nie, dit word verwerf en sommige is beter daarmee as ander. Dit is juis gevaarlik omdat dit voorgehou word as iets “gereformeerd”, ʼn vertroue op God alleen. In die praktyk kry dit egter die betekenis van erekleure wat verwerf moet word, ʼn soort kwalifikasie wat by gewone geloof bygevoeg moet word.”

Vir Müller het dit ʼn leeftyd geneem om van baie geykte angswekkende gedagtes oor geloofsekerheid bevry te raak. “Dit is soos ʼn nuwe ontdekking: dat ek nie hoef te glo om iemand te wees nie; dat geloof nie ʼn geheimsinnige, ontwykende gawe is wat my gevange hou nie; dat geloof niks anders en niks meer is nie as ʼn lewenswaarde wat deur my opvoeding en konteks aan my gegee is. Dit is nie heiligskennis om aan my geloof te twyfel nie. Ek mag maar daarop reflekteer en dit bevraagteken en kan dit soms ook opnuut omhels.”

Op ʼn dag moes ek bid: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Want “my God” – die een wat ek tot in daardie stadium geken het – het agter die horison verdwyn. Die ou God het hom in bekende begrippe en gerusstellende taal laat vasvang. Daarmee (die ou God)  kon ek ʼn greep op God ervaar. As jy die regte woorde soos “erfsonde”, “verkiesing”, “geloofsekerheid”, genoeg en in die regte volgorde herhaal, word dit ʼn vaste sisteem (dogma) wat veiligheid gee. Met sulke evangelies-teïstiese taal en die gerusstellende taal van die kerklike belydenis kan ʼn mense God as’t ware beheer.”

Die meeste gelowiges aanvaar dat hulle idee van God uit die hemel geval het en nie bevraagteken kan word nie. Dit is eenvoudig hoe God is. Müller verduidelik dat idees oor God en die taal wat God beskryf menslike maaksels is. “Dit is almal die gevolg van een of ander interpretasie van wat ons in die Bybel oor God te lese kry.” Hy verduidelik hoe daar deur die loop van die eeue verskillende sieninge oor God ontwikkel het uit bepaalde godsbeelde wat in die tradisie van die Christendom inslag gevind het. Hierdie beelde of konsepte van God word mettertyd so geïnternaliseer dat mense dit nie meer bevraagteken of daaroor wonder nie. Dit word eenvoudig aanvaar as die enigste geldige manier om oor God te dink.”

Gelowiges besef volgens Müller nie aldag dat hulle begrip van God op ʼn interpretasie neerkom nie. “Die interpretasie is nie net op die Bybel gebaseer nie, maar is ook die produk van ons kultuur en van ons wêreldbeeld.”

“Die spanning tussen die moderne wêreldbeeld aan die een kant en ons godsdienstige konsepte aan die ander kant is vandag ʼn bron van groot vertwyfeling onder Christene. In my ervaring bevind denkende mense hulself gevolglik al hoe verder en meer vervreem van godsdiens –  altans van die soort godsdiens wat algemeen en populêr in kerke en in die pers verwoord word. Die toenemende konsensus onder wetenskaplikes en gewone mense oor die werking van die natuur en die ontstaan van lewe pas byvoorbeeld net nie meer by die geykte konsepte van God, die skepping en die verhouding tussen mens en God nie.”

Vir diegene wat soek na ʼn taal wat uiting gee aan hulle Bybelse geloof maar wat terselfdertyd getrou wil bly aan ʼn moderne verstaan van die wêreld beveel Müller panenteïsme ter oorweging aan. Dit is ʼn filosofiese konsep wat die Duitse filosoof Karl Christian Frederich Krause die eerste gebruik het en later deur verskeie filosowe en teoloë gebruik is. In kort beteken dit God is in alles én alles is in God. Müller noem homself egter ʼn postteïs. “Dit beteken ek aanvaar dat ʼn bepaalde era met sekere (verouderde) denkwyses en taal oor God verbygegaan het. Hy gee toe dat hy nog daardeur beïnvloed word. “Ek dink nog, praat nog en sing nog in die ou taal en dit spreek selfs nog tog my. Aan die ander kant weet ek dat ek onherroeplik aanbeweeg het en nuwe denkraamwerke oor God my nou inspireer en fassineer.”

Die feit dat hy homself ʼn postteïs noem, staan egter nie teenoor sy identiteit as Christen nie, want hy glo  die teïsme het nie die alleenreg op die Christelike geloof nie. “Ek dra graag die naam Christen en het geen behoefte om uit my geloofsverbondenheid met Christus te bedank nie. Tog wil ek my Christenskap postteïsties verstaan en verwoord. Ek glo dit is moontlik om ʼn Christen te wees met ʼn teïstiese, ʼn postteïstiese, of selfs ‘n panenteïstiese Godsbeskouing.”

Soos wat die flapteks aandui laat Müller se nuwe taal om oor geloof te praat, en sy kritiek op kerklike dogma, hom dikwels in die spervuur beland by teologiese kollegas en medegelowiges. Sy jongste boek waarin hy aanrypend vertel van die impak wat dit op hom as persoon gehad het sal beslis nie die wagters op Sionsmure sus en tevrede stel nie. Inteendeel, dit open die deur vir ʼn nuwe vlaag van verkettering en verdagmakery. Vir krities denkende gelowiges bied dit ʼn welkome ontsnaproete uit die muwwe doodloopstrate van die georganiseerde godsdiens waarin baie gelowiges hulle vandag bevind.

  • Om te mag twyfel word uitgegee deur Tafelberg en kan HIER bestel word.

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

11 Responses to Om te mag twyfel

  1. Jan Smith says:

    Ek het nie die professor se boek gelees nie maar ek weet nie of ek dit sal regkry om uit ” ‘n Ou God” ” ‘n Nuwe God” te ontdek nie. Die God met wie ek so 54 jaar gelede deur die Bybel kennis gemaak het, het ek deur Jesus as die Abba Vader leer ken en het hierdie kennismaking sedertdien tot ‘n persoonlike verhouding gevorder deur tussenkoms van die Heilige Gees. Trouens, terwyl ek hier sit met die Bybel oop by Romeine 8 met die opskrif Die nuwe lewe onder die genade. Die gees van heiligheid en aanneming as kinders ervaar ek Sy teenwoordigheid.
    Ek weet nie van al die “teismes” nie maar God (die oue) het net belang in die mense wat Hy geskape het. Dit sal dus vir my ‘n persoonlike ramp wees om die God wat ek ken te vervang deur ‘n “nuwe een”. Eg se handboek het ek tot beskikking en soos dit is, is baie (nie net sommige dinge nie) onverstaanbaar maar ten minste bevat dit die woorde van die Lewe. Hoe meen die professor sal die “Nuwe God” wat hy ontdek het se handboek lyk. Ek net wonder!!

  2. Chris Steenkamp says:

    Kommentaar op ‘Om te mag twyfel’. Ek het nie die boek gelees nie, maar slegs wat Jean daaroor skryf – dat dit moed gekos het vir ‘n teologiese leerkrag om dit te skryf, is ‘n boek!
    Enige gelowige sal seker met my saamstem dat daar slegs één rede is dat ons vandag ‘n bybel het wat mees algemeen beskou word as die Woord van God, en dit is om die mens wat glo dat hy om watter rede ookal van God verwyderd geraak het, weer met God te verenig sodat dit vir hom weer kan wees soos voor die sg, sondeval. Wat baie min gelowiges, selfs teoloë egter nie besef nie, is dat indien dit kan gebeur dat ‘n mens weer vir God kan beleef soos Adam en Eva Hom beleef het vóór die sg. sondeval, daar so ‘n egte en ope verhouding met God sal wees dat die bybel as’t ware oorbodig geraak het en dit slegs as bevestiging sal dien van dit wat God jou dan sélf leer. Nou kom die vraag natuurlik: Maar kan so-iets wáárlik met ‘n aardbewoner gebeur voordat hy/sy liggaam graf toe gaan?
    Ja, dit kán gebeur en hét tewens 27 jaar gelede met my as aardbewoner gebeur, want dit is presies vir hierdie rede dat God sy Seun as ‘n Mens na die aarde toe gestuur het en Hy sy lewe aan die kruis afgelê het, en dit is presies hier waar geloof inkom want God skenk hierdie voorreg slegs aan diegene wat die opdragte van sy Seun ontvang het en dit getrou tot uitvoer bring. Lees gerus Johannes 14, in besonder waar Hy sê: “In daardie dag, (nie wanneer ‘n mens tot geloof kom nie, maar die dag wanneer Hy, die Seun van God sélf na die indiwidu toe kom en Homself aan hom/haar openbaar) sal julle wéét dat Ek in My Vader is, die Vader in My en Ek in julle.”
    Daar is dus slegs sprake van saligmakende geloof op pad na daardie dag toe, want van daardie dag af is daardie indiwidu se kindskap nie meer afhanklik van sy geloof nie, want van daardie dag af is hy/sy met die Lewende God én sy Seun verenig, en kan niemand meer enigiets daaraan verander nie!
    Geloof in die inhoud van die bybel, ou- en nuwe testament, is van daardie dag af vir daardie persoon van geen belang hoegenaamd nie en dien slegs as bevestiging van wat sy/haar nuwe Vader hom/haar persoonlik leer.
    Wat betref geloof om wonderwerke te doen: Self het ek nie daardie geloof nie, maar dit is ook nie vir my ‘crucial’ nie want as ek dit nodig vind, vra ek my Vader en gewoonlik doen Hy.wat ek vra, en wanneer Hy dit níe doen nie, aanvaar ek dat Hy ‘n baie goeie rede het om dit nie te doen nie, maar as dit vir my belangrik is om te weet, vra ek Hom na die rede en gee Hy my ‘n vir my bevredigende antwoord.
    Ek begryp nie die groot ‘issues’ wat mense oor geloof maak nie, want wat maak die res dan saak?

    Groete!

  3. D L Boshoff says:

    Die skrywer is briljant.Ek wens meer en meer mense wil vry voel om te twyfel,vrae te vra en antwoorde te kry.Soms stem ek met hom saam soms verskil ek, maar sy besluit om die boek te skryf, een woord ” fantasties “!

  4. Jaco Steyn says:

    Ek is nie eintlik baie beïndruk met die boek nie. Die skrywer verduidelik nié voldoende in watter mate die panenteïstiese geloof in ‘n onpersoonlike Goddelike, verskil van die teïste se geloof in ‘n Persoonlike God, nie. Baie tradisionele Christene sal gevolglik meer as ooit tevore, deurmekaar wees wanneer hulle die boek deurgelees het.

    Waar dr. William Lane Craig ‘n duidelike “Ja”, en prof. Sakkie Spangenberg ‘n duidelike “Nee” antwoord op die vraag of daar ‘n “leë graf” was, weier prof. Müller om die vraag met ‘n duidelike “Ja” of “Nee” te beantwoord.

    Die Drie-Eenheid waarna die tradisionele Christelike geloofsbelydenisse verwys, is ‘n duidelike verwysing na ‘n teïstiese Godsbeeld. Wanneer mense wegbeweeg vanaf hierdie Godsbeeld, behoort hulle terselfdertyd óók daardie geloofsbelydenisse te verwerp.

  5. Boerseun says:

    Ek sal baie graag die hele boek wil lees, maar dit voel vir my of Julian maar net soos miljoene ander mense die god definieer waarmee hy gemaklik voel vir solank as wat hierdie god vir hom nodig is.

    Baie van ons doen dit in ons eie lewensreise, baie aanbid die teïstiese god totdat jy begin vrae vra, wat dan onherroeplik lei tot die begrafnis van die teïstiese god. Dan begin jy as persoon n nuwe god her-definieer na n god wat nader is, meer hier is, meer liberaal is.

    Dit is tog gerustellend om n god te “he” wat hier is, wat in beheer is, wat die hoof is, wie ek aanbid in my binnekamer in die aande. Die god wat nog goed laat geskied op die aarde met mense. Dit is maklik, dit is lekker, en dit gee n mens n warm gevoel ek stry nie daarmee nie.

    Tog dink ek daar is maar n handjie vol mense wat aanbeweeg om hierdie meer liberale god te begrawe. Dit is seker die moeilikste besluit om te neem, die dag as jy besef god is nie meer nodig om jou lewe sin en betekenis te gee nie. Daaaaan begin n mens se lewe eers.

    Groetnis
    Boerseun.

  6. Frikkie says:

    Ek vind beslis baie aanklank by Julian se geloofsiening soos deur Jean Oosthuizen verwoord. Ek het ook al die berigte en polimiek in die pers gelees. Die boek sal binnekort op my boekrak wees.

    Wat ek die meeste waardeer, is die moed en oortuiging waarmee hy bereid is om sy geloofoortuiging aan die grootklok te hang. Dit gaan baie help om mense uit hul winterslaap wakker te wek. Veral hierdie “cowboys van geloof”, waaraan ek ‘n totale broertjie dood het.

    Dankie Julian

  7. Chris Nel says:

    Om te mag twyfel Posted on 20/05/2011 by Jean Jean Oosthuizen: “Die God wat ek verloor het, is die teïstiese God,” skryf Julian Müller in sy nuwe boek Om te mag twyfel.
    Hier slaan hy die spyker op die kop, want miljoene Christene ervaar ‘n betwyfeling oor teologie. Die Verlossingsboodskap direk uit die hemel is: “Gaan uit haar (Babilon) uit my volk.”

  8. Post Toasties says:

    Om nog aan “God” vas te hou verlig verder die skuld kompleks en eksistensiele vrese van die wat eintlik nie meer kan glo nie. Christene veronderstel mos dat as daar n god is die grootste begeerte daarvan is dat mense tog net sal saamstem dit bestaan.

  9. Post Toasties says:

    Nog n rede:
    Twyfelende gelowiges ignoreer tot n mate die feit dat wat hulle onder “God” verstaan verwys histories eintlik na n baie spesifieke god (Jahwe). Doen nou dieselfde met enige ander god (bv ons moet nuut dink oor die oneindige misterie van Zeus of Baal en nie fundies of atties wees as dit by hierdie gode kom nie) en julle sal sien hoe die onsinnigheid daarvan ooglopend blyk.

  10. Post Toasties says:

    Daar is ten minste 6 redes hoekom gelowiges wat besef wat hulle glo is nie waar nie post-teisme en panenteisme bo ateisme verkies:
    1) Hulle weet nie hoe om sonder die god-idee klaar te kom nie
    2) Hulle werks/sosiale konteks vereis gelowigheid
    3) Dit bied ditself aan as n goue middeweg tussen fundamentalisme en ateisme
    4) Sulke gelowiges is gewoonlik die niceste mense om mee te meng
    5) Daar is n taper effek na ongeloof eerder as “cold turkey” ontrekking simptome
    6) Meeste fundies en atties is bloot arrogant

  11. Johan says:

    hierdie was ‘n verrykende leeservaring. dis goed om bevry te word van geloofskampioene en om nog ‘n soeker-reisiger te ontmoet.