Waarheen met die goddelike?

God the Voyeur. Diek Grobler, 2008. Mestekenbord. Gepubliseer met kunstenaar se toestemming.
 
Gerrie Snyman: 
Die skilder Diek Grobler se waarneming oor die goddelike en sy vraagstelling oor wat die goddelike nou eintlik doen in die stuk God the Voyeur problematiseer vir my die denke oor die goddelike.

Die titel van die kunswerk noop die toeskouer om die goddelike as ʼn loervink te beskou waar die aarde letterlik op ʼn afstand vanuit die ruimte betrag word, asof daar geen betrokkenheid met die wêreld is nie. Die deel van die aardbol wat gewys word, lyk na die Nabye en Verre Ooste. Eersgenoemde is natuurlik die bakermat van die Christelike godsdiens in terme van die wortels in die vroeë Judaïsme en die vroeë Christendom waar die kerke in die oostelike deel van die Romeinse Ryk ʼn baie groot rol gespeel het vanuit Konstantinopel.

Die goddelike se voorstelling is ʼn mansgesig (wat baie na Goya se figure lyk) met ʼn lyf wat na ʼn voël lyk met vyf vingers wat mens aan ʼn voëlklou laat dink, hoewel daar te veel ledemate vir so ʼn kloutjie is. Tussen die figuur en die aarde is daar wolke wat ʼn wasigheid meebring. Die hand-klou klou vas aan iets wat soos ʼn vlerk lyk, of dalk ʼn mantel. Daar is dus iets gerubagtig aan die goddelike voorstelling. As mens dit lees saam met die voëlagtige lyf, dan sou mens by ʼn arend kon uitkom wat volgens Esegiël 10:14 goddelike teenwoordigheid simboliseer.

Die blik van die goddelike is afwaarts, na die aardbol toe. Die kunstenaar verdiskonteer  ʼn wetenskaplike wêreldbeeld van ʼn draaiende aarde om sy eie as, maar vra die vraag uiteindelik oor waar só ʼn wêreldbeeld die goddelike laat. Word die goddelike uitgeskuif na die buitenste duisternis? Laasgenoemde word veral beklemtoon deur die medium wat gebruik word, naamlik mestekenbord en die donker dele op die doek. Of is die goddelike besig om nader te kom met ʼn meer vriendelike gesig? Die goddelike is duidelik op ʼn afstand, hoewel die gesigsuitdrukking van die goddelike baie sagmoedig voorkom. Maar dit is juis hierdie afstand wat vir my tref.  Binne die ortodokse siening word die goddelike beskou as iemand wat wette gemaak het met  die mens wat dit nou net moet nakom. Daar is niks verder vir die goddelike om te doen nie. Vandaar die afstand.

ʼn Verdere vraag is wat presies die goddelike nou is wat so uitgeskuif word? Mens sien hier ʼn mansgesig, ʼn voëlagtige gelaat en ʼn wasigheid. Mens sou kon sê hier word net twee lede van die Drie-eenheid verteenwoordig:  God die Vader en God die Heilige Gees. Dit lyk nie of daar plek is vir Christus as God die Seun hier nie. Die afwesigheid van Jesus in Grobler se uitbeelding van die goddelike dui dalk op ‘n intuïtisie met betrekking tot die rol wat Jesus binne die Reformatoriese tradisie speel en dat sy goddelike rol ten spyte van ʼn uitgewerkte leerstelling in die hedendaagse lewe nie tuiskom nie.

Die manlike gesig het nie ʼn gestrengheid aan hom nie. Daar is iets weerloos aan die goddelike. Dit laat my weer dink dat die goddelike versag het en eintlik besig is om nader te kom in teenstelling met die afstand.  Die afstand wat in die kunswerk tussen die goddelike en die aardbol geskep word, en die sagte uitdrukking op die gesig van die goddelike bevestig enersyds dat die goddelike nie juis ervaar word in die lewe nie, maar andersyds dui dit op die moontlikheid van ʼn nuwe beskouing oor die goddelike, een wat minder met outoritêre gesagsuitoefening geassosieer word. Mens sou ook die kunswerk kon interpreteer as sou die goddelike besig wees om weer die aardbol te nader, en dus in ʼn nuwe gedaante as goddelike sigself voordoen. Daar is genoeg beweging in die kunswerk om so ʼn skuif aan te dui. Dit sou dus ook ʼn skuif in tandem wees met ʼn nuwe godsbeskouing wat aan die ontwikkeling is.

As my interpretasie van Grobler se skildery geldig is, versterk dit my vermoede wat ek het oor die toepassing van die Gereformeerde leerstellings oor Jesus Christus in sommige aspekte van die alledaagse lewe: hulle werk gewoon nie meer nie.  Gee Grobler se werk nie maar intuïtief (Grobler is ʼn kunstenaar en nie ʼn teoloog nie) weer wat op grondvlak teologies gebeur en boonop in weerwil van ortodokse en fundamentalistiese reaksies teen die soort van siening van Jesus soos vergestalt deur die Jesus Seminaar en die Nuwe Hervorming nie?

Terwyl die voorstelling van die goddelike vele komponente het, problematiseer die voëlagtigheid van die goddelike sowel as die gesigsprofiel die idee van die goddelike as imperiale maghebber deurdat die voël nie heeltemal as ʼn arend uitgemaak kan word nie en die gesig vertederend is. Hierteenoor staan die tradisionele of ortodokse siening van die goddelike in noue verband met magsuitoefening. In watter mate durf mens nog enigsins die goddelike verbind aan mag?

Die kunswerk self staan binne die Westerse tradisie en is gekonsipieer en gemaak vir ʼn uitstalling in Parys. Tog het mens gedink as kunswerk binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks dat die blik op Afrika sal wees. In hierdie opsig frustreer die kunswerk die kyker wat in ʼn  Afrika-konteks oor die goddelike dink. Die blik wat Grobler se goddelike op die aarde werp, is op ʼn spesifieke wêrelddeel, naamlik die Midde Ooste en die Verre Ooste. Die Weste het natuurlik baie spesifieke idees oor hierdie wêrelddeel wat deur Edward Said as “Orientalisme” gedefinieer word. Orientalisme kom neer op ‘n baie duidelike etnosentriese blik op die Ooste maar vanuit die Westerse kultuur se universele aansprake. Die goddelike se blik is egter nie op Afrika nie, en die vraag is wat het die hele debat oor die goddelike uiteindelik met Afrika te doen.  Is die hele debat tussen ateïsme en fundamentalisme nie maar net ʼn storm in ʼn Westerse teekoppie nie?

  • Gerrie Snyman,  Dept OT&ANES, Unisa
  • (Kunswerk: God the Voyeur. Diek Grobler, 2008. Mestekenbord. Gepubliseer met kunstenaar se toestemming.)

 

 

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

Comments are closed.