Sal ons nog droom as ons dood is?

sal ons nog droom

Piet Muller:

Is die dood die Groot Einde? Bly na die sterfte niks oor van al ‘n mens se drome en aspirasies nie? Het alles wat ‘n mens in jou lewe bereik het, na die dood geen sin meer nie? Oor hierdie soort vrae wonder die mens reeds sedert die begin van die geskiedenis. Sowat 180 000 jaar gelede het die bewoners van ‘n grot in die Lebomboberge al seeskulpe saam met hul dooies begrawe en hul dooies boonop met okerstrepe versier – aanduidings dat hulle ‘n verwagting gehad het van die lewe na die dood.

Vir die die Europese Middeleeuse mens was geboorte en dood bloot twee plekke waar ‘n mens op dieselfde reis aandoen. Selfs die modern Boeddhistiese monnik, Thich Nhat Hahn skryf in ‘n gedig:

Ek is nie my liggaam nie, dit hou my nie gevange.

Ek is lewe onbegrens – wat nooit gebore is en

wat nimmer sterwe.

Aanskou die oseaan, die uitspansel besaai met sterre

wat ingebed is in my diepste wese.

Van die voortyd af is ek ongebonde.

Geboorte en dood is telkens net poorte, gewyde drempels op ons reis.

Geboorte en dood is net ‘n lig-en-skaduspel…(Vry vertaal).

Persoonlik ken ek geen hipnoterapeut wat nie reïnkarnasie minstens ‘as ‘n ‘psigiese werklikheid’ in die lewe van hul pasiënte aanvaar nie. Hierteenoor staan die ‘amptelike” standpunt van die wetenskap dat die mens bloot ‘n materiële wese is en selfs sy oomblikke van godsdienstige vervoering of sy innigste liefde die resultaat is van chemiese en neurologiese prosesse is. As jy sterf, sterf al die insig en wysheid wat jy verwerf het saam met jou; soos die musiek op ‘n laserskyf vir altyd verlore gaan wanneer die skyf vernietig word.

Die Nobelpryswenner, Francis Crick stel dit so:” Die verbasende hipotese is dat “jy”, jou vreugde en jou verdriet, jou geheue en jou ambisie, jou sin vir persoonlikheid en vrye wil, in werklikheid niks meer is as die gedrag van ‘n groot hoeveelheid senuselle en aanverwante molekules nie.”

Op grond van hierdie uitdruklike wetenskaplike veronderstelling kan geen aspek van die mens na die dood voortbestaan nie. Berigte oor mense wat om onverklaarbare redes uit hulle liggame getree het, kan wetenskaplik net die ‘waar’ wees nie, omdat sulke gedrag net nie ooreenstem met die beginsel dat alle oorsake fisiek van aard is nie. Indien sulke verskynsels voorkom, moet dit die gevolg wees van fisieke oorsake, soos hallusinasies weens ‘n tekort aan suurstof in die brein.

Die tydskrif Nature het in 2002 bevind dat die illusie van uitrede juit die ligaam veroorsaak word deur ‘n prikkeling van die regter-gyris angularis, ‘n klein randgebied aan die agterlob van die brein. In Nederland het ‘n span medici, onder leiding van die kardioloog, dr. Pim van Lommel, egter ‘n studie van vier jaar onderneem om uit te vind watter van die gangbare teorië oor buiteliggaamlike ervarings  korrek is:

Dat dit veroorsaak word deur suurtsoftekort in die brein;

Dat dit ‘n sielkundige reaksie op die vrees vir die dood is;

Of dat dit ‘n euforiese reaksie is wat veroorsaak word deur die afskeiding van endorfiene en ketamine deur die brein, twee hormone wat ‘n mens goed laat voel.

Hierdie span navorsers het hul toegespits op pasiënte wat hartstilstand gehad het. Medies gesproke is dit ‘n ondubbelsinnige toestand, want mense met hartstilstand is klinies dood. Hul asemhaling hou op en daar is geen reflekse meer nie. Binne 15 sekondes is daar geen meetbare breinaktiwiteit nie.

Buite die hospital is daar weinig kans dat ‘n mens so ‘n hartstilstand sal oorleef. Binne ‘n hospitaal kan pasiënte egter elektries gestimuleer word om hul hartklop weer aan die gang te kry. Wanneer pasiënte se hart weer klop is hulle nog steeds bewusteloos en bly die breinfunksie nog ‘n rukkie vlak. Hulle kan ook nog nie spontaan asemhaal nie en hul asemhaling moet kunsmatig gestimuleer word. Soms slaag dit nie en is so iemand se korttermyngeheue permanent aangetas.

Vir hierdie studie het Van Lommel se span 334 pasiënte oor  bynadoodervarings uitgevra. Hierdie studie het aangetoon dat 18% sulke ervarings gehad het terwyl 82 persent geen ervarings kon onthou nie. Jonger mense en pasiënte wat voorheen al sulke ervarings gehad het, was meer geneig om sulke ervarings te hê as ouer mense.

Aangesien al hierdie gevalle suurstoftekort van die brein ondervind het, sou ‘n mens, indien die teorie van suurtsoftekort juis was, meer sulke gevalle kon verwag. Ook vrees vir die dood is uitgeskakel, deurdat hartstilstand so vinnig gebeur dat “iemand wat ‘n hartstilstand beleef nie tyd het om doodsangs te beleef nie, laat staan nog dit bestry deur deur middel van ‘n bynadoodservaring”, soos Van Lommel in die Britse mediese tydskrif, The Lancet, geskryf het.

Die bevindinge van Van Lommel se groep het soveel opspraak verwek dat The Lancet tans ‘n vyfjaar lange studie onderskryf, om meer oor bynadoodervarings te leer. Vir hierdie studie is daar selfs kassies teen die plafonne van sekere hospitale se teaters gebou, waarin voorwerpe geplaas kan word, sodat enige moontlike gevalle van uitrede tydens ‘n operasie na die tyd gekontroleer kan word aan wat die pasiënt alles waargeneem het.

Seker een van die heel merkwaardigste gevalle van ‘n “skyndood” en heldersiendheid wat daarmee saamhang, wat ooit beskryf is, is die geval van die NG-predikant, ds. Michiel de Kock, wat in 1919 in Port Elizabeth ernstig siek geword het en maande lank tussen lewe en dood in die hospital gelê het. In hierdie tyd het hy nie net “‘n reis deur die hel en die hemel” onderneem nie, maar was ook bewus  van wat in sy eie gemeente, Fouriesburg in die Vrystaat aangaan. So kon hy ‘n gebedsbyeenkoms beskryf wat deur ‘n swart kategeet, Jacob, gelei is en waar om sy herstel gebid is. Hy het ook ‘n insident beskryf waarby ‘n diaken betrokke was, en waartydens ‘n kas oogebreek moes word om ‘n sleutel te vind. Ook hoedat die plaaslike magistraat gesukkel het om sy (ds. De Kock) se belastingopgaaf in te vul.

Nog die bynadoodervarings van pasiënte met hartstilstand, nog ds. De Kock se heldersiendheid, kan volgens die huidige wetenskaplike paradigma verklaar word. Dit kan eenvoudig nie plaasvind nie! Tog is daar deesdae alhoemeer wetenskaplike “jukskeibrekers” wat nietemin bereid is om sulke verskynsels ernstig op te neem. So het die Nobelpryswenner, Dr. Roger Sperry, wat in 1981 die toekenning ontvang het vir sy navorsing oor die hemisfere van die brein, die wetenskaplike gemeenskap geskok toe hy in die selfde jaar in Annual Review of Neuroscience geskryf het:

Die huidige opvatting oor die brein-gees (mind brain) verteenwoordig ‘n direkte breuk met lank gekoesterde opvattings en materialistiese  en behaviouristiese dogmas wat die wetenskap vir dekades oorheers het. In plaas van bewussyn te verwerp of te ignoreer, wil die nuwe benadering juis erkenning verleen aan die innerlike bewussyn as primêre oorsaak van die werklikheid”.

Dit lyk of die kwessie van “bewussyn” veral bioloë in twee groepe verdeel: die groep wat vashou aan die ortodokse opvatting dat bewussyn die ‘oorsaak’ is van chemiese en neurologiese  prosesse en ‘n groter wordende groep ‘ketters’ wat selfs so ver gaan as om te glo dat bewussyn buite die ligaam bestaan (in die Kwantum- of Zero-veld) en dat die brein slegs ‘n ‘ontvanger’ is van inligting wat buite die liggaam ‘gestoor’ word.

So ‘n verskynsel sal byvoorbeeld die Britse bioloog, Rupert Sheldrake, se opvatting van ‘n “morfologiese veld”, waarin ‘n spesie se inligting gestoor word, onderskryf. Maar dit sal ook ‘n verklaring kan bied oor waarom mediums in gekontroleerde eksperimente soveel betroubare inligting oor oorledenes kon uitvind.

Terselfdertyd sal dit ‘n verklaring kan bied vir die resultaat van een van die vreemdste proefnemings wat ‘n gesoute Behavouris ooit gedoen het – die Amerikaner McDougal se eksperiment in die jare 30 van die vorige eeu, waartydens laboratoriumrotte onder water gelos is om te bepaal hoe vinnig hulle leer om die korrekte uitgang te vind. Terselfdertyd is ‘n lig by ‘n vals uitgang aangebring, waarheen die rotte aanvanklik almal eerste geswem het, net om te vind dat hulle gaan verdrink as hulle nie ‘n ander uitgang kan vind nie!

Soos vooraf verwag is het die rotte met elke probeerslag die regte uitgang vinniger en vinniger gevind. Wat egter vreemd was, was dat hulle nageslag presies begin het op die punt waar hulle ouers laas opgehou het en die geslag na hulle weer waar hulle opgehou het, sodat elke geslag die regte resultaat vinniger as die vorige geslag behaal het.

Hierdie eksperiment is later in sowel Australië sowel as Skotland gereplikeer, en elke slag het ook hierdie rotte begin waar die vorige geslag Amerikaanse rotte opgehou het, so asof die inligting oor hoe hulle dit moes doen ‘in die lug’ was!

Maar geen eksperiment kon meer bisar – en eties bedenklik- wees as die Amerikaner, Karl Lashley, se eksperimente met rotte nie. Hy was vasbeslote om vir eers en altyd vas te stel waar in  die brein  geheue gestoor word. Vir hierdie doel het hy ‘n groep rotte afgerig om oor ‘n reeks hekkies te spring tot by hulle beloning van kos. Die wat die prosedure verkeerd gedoen het, het in ‘n poel water geval. Daarna het hy sistematies dele van die rotte se breine begin vernietig om dit ‘uit te skakel’ as tuiste van die geheue. Hy was nie juis sensitief met die manier waarop hy dit gedoen het nie: hy het dit sommer met sy vrou se warm haarkruller afgebrand! Maar hoe hard hy ook probeer het, hy kon nie daardie plekkie in die brein kry nie. Die arme diere het hul liggame later met moeite voortgesleep, maar hulle het die pad nie vergeet nie!

In Sal ons nog droom as ons dood is? plaas ek telkens die wetenskaplike opvatting (hetsy ortodoks of onortodoks) teenoor goedgedokumenteerde gevalle van buiteliggaamlike ervarings, heldersiendheid en selfs gedokumenteerde gevalle van vermoedelike reïnkarnasie, waarvan daar veel meer gedokumenteer en ondersoek is as wat ‘n mens aanvanklik sal vermoed. Dit is vir die leser self om te besluit wat “waar” is.

Maar dat daar “iets” aan die gang is reeds baie duidelik.

Piet Muller se boek Sal ons nog droom as ons dood is? kan by Boekblik bestel word en sal per pos aan jou besorg word. Verdere gesprek oor die onderwerp kan ook op Kletsklerk se forum gevoer word HIER

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

Comments are closed.