Demoondoom wil g’n sangoma wees nie

ds Pieter Fourie

Die demoondoom wat soos ’n wafferse wit sangoma adverteer het hoe hy spoke verdryf en raad het met toordery huil nou lang demoontrane in die media omdat ek hom ’n wit sangoma genoem het.

Wat anders is dit as jy jou ophou met spoke jag, toordery en goëlery?  Doen sangomas dan nie dieselfde nie? Neels Jackson van Beeld gebruik demoondoom Pieter Fourie se treurmare oor my vandag as inleiding vir sy berig oor die demoondoom wat nou sy eie kerk gaan stig nadat hy en sy gemeente nie meer oog tot oog sien nie. (http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Jesus-kry-ook-lelike-name-20110601)

Fourie probeer nou martelaar speel. Hy maak asof dit dáároor is waarom hy sy tasse moet pak en die NG Kerk vaarwel roep. Hy gaan egter suinig met die waarheid om. Dit is nie as gevolg daarvan dat hy moet loop nie.

Sy beheptheid met duiwels en demone was nie die rede waarom sy kerkraad hom by die ring verkla het nie. Anders as wat mens dalk uit Beeld se berig kan aflei, is Fourie sy werk kwyt omdat hy nie sy werk gedoen het nie. Punt. Fourie en sy gemeente se geskil het gegaan oor die nakoming van sy dienskontrak. Nié oor die duiwel of omdat hy ‘n demoondoon of wit sangoma genoem is nie.

Wat sy demoonjagtery en ander Middeleeuse uitsprake betref hoef mense eintlik niks meer te sê nie. Dit spreek vanself. Iemand wat in 2011 vertel van demone wat brullend en brakend deur hom uit mense gedryf word terwyl die demone stink winde laat moet regtig nie verwag om ernstig opgeneem te word nie. Tensy jy natuurlik jou bewerings kan staaf. Sulke aansprake is niks minder Middeleeus as diegene wat vroue as hekse verbrand het nie. En die storie van bose geeste wat in Afrikamaskers skuil en Harry Potter speelgoed wat gevaarlik is of dat die dra van silwer kruise duiwels is, is regtig te gek vir woorde.

Ongelukkig is al die demoondoom se uitsprake en handelinge glad nie so skadeloos of onskuldig soos wat dit op die oog af mag lyk nie. Ek dink al ons joernaliste moet in die algemeen meer ondersoekende joernalistiek in die verband doen. En ook oor die gevolge wat dit op kinders se emosies het. As daar iets bestaan soos demone wat een-een al brullend, brakend en poepend by mense uitgedryf word, is daar ‘n paar vrae wat nie sommer net geïgnoreer kan word nie. Dan spreek dit tog vanself dat dit ‘n waarneembare verskynsel moet wees. Waar is die goed? Wie sien hulle? Wie hoor hulle winde los? Op wie braak hulle so? Soms tot sewe en meer van hulle uit een mens! As dit waar is dan is dit ‘n ernstige saak en durf die media sit nie sommer net aflag nie. Maar hoe braak ‘n demoon? Is hulle fisiese en liggaamlike goed dat hulle so brul en braak? Seker want hoe anders tel mens hulle? En waarheen verkas hulle nadat hulle met so groot geskal uitgedryf is?  

Dan praat mens nie eers van Fourie se homofobiese uitlatings of insinuasies dat siektetoestande soos depressie die werk van die duiwel is en dat antidepressante eintlik maar net ‘n foefie is omdat die duiwel daaragter sit nie.  

As die goed wat hy verkondig níe waar is nie behoort mense gewaarsku te word teen duiwelbeheptes soos Fourie. Dit is nié so onskuldig soos wat dit op die oog af mag lyk nie. Daarom moet ons in die media ophou om net as buiksprekers vir die Fouries se onsinnighede op te tree. Om kinders van so jonk as agt jaar en selfs jonger met die duiwel bang te maak is niks anders as emosionele kindermishandeling nie. Om allerhande magiese magte in Afrikamaskers te sien en mense aan te raai om die goed te verbrand omdat dit duiwels is, is belaglik en niemand hoef daaroor sleg te voel as hy of sy dit aflag as snert nie. Dis spookstories soos die wat met spookasemteologie aan goedgelowige mense opgedis word as die evangelie.

Maar wat van die gevolge wat sy Middeleeuse teologie op gay mense, kinders en depressielyers kan hê? Kan ons dit bekostig dat die Fouries van die wêreld sulke vrese en vooroordele verkondig terwyl ons stilswyend toekyk. Ek dink nie so nie.

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

5 Responses to Demoondoom wil g’n sangoma wees nie

  1. Anton Bester says:

    En natuurlik mag mens nie verskil van die “waarheid” wat net sommiges van ons sien en weet nie ….

  2. Anton Bester says:

    Ek wonder soms maar net oor die skade wat aan mense se psige aangedoen word wanneer daar so maklik na demone en bose geeste verwys word ….. Dinge is beslis nie so eenvoudig nie.

  3. Jean says:

    Retha ek dink jy moet so gou as moontlik by ‘n sielkundige uitkom. Daar is hulp beskikbaar vir jou toestand en dit is nie ‘n skande nie. Moet om vadersnaam net nie nóg mense konfoes met jou waanbeelde nie.

    • Jhanes Esterhuizen says:

      Stem 100% saam, prozac is deesdae cheap en jy kry dit sommer oor die counter by die apteek

  4. MEJ RETHA .NOTHNAGEL says:

    Ons lewe in ‘n geesteswêreld waar die bose teen die lig is!. Die Heilige Gees het soos ‘n “wind” oor my gewaai en sy Hande het my vasgehou! Hierdie ondervinding sal my bybly. Ek het ook die bose kant van dit beleef waar ek ‘n demoon uitgedryf het in iemand se woonstel. Sy is gepla deur snaakse “geluide” wat sy gehoor het en as sy in die kombuis gekom het, het sy Yskoud gekry en dit in die hartjie van die somer! Haar dogter was betrokke by Satanisme en sy het vir ‘n ruk by haar ouers kom bly! Gedurende daardie tyd het sy dit gehoor. Die Satanisme kon hulle “verspieders” gestuur het om op haar te “spy” om haar sodoende weer terug te kry. Sy kan in die geesteswêreld insien en het iemand sien staan in die hoek van die sitkamer! Die dogter se babatjie het altyd skielik begin huil vir niks! Haar man het in die aande wakker geword en kon voel hoe druk “iemand” hom vas op die bed!
    Ek is uitgeroep om te help! Toe ek in die sitkamer gekom het, kon ek die bose aanvoel en het eers gevra of sy wéét sy moet haar hart vir die Here gee. Sy was baie beangs en het die sondaarsgebed gebid en dadelik is sy verander deur die Heilige Gees.. Duidelik kon ek die bose voel en het gebid, en bestaf en die bose het in die spesifieke vertrekke verdwyn waar ek gebid het! Ek het met my toe oë geloop, want ek kan die geesteswêreld beter aanvoel en dinge onderskei! Duidelik kon ek voel dat daar nog “iets” was in die sitkamer en toe ek vir die Here vra om vir my te wys, kon ek voel hoe “skuif” iemand my teen die tafeltjie in die sitkamer! Skielik sien ek ‘n donker persoon, met donker oë, plat ore ‘n paar tree van my staan! Dis óf ‘n “human” spirit, óf ‘n demoon, of die duiwel wat ek gesien het!. Ek het in die Naam van Jesus die ding bestraf, gesê hy moet teruggaan na die plek waarvandaan hy kom en die mag gebreek!. Hy het onmiddellik gegaan! Ek het al die kamers in die huis gesalf met olie, want olie stel die bloed van Jesus voor en dit BREEK die juk !
    Hierdie gebeurtenis het in verlede jaar gebeur! Tot nou toe, het die “ding” nie teruggekom nie, haar man is nie weer “vasgedruk” op die bed nie en die “geluide” is weg!
    Wat my omkrap is dat mense nie WIL hoor en WIL sien nie! Dis verstaanbaar dat mense nie sal glo wat nie WERKLIK WEDERGEBORE is en die Gees van God in hulle het nie!Jesus het met die duiwel homself gepraat, Hy het demone uitgedryf en vandag werk die DUIWEL deur sy trawante, nl. die DEMONE of mense!!!!
    Die Bybel is deur die Gees van God geïnspireer en die Bybel sê uitdruklik: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug!”
    Ek kom uit ‘n Sendingveld uit en ek WEET wat ek gesien en beleef het!!!!.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>