Quo Vadis: ‘n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA

ehrman voorblad web

Deur Jurie van den Heever:

Die internasionaal-bekende Nuwe-Testamentikus, Bart Ehrman, noem in sy boek Jesus Interrupted  (2009) dat die Bybel nie net die topverkoper en die mees gelese boek in die geskiedenis van die Westerse beskawing is nie, maar dat dit ook dié boek is wat, veral deur die gewone leser, ten diepste misverstaan word.

Ehrman skryf boeiend oor Jesus en alhoewel sy styl populêr is, is die verhaal gegrond op die navorsingsbevindings van Bybelwetenskaplikes. Hy noem spesifiek hoedat argeologiese ontdekkings, die studie van Grieks en Hebreeus waarin die Bybel geskryf is en historiese en tekstuele analises oor die afgelope tweehonderd jaar, Bybelnavorsers in staat gestel het om met toenemende noukeurigheid die ryk ontstaansgeskiedenis en die werklike betekenis van die Bybel te ontrafel.

Volgens Ehrman is daar, in die Verenigde State alleen, duisende navorsers wat hieraan meedoen. Hulle navorsingsresultate vorm deel van die onderrigmateriaal van studente en voornemende predikante. Tog is die grootste gedeelte van die Amerikaanse bevolking salig onbewus van, of onkundig oor, hierdie navorsing. Hy vermoed dit is omdat professionele Bybelwetenskaplikes, nie die nuwe bevindings op ‘n verantwoordelike manier aan die publiek deurgee nie, en ook omdat predikante, wat wel oor die inligting beskik, om een of ander rede, dit nie met hulle gemeentes deel nie.

As `n mens luister en lees hoe Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes soos Sakkie Spangenberg, wat wel hierdie bevindings oor die Bybel bekendstel, deur onkundiges verguis word en hoe die Bybel deur geleentheidsprekers soos Angus Buchan en die plastiekpredikante van die radiogolwe misbruik word, lyk dit of dieselfde toestand in Suid-Afrika heers.

Dat die Bybel nie `n wetenskaplike handboek is nie en dat dit deur mense geskryf is, word vandag allerweë erken. Kerke is egter tradisioneel uitgesproke oor die onfeilbaarheid van die Bybel, wat hulle die Woord van God noem. Die Bybel word gevolglik steeds deur sommige predikante en baie gelowiges voorgehou as `n goddelikgeïnspireerde teks vol waarhede oor die Skepper en die doen en late van Jesus. Dat dit beslis nie die geval is nie, word gewoonlik verswyg.

Ehrman maak die belangrike punt dat die evangelies dikwels chronologies gelees word. Vandaar die idee dat dit een naatlose geheel vorm. As die evangelies egter parallel gelees word en die verskillende skrywers se weergawes van spesifieke gebeure, veral met betrekking tot die Jesus-verhaal, vergelyk word, staan die teensprake en foute duidelik uit.

Sakkie Spangenberg toon in sy jongste boek, Jesus van Naseret (2010), hoekom hy een van die voorste Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika is. In soepel Afrikaans word meer as vier eeue se navorsing oor die Ou en Nuwe Testament onder die vergrootglas geplaas en saam met sy eie insigte, elegant saamgevoeg tot `n rasionele en ewewigtige basisdokument vir ’n nuwe hervorming. Op grond van al hierdie inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte met ons moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is. Die tyd is ook verby dat kritici gemuilband kan word deur te beweer dat hulle die Bybel nie verstaan nie, of dit nie reg lees nie, of dat hulle nie gelowig is nie.

Sommiges neem selfs die posisie a lá Adrio König in (Ek Glo die Bybel – Ondanks al die Vrae, 2003) deur te verklaar dat hy die Bybel in elk geval glo, ten spyte van al die ongerymdhede. Om so kop in die sand te steek, los  niks op nie.

Baruch Spinoza (1632-1677) was die eerste geleerde van naam wat die Bybel bestudeer het as `n historiese geskrif waarvan die identiteit van die outeurs onseker was en waarvan die teks die intellektuele beperkings van die tyd weerspieël het.

David Friedrich Strauss (1808-1874), `n Duitse teoloog veroorsaak in die eerste helfte van die negentiende eeu ‘n opskudding met sy boek Das Leben Jesu Kritisch Bearbeit (= Die lewe van Jesus krities beskou). Aan die hand van die Bybel, die enigste bron oor die doen en late van Jesus, toon hy o. a. aan dat Jesus `n gewone mens was. Die boek was ‘n sensasie maar het Strauss se loopbaan vernietig. Volgens een resensent was dit “die Iskariotisme van ons tyd” terwyl `n ander dit verdoem het as: “…die mees verpestelike boek  wat die kake van die hel nog ooit gebraak het..,”.

Sederdien het talle teoloë wat eerliker met die teks wou omgaan, hulle telkemale in die onversetlike houding van kerke vasgeloop. Enkele bekende gevalle sluit Albert Schweitzer (Duitsland), Ds Geelkerken (Holland), Biskop Colenso (Suid-Afrika), J.A.T.Robinson (Engeland), Johannes du Plessis (Suid-Afrika), Ferdinand Deist (Suid-Afrika), Willem Moore (Namibië) en Sakkie Spangenberg (Suid-Afrika) in.

Met Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret en Willie Esterhuyse se onlangse publikasies, God en die Gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010) word die Bybel, en in die geval van Spangenberg, veral die persoon Jesus, histories binne konteks geplaas. Ons kerke kan en mag hierdie inligting nie langer ignoreer of verdoem nie. Dit verteenwoordig ‘n waterskeiding in godsdienstige literatuur in Afrikaans en behoort verpligte leestof te wees vir alle katkisante en elkeen wat hom of haarself ‘n Christen wil noem.

Ten spyte van waarskuwings deur teoloë soos Frits Gaum (Woordfees, Stellenbosch, 2011) dat lidmate net nie meer tevrede is met die tradiononele dogma, wat Bybelstories, wat deur mense geskryf is, steeds opdis as goddelike uitsprake wat onaantasbaar en vir ewig waar is. Hulle begin twyfel aan die eerlikheid en openheid van kerke en hoe die ampsdraers met die bediening omgaan. Afgesien van die feit dat die Bybel geen sinvolle verklaring vir die problem van lyding bied nie, begin sommige lidmate besef dat daar al lankal toenemend ernstige vrae rondom die persoon van Jesus gevra word.

Enkeles hiervan is hoe hy van Dawid kan afstam as as hy nie ‘n biologiese pa gehad het nie. Hy is glo uit ‘n maagd gebore maar beide sy geslagsregisters (wat van mekaar verskil) sluit Josef as sy biologiese pa in. Sy voorspellings (Matteus 16: 27-28, 23:36, 24:34 en 26: 64, Markus 9:1, 13:30 en 14:62, Lukas 9:27) was verkeerd en boonop het hy nooit slawerny verdoem nie. Spangenberg wys tereg daarop dat hy ten beste ‘n Joodse wysheidsleraar was. Die Jode en die Moslems weet dit al lankal. Aan ons word hy egter steeds voorgehou as ‘n God, of God se Seun, die Tweede persoon van die Drie-eenheid.

Pieter Botha (Die Nuwe Hervorming, 2002) wys daarop dat Jesus nie `n Christen was nie, maar `n Jood en nie Grieks, maar Aramees, gepraat het. Hy is vernoem na Josua en sy volgelinge het hom rabbi Jeshua genoem. Dit plaas die gesprek tussen Jesus en Nikodemus oor die wedergeboorte (Joh 3), onder verdenking. Volgens Ehrman werk die gedagte van `n wedergeboorte net in Grieks, waar die woord meer as een betekenis het. Jesus en Nikodemus het Aramees gepraat, `n taal waar die woord slegs die een voor die hand liggende betekenis het.

Dit gaan `n toenemend ongemaklike situasie tydens eredienste skep wanneer predikante die geloofsbelydenis resiteer en ingeligte lidmate reeds weet dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit ‘n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie.

Christo Lombard verwys in die boek van Willie Jonker, Die Relevansie van die Kerk (2008), na Jaap Durand wat voel dat ons in die post-Verligtingsyd die knie gebuig het voor die eendimensionele rede van die logika en daarom die dieper dimensies van ons bestaan verwaarloos. Logika was egter nog nooit eendimensioneel nie en indien die dieper dimensies van ons bestaan bloot na die tradisonele benadering tot godsdiens verwys, is dit miskien tyd om logika `n kans te gun.

Volgens Lombard het daar sedert die Verligting `n soort Ortodokse speelruimte ontstaan waarbinne sinvol oor God gepraat kan word. Indien ons daardie speelruimte verlaat, om „…`n suiwer redelike sfeer vir die gesprek oor God te skep, …“ loop ons, volgens hom, die gevaar : „om die betekenis van ons hele bekende wêreld te verloor.“

Dit is egter so dat die betekenis van ons bekende wêreld en hoe moreel ons daarin optree, nie noodwendig van godsdiens of die Bybel afhanklik is nie. Daarvoor is die tronke te vol Christene. Sam Harris wys in The Moral Landscape (2010) juis daarop dat lande soos Denemarke, Swede, Noorweë en Nederland, wat die mees ateïstiese samelewings in die wêreld verteenwoordig, moreel en eties by verre beter vaar as sogenaamde godsdienstige nasies.

Ingeligte lidmate beskik tans oor `n enorme hoeveelheid inligting oor die Bybel en die destydse sosio-politieke klimaat van die Ou Nabye Ooste en kan nie meer, soos voorheen, met ex cathedra uitsprake gestuit word nie. In die lig van die ernstige daling in die bywoning van eredienste sal dit interessant wees om te weet hoeveel mense vanweë kulturele oorwegings steeds lidmate van byvoorbeeld die NG Kerk is, maar nie meer eredienste bywoon nie, omdat hulle spiritueel reeds ligjare verder as die kerkers van die “ortodokse speelruimte” dink. Gesien die feit dat geloof in een of ander vorm steeds die middelpunt van baie mense se bestaan vorm, wonder `n mens onwillekeurig of die tradisionele Kerk hoegenaamd nog vertrou kan word binne die geestelike speelruimte. Julian Müller (Om te Mag Twyfel, 2011) stel dit treffend as hy sê dat die kerke hulself in die oë van die moderne mens as gespreksgenoot gediskwalifiseer het.

Tipies is die reaksie van Amie van Wyk (Die Kerkblad, 2010) wat nie ooghare vir die Jesus van die Nuwe Hervorming het nie. Hy is beswaard dat deurwinterde teoloë Jesus in perspektief plaas en beweer, onder andere, dat die Teologie van die Nuwe Hervorming geen hoop vir die toekoms bied nie. Gesien in die lig van die onjuisthede oor Jesus en die Bybel wat deur die eeue en nog steeds aan ons as die waarheid voorgehou word, is dit ‘n vreemde stelling. Net so is die geestelike bevryding en werklike hoop wat die Nuwe Hervorming adem, vir hom klaarblyklik `n geslote boek.

In sy nuwe boek Fluit Fluit die Kerk is Uit? (2011) reken Frits Gaum dat dit vir die NG Kerk teoreties maklik behoort te wees om jammer te sê vir die foute van die verlede. “Wanneer dit om berou gaan, moet die kerk waaragtig berouvol wees, anders beteken die lippetaal niks nie.“ Hy steek egter vas by onderwerpe soos apartheid, die rol van die vrou en homoseksualiteit.

Of die Christelike kerke in die breë en in die besonder, die gereformeerde kerk, ooit berou gaan toon oor die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word, is `n ope vraag. Deur eerlik te erken dat Jesus `n mens was, sal nie die einde van die Christelike geloof beteken nie. Die Jode weet dit al duisende jare en dit doen nie afbreek aan hulle ryk kulturele erfenis nie. Trouens, dit sal waarskynlik die deur open vir die groter medemenslikheid en liefde hier op aarde waarvoor Gaum in sy boek pleit.

Johan Janse van Rensburg (Rapport 20/3/2011) probeer walgooi deur te vra: “Waarom in die openbaar kritiek op die kerk uitspreek?” Godsdiens is juis `n kultuuraktiwiteit wat elke Sondag en by vele ander geleenthede in die openbare oog afspeel. Dit maak aanspraak op ewige waarhede en skryf aan mense voor hoe hulle in die openbaar behoort op te tree en op watter maniere hulle by openbare kwessies betrokke behoort te wees. Die stelsel word begrond in `n denkraamwerk wat o.a. Jesus as God defineer. Amie van Wyk (In die Skriflig, 2003) erken byvoorbeeld openlik dat standpunte soortgelyk aan dié van die Nuwe Hervorming al sedert die vroeë Christendom in omloop is. As dit waar is en die kerke swyg steeds daaroor, is dit des te meer rede vir `n openbare debat.

Janse van Rensburg beweer ook dat die fundamentalisme in die NG Kerk nou besweer is. In plek daarvan identifiseer hy vrysinnigheid as die huidige gevaar en vra ewe besorg: „Wie wil nou deel van `n kerk wees wat van niks meer seker is nie?“

Dit is bloot `n retoriese foefie. Gesien teen die agtergrond van `n kwynende kerk, is die korrekte vraag: Wie wil nou deel wees van `n kerk wat nie die waarheid praat nie?

(Dr Jurie van den Heever is ‘n paleontoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenosch en mede aanbieder van die program Hoe verklaar u dit wat Sondae oggende op RSG uitgesaai word) 

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

22 Responses to Quo Vadis: ‘n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA

  1. Chris Nel says:

    Wanneer gaan die skrifgeleerdes ontdek dat die Nuwe Testament nie in Grieks geskryf was nie?

    Miskien moet ons so ‘n draad begin om daaroor te debateer?

  2. Wessel Wessels says:

    Goeie artikel. Ek stem saam dat daar baie dinge is wat Teoloë nie aan die kerk bekend maak nie en hierdie artikel daag verseker uit, maar hierdie artikel is nie konsekwent nie. Dieselfde maatstaf waarmee julle die Teoloë meet, moet hierdie artikel ook gemeet word. Ja, dit is so dat Joh 3 baie Griekse inspraak het en dat Jesus Aramees gepraat het. Maar wat van die Hellenistisering van die hele bestaande wêreld onder Alexander die Grootte in 300 v.C?

    Ja, die Evangelies het baie onsamehangendhede, maar die al VIER Evangelies maak groot opslag daaroor dat Christus geleef het, gesterf het en opgestaan het. Verder moet ons ook in ag neem hoe skaars papirus was in die eerste eeu. Geskiedenisse oor selfs die Keisers (die magtigste mans in die bestaande wêreld) was beperk. Suetonius, Tacitus en Cassius Dio was byvoorbeeld die enigste skrywers wie se werk ons van weet oor Keiser Nero (Keiser 54-68 AD). Die belaglikheid daarvan dan dat ‘n gewone, arm, Jood se lewe deur VIER skrywers neergelê sou word, wat almal ooreenstem dat hy gelewe, gesterf en (belaglik genoeg) opgestaan het, moet ons in ag neem.

    Van al die Teoloë wat so bewus is van Jesus wat nie bestaan het nie, behalwe wie hierbo genoem word, weet niemand van nie, inteendeel, ‘n Teoloog soos Karl Barth, wat as een van die beste Teoloë van die 20ste eeu gesien word en a.g.v. sy geloof onder Hitler uit Duitsland verban is, stel juis die teenstand, in sy Kirchliche Dogmatik (Church Dogmatics) is Christus deurgangs vir hom ‘n werklikheid in lewe, dood en opstanding. ‘n Meer kontemporêre Teoloog, Gary Habermas, stel in die ondergenoemde bronne dat die oortuiging van die dissipels oor Christus se opstanding ‘n bewys daarvan is. As jy mooi verstaan het die dissipels, almal behalwe Johannes (volgens kerklike oorlewering), gesterf omdat hulle geglo het Jesus het opgestaan. Dit word verder versterk soos skeptici van die opstanding, Paulus en Jakobus (Jesus se broer) wat na hulle die opgestane Jesus gesien het, geglo het.

    Habermas stel dat natuurlike voorstelle vir die sien van ‘n opgestane Jesus nie volhou word nie. Bv. hallusinasie kan nie deur ‘n groot groep terselfdetyd ervaar word nie en mens hallusineer nie oor iets wat jy nie WIL hê nie, soos in die geval met Paulus oppad na Damaskus.

    Habermas stel ook dat daar voor Christus geen mites voorkom van ‘n persoon wat uit die dood opgestaan het nie, nadat hy alreeds drie dae in ‘n graf was nie en daarom is dit nie van mites geneem nie.

    Verder kan ek ook iets sê oor New Atheism (met verwysing na Sam Harris) is die lande wat hy noem, voorheen Christen lande en het Nietzshe (wat sommige as die vader van die Atheism beskou) gestel dat ‘n ware Atheist samelewing geen etiek kan hé nie. (volgens Haught (2008), kyk bronne). Dus sal Harris daardie boek dalk weer in ‘n generasie of twee wil oorskryf en dan kan ons sien wie reg was, hy of Nietzshe.

    Weereens wil ek sê ek stem regtig saam dat die mense in die kerk nie bewus is van baie foute in die Bybel nie, Karl Barth het die onfeilbaarheid van die Bybel teengestaan. Moses het nie die Pentateug geskryf nie. Baie NT boeke was nie geskryf deur die wie se name daar verskyn nie, maar omdat sekere dinge nie mooi saamhang nie, beteken nie ALLES is onwaar nie, die Bybel kan en moet nes enige ander antieke geskrif bestudeer word, wees tog konsekwent….

    - Bronne

    Habermas, GR. (2007). Does the Disciples’ Conviction That They Saw the Risen Jesus Establish the Truth of the Resurrection? In: Cabal, T., Brand, C. O., Clendenen, E. R., Copan, P., Moreland, J., & Powell, D. The Apologetics Study Bible: Real Questions, Straight Answers, Stronger Faith (p. 1628). Nashville, TN: Holman Bible Publishers.

    Habermas, GR. (2007). Can Naturalistic Theories Account for the Resurrection? In: Cabal, T., Brand, C. O., Clendenen, E. R., Copan, P., Moreland, J., & Powell, D. (2007). The Apologetics Study Bible: Real Questions, Straight Answers, Stronger Faith (p. 1621). Nashville, TN: Holman Bible Publishers.

    Habermas, GR. (2007). Are Biblical Miracles Imitations of Pagan Myths? In: Cabal, T., Brand, C. O., Clendenen, E. R., Copan, P., Moreland, J., & Powell, D. (2007). The Apologetics Study Bible: Real Questions, Straight Answers, Stronger Faith (p. 1430). Nashville, TN: Holman Bible Publishers.

    Haught, JF 2008, ‘Amateur atheists: why the new atheism isn’t serious’, Christian Century, 125, 4, pp. 22-23, ATLA Religion Database with ATLASerials, EBSCOhost, viewed 29 July 2011.

  3. Jan Smith says:

    Ten spyte van al die negatiewe kommentaar, gewysigde teksuitlegte, spottery, ens bly die Bybel ‘n merkwaardige boek. Meer as veertig skrywers (uit verskillende agtergronde) oor ‘n periode van 1400 jaar het ‘n boek tot stand gebring wat seker die meeste ander geskrifte tot gevolg gehad het. Voorbeelde is: Systematic Theology van Augustus Hopkins Strong 1907 met 1166 bladsye. Matthew Henry’s Commentary in one volume 1708 met 1986 bladsye. En vele meer. Skielik beskik bybelwetenskaplikes oor die vermoë om deur middel van slegs enkele woorde die ganse Skrif en die inhoud daarvan as “bybelstories en mites” af te maak. Die skrywers van die Bybel het vooraf reeds van hierdie mense geweet want vir die atheis sê hy jy is ‘n dwaas as jy sê daar is geen God nie. Hy wil ook weet waar bly die redetwister van hierdie eeu as God die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak het. Die luiaard kan by die mier gaan leer om te werk. Dood en lewe is in die mag van die tong – soos wat jy praat so is jy! Eintlik is die woord van God lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard want dit bring skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. Dus ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word.
    My standpunt is dat as die geagte geleerdes wat die bybel so uitmekaar trek minder tyd aan kritiek moet afstaan en liewer hulle “bybel” soos wat die Bybel eintlik moet lees beskikbaar stel. Hiervoor wag ek al so 20 jaar maar tot dusver het nog niks hiervan gekom nie behalwe , met alle respek (sic!) ‘n sporadiese gepiep uit die grond met ‘n stem soos die van ‘n afgestorwene vgl Jesaja 29: 4.

  4. jianni says:

    “Deur eerlik te erken dat Jesus `n mens was, sal nie die einde van die Christelike geloof beteken nie. Die Jode weet dit al duisende jare en dit doen nie afbreek aan hulle ryk kulturele erfenis nie.” Ek kan nie glo wat ek lees nie! Dit is seker ‘n pluspunt van die post-moderne era waarin ons leef, dat die kaf baie duideliker van die koring geskei word! As ons oor geloof praat, praat ons nie oor ‘n “ryk, kulturele erfenis nie” nie, ons praat oor ‘n persoonlike verhouding met die opgestane Jesus wat in alle fasette van ons mens-wees gestalte kry. Intellektuele praatjies verveel later, maar geloof in Jesus Christus is ‘n dinamiese, bruisende, afhanklike verhouding wat jou meer naief en meer ryp, meer kinderlik en meer volwasse, meer gebroke en meer sterk, meer dom en meer wys maak.

  5. GSM says:

    Die Heilige Gees kan geen teologiese standpund voed nie. Die Gees is bloot die Hebreeuse RUAG wat maar net wind beteken. So eintlik kan mens die Heilige Gees maar in sy moer stuur.

    • Gerhard says:

      Jy moet nie so praat nie, jy speel met vuur. Die verborgenheid is gevaarlik as jy dit nie ken nie. Daarom klink alles vir jou so deurmekaar omdat die mens deur leuens vergiftig is.

  6. Emwee says:

    Die geloof en die geskiedenis raak alhoemeer interessant en dis net n kwessie van tyd totdat geleerdes tot die besef sal kom dat die karakter Jesus die Christus nooit werklik bestaan het nie. Meer en meer begin vrae vra rondom die bewyse dat Jesus wel in ons midde was en daar is geen bewyse daarvoor nie.

    Artikels soos die sal die saak aanhelp na die verlore soeke na die “Verlosser.” Goed gedaan!!

    • Gerhard says:

      Hier is jou antwoord. Daar was nie so iemand as Jesus christus nie. Die messiah het nie so naam gedra nie. Die messiah het bestaan. Maar nie onder daardie naam nie. Die naam is deur Rooms opgemaak omdat hulle god se naam Zeus was. Nou bid almal daardie valse naam. Elk geval bid ‘n mens nie vir die seun. Hy was geen God. Die christendom dwaal grootliks. Hulle is vas aan die slaap.

  7. Johann says:

    Uitstekende artikel.
    @ Tom: Dit is Tom se goeie reg om te glo soos hy wil. Om hom egter selferkennend irassioneel op die “Heilige Gees” te beroep is gewoon onnosel, maar nou ja, met mense wat in spoke of ‘n “Spook” glo kan niemand mee stry nie.
    @ Jacomi: Dit is Jacomi se goeie reg om selektief te gebruik uit die “Bybel” slegs dit wat vir haar nuttig is, maar haar vrese dat sy liewer glo as om eendag te ontdek die hel bestaan maak my banger as die “hel” self ;)

    Dit is egter baie “great” dat julle ten minste oor hierdie dinge dink en ook bereid is om julle menings te waag.

  8. TOM STRYDOM says:

    Enige teologiese standpunt wat nie in diens staan van die Heilige Gees is nie, lei tot dwaling. In geeneen van die verwante geskrifte word daar na die leiding van die Heilige Gees verwys in die soeke na waarheid nie ooreenkomstig Joh 14:17 en Joh 16:13. Ja ek gebruik die skrif om die skrif te verdedig. Tragies dat die Christenvolk so maklik verlei word na ‘n “ander evangelie” toe omdat hulle onkundig is oor die praktiese dinamika van die Heilige Gees maar hoe kan hulle dan ook as dit nie vir hulle vanaf die kansel geleer word nie en hoe kan dit dan vanaf die kansel geleer word as die predikers self daarin onkundig is. My standpunt is nie gebaseer op teologiese beredenering nie maar eerder op praktiese daadwerklike ondervinding. Ek ken die persoonlike ervaring van onmiddellike genesing deur die Heilige Gees krag van gebed en ek is ook bewus van ander genesings deur gebed. Op halloweennag in die verlede het ek ‘n middernagtelike oproep ontvang om te kom help want “daar is moeilikheid”. Sonder enige teologiese voorbereiding het ek in die motor gespring daarheen met slegs een gebed op my lippe …….”kosbare Heilige Gees vannag het ek jou nodig”. ‘n Uur later daardie nag is die oorwinning behaal en kan ek in verwondering saam met die dissipels uitroep soos in Luk 10:17. “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam”. Dus stel ek nie belang in ‘n nuwe teologiese debat nie want ek weet wat ek weet omdat ek dit self ervaar en beleef het. Ja sonder die kennis en ervaring van die Heilige Gees is die kerk inderdaad fluit fluit uit en as die kerk nie seker is van die Heilige Gees nie, dan is daar geen kerk nie.

    • Gerhard says:

      Daar is net Een geloof se die skrif wat net uit een evangelie bestaan wat uit verborgenheid bestaan. Wat verkondig die kerke dan van dag. Die verkeerde evangelie.

  9. Braam Oberholzer says:

    Hoe lank nog voor ons wakkerskrik uit ‘n derde eeuse droom van ‘n konstantynse god wat instaan vir ons immorele vergrype? Een enkele skietgebed en die prys is betaal en die kruis gedra – nee regtig????

    • Gerhard says:

      Jesus naam kom van Rooms en ook het konstantynse die christendom gestig. Die messiah was nie christen nie.
      Mense verstaan nie die skrifte nie. Daar is ‘n verskil tussen die seun van die Vader en die seun van Dawid.

  10. sarie says:

    Uitstekend. Dankie. Nog, nog!

  11. Edward Foster says:

    Deeglik, deeglik deurdink, op die man af en sonder foeofies, dankie Jurie dis soos ek jou al die jare ken. Die probleem is dat die Kerk in die algemeen en meer spesifiek die NGKerk se predikante al soveel jaar hulle skuldig maak aan oneerlikheid hoofsaaklik deur versuim om die waarheid te verkondig dat dit vir die meeste van hulle ‘n onmoontlike taak is om nou om te keer en te erken dat hulle al die dinge geweet het maar dat hulle dit uit vrees vir die gevolge nooit verkondig het nie.

    • Gerhard says:

      Hulle ken nie waarheid nie. Wat nog van die verborgenheid. Ek ken die verborgenheid, glo my mense sal skrik wat die verborgenheid se.

  12. Fantastiese artikel, dankie!
    Ek het nog altyd geglo dat baie van die dinge wat in die kerk gebeur, juis die skuld van die kerk self en haar predikante is. Ek streef om in my bediening op ‘n sensitiewe, tog verantwoordelike wyse, eerlik te wees oor die bg dinge. Ek glo dit skep ‘n klimaat waarbinne lidmate veilig voel om hulle twyfels, vrae ens te deel. Mag die kerk besin en nuut dink oor Woordverkondiging, pastoraat en dies meer. Mag ons hande vat en in liefde ons weg saam vind.

    • André Louw says:

      Dankie, Renier. Jy wys die pad aan. Die predikante sal met liefdevolle verdrag moet loswikkel uit die sosiale rol wat van hulle verwag word om te speel. Die teoloog se dae is getel en die wysheidsmeester wat eklekties uit alle bronne put, se uur het aangebreek.

  13. Uitstekende artikel. Deeglik, duidelik en verstaanbaar verwoord.
    My opinie oor die saak: Baie dominee’s weet wat hier staan is waar, maar wanneer hulle dit gaan verkondig verloor hulle hul werk. Is dit nie maar waaroor dit gaan aan die einde van die dag nie, my salaris vir my eie en gesin se voortbestaan nie.
    Meeste predikante is mislei as kinders toe hulle hul “roeping” gekry het, is verder mislei deur sekere dogmas op Universitiet, het ure en baie geld spandeer vir n lang en ingewikkelde graad, nou het hulle ‘n job – ek dink nie dit is baie sensitief om van hulle te verwag om nou te gaan verkondig wat die lidmate nie wil hoor nie.

    • Jacomi van der Merwe says:

      Wel, ek is geensins ‘n ekspert op die feitelike geskiedenis van die Bybel of ‘n teoloog of een of ander -loog nie.. net ‘n gewone mens wat nooit iets anders sal glo as dat Jesus wel dalk as mens gebore (kon) wees, maar beslis as Seun van God opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Selfs die idee dat Hy liefgehad het, getroud was en dalk kinders gehad het, is nie vir my verregaande nie. Maar daarsonder (die kruisiging en opstanding) is daar vir my geen waarde as gelowige aan die Bybel nie, dan kan ek netsowel geskiedenisboeke verslind.
      Ek ken nie Hebreeus, Grieks of Aramees nie en het nog nooit ‘n vertaling bestudeer wat naastenby die oorspronklike semantiek van die geskrifte uitlê nie – ek getuig my geloof dus as totale teologiese leek, as ‘n gewone pleb wat die krag van God in my lewe ervaar op baie maniere.
      Ek beskou myself nie as (te) kortsigtig as dit by geloof kom nie en is ook nie ‘n gereelde kerkganger.. die punt genoem is vir my ook waar, dat ek voel my ervaring van en denke oor God is verder “gevorder” as die meestal beperkte idees van kerke.
      Hierdie is net my opinie as gelowige, nie om enige iemand uit te daag tot ‘n bekgeveg of feitelike debat nie.. dit doen my geloof geen skade om te glo dat Jesus die Seun van God is nie, ek sou eerder sterf en uitvind dat ek verkeerd was hieroor, as dat ek sterf en uitvind dat Pieter Botha (en wieookal) verkeerd was.
      Groete en soos die oumense sê, vrede :)

      • Gerhard says:

        Jacomi van der Merwe jy is reg, die Vader het al die se, en nou wil mense jou probeer leer wat die bybel se. Maar ek het nuus vir hulle. Die opstanding dat die messiah uit die graf opgestaan het is nie bybels nie en dat daar geen skrif befesting is nie. Die bybel se geen mens kan uit die dode opstaan nie. Hulle verstaan nie die verborgenheid nie. Toe die messiah se hy sal na drie dae opstaan het hy nie verwys na drie dae nie. Die vertalers het somer hulle eie denke daar in gesit. Die messiah het in ‘n verborge taal gespreek. Hy het nie ‘n reguit antwoord gegee nie, as jy agter kom het. Hy het van drie tydperk gespreek wat ‘n vooruit wysing was. Mense het alles letterlik op geneem en almal het soos dwalende skape agter mekaar aan gehardloop. Die woorde wat die messiah gespreek het was nie sy woorde nie maar die Heilige Gees sin. Hy het net die woord gespreek wat in Gen.2:1-2. gespreek is. Die 3 dae en die 7 dag beteken die selfde ding. Die een is 7 tydperke en die ander een is 3 profetiese tydperke. Altwee is die selfde. Een is die tipe en die ander een is die proto- tipe. Die twee getuienise.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>