Verdraagsaamheid is die deug wat vrede moontlik maak

tolerance2

Deur Jean Oosthuizen:

Die saad van onverdraagsaamheid groei welig en geil in ons samelewing. Nie net op politieke gebied nie maar ook op godsdienstige terrein is onverdraagsaamheid aan die orde van die dag.

Namate diversiteit in ons geloofslewe groter momentum kry, word die teelaarde vir onverdraagsaamheid al hoe groter lyk dit my.

Dit is veral op die internet en in die media waar hierdie soort onverdraagsaamheid gedy. Dit vind nie net tussen gelowiges en ongelowiges plaas nie. Die grootste onverdraagsaamheid vind dikwels tussen gelowiges onderling plaas. Lees mens die kommentare op webwerwe onder die berigte of artikels wat oor geloof handel, skaam jy jou soms vir die onverdraagsaamheid wat Christene openbaar.

Sulke onverdraagsaamheid is nie nuut in die Christelike geloof nie. Dit is byna asof die inkwisisie, die kruistogte en die donker dae uit die Middeleeue toe hekse verbrand is net in ’n ander gedaante voortleef. Al verskil is dat mense deesdae met woorde gestenig word en nie meer met klippe doodgegooi word nie. In plaas daarvan om andersdenkendes op die brandstapel te verbrand, belaster jy hulle in boeke of boelie hulle met woorde op die internet dood.

Dit is geen maklike taak om verdraagsaamheid te kweek nie en verg soms bomenslike geduld. Soms is dit bykans onmoontlik vir mense wat in verskillende paradigmas leef om sinvol met mekaar te kommunikeer.

Daar is min gemeenskaplike geloofsgrond tussen mense wat alles in die Bybel letterlik interpreteer en diegene wat anders dink oor die Bybel. Beide kante sal moet leer om mekaar se standpunte te verdra al stem hulle nie met mekaar saam nie. Verdraagsaamheid veronderstel nie dat jy jou eie oortuigings agterweë moet laat nie. Dit vra slegs om ruimte te skep vir mense wat nie dieselfde oortuigings as jy deel nie.

Dit impliseer ’n bereidwilligheid om van ander te leer.

Op 16 November is dit Internasionale Dag van Verdraagsaamheid. Die dag is in 1996 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies ingestel nadat UNESCO 1995 tot die jaar van verdraagsaamheid verklaar het.

Die eerste artikel uit die Verklaring van Verdraagsaamheid se beginsels wat deur al die lidstate van UNESCO onderteken is, stel ’n duidelike raamwerk daar wat presies bedoel word met verdraagsaamheid.

Volgens artikel een van die verklaring veronderstel verdraagsaamheid of toleransie respek, aanvaarding en waardering vir die ryk diversiteit van die wêreld se verskillende kulture, vorms van uitdrukking en van menswees. Dit moet aangespoor word deur kennis, openhartigheid, kommunikasie en vryheid van gedagtes, gewete en geloof. Verdraagsaamheid veronderstel harmonie in onderlinge verskille. Dit is nie net ’n morele plig nie. Dit moet ook ’n politieke en wetlike vereiste wees. Verdraagsaamheid is die deug wat vrede moontlik maak. Dit dra by tot die vervanging van ’n kultuur van oorlog met ʼn kultuur van vrede.

Verdraagsaamheid beteken nie kapitulasie nie. Dit is ʼn aktiewe beywering vir die erkenning van universele menseregte en vryhede waarop elke individu geregtig is. Daarom bots verdraagsaamheid lynreg met enige inperking van ’n ander persoon se oortuigings of waardes wat nie ander se vryhede aantas nie.

Verdraagsaamheid vra van jou om nie die hele pad vir jouself op te eis nie. Hou links op jou geloofspad en gee die ander wat wil verbykom geleentheid om dit te doen. Jy hoef nie jou medereisigers van die pad af te druk omdat julle nie in dieselfde baan is nie. Ons bly steeds reisgenote selfs al verskil ons.

(Bron:  Nuwe Hart Stigting – ‘n Nasionale gesprek)

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

4 Responses to Verdraagsaamheid is die deug wat vrede moontlik maak

  1. Bodhi says:

    Onverdraagsaamheid is nou maar een van daardie aspekte van menswees wat sommer natuurlik in ons gemoed opduik. En dit gebeur van die dag wat ons gebore is. Skielik word jy verplaas van ‘n “world of comfort” in jou moeder se buik na ‘n omgewing wat vreemd is. En eenklaps is jy ook omring deur ander mense en wesens.

    Die punt wat ek probeer maak is dat ons (mense) as soogdiere (ja, mense is ook “soogdiere”) maar baie kwesbaar is. Enige iets wat ons as “anders” waarneem of ervaar hou vir ons ‘n potensiële bedreiging in. As ‘n kind met min ervaring en (op daardie stadium) min verstandelike ontwikkeling) is verdraagsaamheid die laaste van ons bekommernisse. Oorlewing is alles. Die kind leer later verdraagsaamheid aan as hy/sy besef die wêreld is nie so ongenaakbaar as wat hy aanvanklik gevrees het nie.
    In Boeddhisme is daardie die sogenaamde Ses Volmaakhede. Een daarvan is om geduld/verdraagsaamheid te beoefen. Spasies is natuurlik min om alles hier te verwoord maar die praktyk behels kortliks dat jy dit moet indril. Daar doer in die 80s was ek ‘n goeie soldaat want elke dag was ek gedril in marsjering, skiet, veldwerk, en ander soldate goed. Dieselfde beginsel is van toepassing hier. Om te praat oor die lofwaardige eienskap van verdraagsaamheid is goed, maar beter is om ‘n spesifieke program te volg om dit deel van die mens se wese te maak. Ongelukkig vereis dit “dril”. Praatjies kook nie die teewater nie.
    Enige voorstelle hoe om verdraagsaamheid “in te dril”?

  2. Anton Bester says:

    As dit maar net moontlik is, die probleem is egter dat ons veral in ons samelewing tans daarop ingestel is om deurgaans polarisasie te skep. Ons se en skryf dinge om reaksie te ontlok, en dan word dit in onverdraagsaamheid aangeblaas. Ek dink nie daar is altyd genoeg volwassenheid om mekaar se opinie te respekteer en sinvol met mekaar saam te gesels nie. Iemand moet wen, altyd …..

    • Johan Fourie says:

      Ja Anton ek stem met jou saam. In my wereld het email die nuwe slaan manier geword en dan word almal ge”cc” net sodat die res moet sien hoe min of belaglik, jy nou van die “Onderwerp” dink. Hoeveel keer sien ons dat mense ge”cc” word as iemand its goeds doen of n goeie idee het? Bitter min. Die probleem le nie by ander nie maar by ons self. En dit is juis hier, en dit is my opinie waar ons bitterlik in vaal. Dit begin by respek, self respek en waardes. In my oe die belanrikste. Kom terug na jou wortels en buig jou laag voor die EEN wat jou gevorm het.

  3. Chris Nel says:

    wil jy regtig he ek moet jou glo?