Die Geloofsbelydenis van Schaapenberg

Creed-apos

Deur Bertus van Niekerk:

Geskryf na aanleiding van Jurie van den Heever se “Ope brief aan die Gereformeerde Kerke in die RSA” soos gepubliseer op Kletskerk se webwerf en as reaksie op jare se gesprekke in die kerk oor die opstel van ʼn eietydse geloofsbelydenis.

Ek glo in een uitspansel, die ruimte van hemel en aarde en van alle sienlike en onsienlike dinge

en in een lewe wat oorvloedig vloei uit kosmiese energie waarvan ons die tyd en omvang nie besef nie

lewe is lig: waaragtig verwek, nie gemaak nie, een in wese met die heelal

waaruit alle dinge ontstaan het

wat ook tot voordeel van my, ‘n mens, en ten bate van my voortbestaan verspreid voorkom, wat voed en inspireer

wat gees en liggaam op ‘n verskeidenheid maniere verbind maar tog vlietend, broos en verganklik is en dikwels deur mense vernietig en geminag word totdat dit uitsterf

om weer opgeneem te word in die geslote sisteem wat hierdie planeet omvou

wat my organies en sonder onderskeiding elke dag omhels; ook die res van alles wat nog bestaan of reeds dood is

waarmee die fassinasie geen einde sal hê nie

En in ‘n kollektiewe bewussyn, wat respek en aanvaarding kweek, wat essensieel is tot almal se voortbestaan en gewaardeer en gekoester moet word, wat deur waardiges voorgeleef word

Ek glo aan een kosbare, gelyke mensheid gegrond op wedersydse waardering van verskille

Ek bepleit die besef van hoe kosbaar elke oomblik en hoe uniek elke belewenis is

Ek smag daarna om hierdie waardes uit te bou totdat ek sterwe en

Ek begeer om ook vandag geakkommodeer te mag voel

Bertus van Niekerk

16 Augustus 2011

Natuurlik is ek moetswillig om spesifiek die Niceanum as matriks vir my eie belydenis te gebruik. Ek was net so moetswillig om spesifiek nie êrens in my belydenis van ‘n transendente figuur of konstruk melding te maak nie. Na my mening is gestolde belydenisse deel van die rook wat ons oë só laat traan dat ons nie meer ons gespreksgenote kan akkomodeer nie en nie meer kan onderskei wat eietydse spiritualiteit goed kan verwoord nie. Dus: bêre die gestolde belydenis in die kas, saam met ander kosbare items uit ons erfenis.

Maar juis dít, juis die gestolde belydenisse en die kosbare erfenisse in ons kaste vorm die kettings wat aan die denke vas is binne tradisionele kerke. Vir dekades reeds is daar komitees wat deur sinodes opdrag ontvang na die opstel van sogenaamde eietydse geloofsbelydenisse. Die komitees rapporteer feitlik sonder uitsondering terug dat daar nie eenstemmigheid onder lede was oor wat nou eintlik die inhoud van ‘n eietydse belydenis moet wees nie – laat staan nog die bewoording daarvan. Dan is daar natuurlik die ekstra komplikasie dat verskillende kerke oortuig moet word om mekaar se geloofsbelydenisse te onderskryf, selfs al staan hulle organisatories nie te ver van mekaar af nie. ‘n Goeie voorbeeld is die gesprek oor wat die status van Belhar in die NG kerk behoort te wees. Dié gesprek duur al meer as twee dekades en word nou eers behoorlik warm.

Gevolglik klink gesprekke tydens sinodale sittings baie tentatief: geen afgevaardigde of akademikus wil homself só afgrens in ‘n belydenis dat hy homself ostraeer van die res van die vergadering nie. Wat die essensie behoort te vorm van groot kerkvergaderings (geloofsleer) word dan dikwels ‘n gerondvallery oor die status van ou belydenisse en tot watter mate hulle oop is vir interpretasie. Dis besonder ironies dat gesprekke oor die gebruik van gesonde, akademies-aanvaarde hermeneutiese beginsels om die Bybel uit te lê, deur paranoïese groepe gekortwiek word wanneer dieselfde beginsels op die lees en verstaan van geloofsbelydenisse van toepassing gemaak wil word.

‘n Goeie voorbeeld van hoe duisende jare oue teks deur ‘n minderheidsgroep beswaardes gebruik word om die tweede grootste Afrikaanse kerk in ‘n buitengewone sinodesitting in te dwing, is besig om hom in die Hervormde Kerk af te speel. Dié groep beswaardes gaan juis in Oktober poog om baie ou belydenisse te gebruik om die kerk te oortuig dat haar onlangse besluit dat apartheid sonde is, die geloofsinhoud van die kerk bedreig. Wedersydse verdagmakery in beide kampe is so duidelik op die kerk se amptelike Facebookblad dat die administrateur van die blad deelnemers aan die gesprek gereeld moet herinner aan die etiese kode van die blad en dat dit nie gelowiges betaam om mekaar ad hominem-beledigings toe te slinger nie.

Só diep sny die verskille tussen kampe in kerke, dat lidmate in ekstreme gevalle die kerk eerder verlaat as om teen hulle gewete in voort te gaan om soos die kerk en saam met die kerk waarin hulle grootgeword het, hulle geloof te bely. Súlke verloopte lidmate beskou hulleself dan soms as “soekers”, want dikwels het hulle steeds ‘n diep spirituele behoefte, maar hulle kan nie meer struktureel beaam wat die kerk bely nie. ‘n Goeie voorbeeld ‘n voormalige predikant wat hiérdie paadjie geloop het, is Pieter Cilliers, wie se boek Soeker  juis oor ʼn eens gelowige se disassosiasie met sy geestelike tuiste handel.

Omdat dosente en predikante wat poog om iets van geloof in ons huidige tyd en omstandighede te verwoord sonder om ikonoklasties om te gaan met ouer belydenisse en besluite van die kerk, begin hulle dikwels hulle uitsprake oor geloof met: “Ek glo nie …” eerder as “Ek glo …” Die inhoud van wat só ‘n spreker op ‘n kerkvergadering sê, is dikwels geweeg én verdun om nie te veel lede van die vergadering van hulleself te vervreem nie. Hartseer genoeg word hulle dikwels goeie teologiese begronding juis dan in die vergadering te lig bevind en deur een of ander meer ekstremistiese spreker ter vergadering tot op die rand van die gesprek gerelativeer. Dit sal altyd moeiliker wees om innoverend die woorde te soek wat weerspieël wat in mense se gemoed leef as om waarhede wat (en dis ‘n veronderstelling, niks meer nie) eeue reeds vas staan, harder te skree. Die rede swik ongelukkig maklik voor die emosie tydens hierdie gesprekke.

Dan staan ek by my Schaapenberg-belydenis. Ek wou dapper genoeg wees om te verwoord waarin ek glo, nie waarin ek nie glo nie. Ek besef ek moet respek en aanvaarding uitleef as ek verwag dat ek geakkommodeer sal word. Om by dié punt uit te kom, is ‘n radikale ondersoek na die basis van wat ek glo, kritiek. Ek sal ook my retoriek van snydende woorde en veroordelende houdings moet stroop as ek gehoor wil word deur ander kerke en gelowe en soekers in die komplekse spirituele landskap waarin ek vandag leef.

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

Comments are closed.