Hier staan ek…

HIER STAAN EK

Duisende mense in die Afikaanse gemeenskap voel verwyderd van die fundamemtalistiese en dogmatiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar ies fout is met hulle. Getrou aan hul Afrikaanse karakter, soek hierdie mense nuwe gespreksgenote en gemeenskappe waarin hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Die boek Hier staan ek is die resultaat van sodanige gesprekke.

’n Brief aan ons lesers

Liewe Leser

Wanneer jy hierdie boek die eerste keer deurblaai, sal jy jou miskien afvra waarom ons ’n versameling stories wou bundel waarin ’n aantal skrywers vertel van hul spirituele groei en ontwikkeling weg van waarhede wat nie meer vir hulle sin gemaak het nie, en van koersveranderings wat hulle in hul geloof gemaak het.

As antwoord hierop vra ons jou om, voordat jy die boek aandurf, ’n paar minute te luister na ons verduideliking van wat ons bedoeling daarmee was, en begrip hê vir wat die verskillende skrywers probeer sê.

Oor die afgelope paar jaar het ons drie redaksielede opgemerk dat heelwat van ons vriende en kennisse, net soos ons, probleme ondervind, of ondervind het, met kerke se boodskap en met die verstaan van die Bybel. Om watter redes ook al, was hulle egter huiwerig om daaraan uiting te gee. Ons sal nie verbaas wees as daar meer van diesulkes is as wat algemeen vermoed word nie. Miskien sluit dit jou wat nou hier lees, ook in.

Ons het dus gereken dit sou ’n goeie idee wees om die stories bymekaar te bring van ’n aantal persone wat uit ’n stewige kerklike agtergrond kom, maar wat om ’n verskeidenheid redes nie meer tuis of gemaklik voel met die godsdienstige inhoude waarmee hulle grootgeword het en geleer is nie. Wat hulle vertel kan, so meen ons, ’n aanduiding wees van die soort probleme waarmee nie net leke nie maar selfs ook teologies geskooldes worstel. En daaruit kan almal wat van geloof erns maak iets leer – ook kerke en mense wat nié die sienings deel wat hier gelug word nie.

Die stemme wat jy sal hoor, is dié van ’n paar mense van wie se standpunte ons bewus geword het. Die name van enkeles van hulle is waarskynlik aan jou bekend, maar van die meeste het jy waarskynlik nog nie gehoor nie. Dit is presies wat ons wou hê: Ons wou aan jou ’n wye spektrum stemme voorhou, ’n spektrum van bekend tot onbekend, dus van die soort mense van wie jy ongemaklike vrae en opinies sou verwag, maar ook mense van wie jy dit miskien nié sou verwag nie. Die skrywers wat ons aan jou voorstel, moes uit verskillende dampkringe en van verskillende agtergronde kom, aan verskillende invloede blootgestel gewees het, verskillende persoonlikhede hê en hulle op verskillende paaie bevind. Ons wou met ander woorde ’n verskeidenheid sienings laat hoor: van berustend tot opstandig, en in stemme wat wissel van bedaard tot uitgesproke. Die een raakpunt wat al die skrywers by mekaar uitbring, is egter hul reise na nuwe geloofsinsigte; hul soeke na groter duidelikheid as dit waarmee hulle begin het.

Ons het bydraers gevra om hul spirituele reise openhartig, uit die hart, met ons te deel. Dit moes vertel hoe en waarom dit gebeur het dat hulle koersveranderings in hul geloofslewe ondergaan het. Dit moes in die eerste plek stories wees en nie teologiese diskoerse nie, hoewel geloofstandpunte onvermydelik deel van die vertellings sou uitmaak. Ons wou met ander woorde die mense agter die reise aan die woord stel.

Ons wil eerstens jou aandag op ’n drietal aspekte van die bydraes in die boek vestig, wat jou sal help om ’n geheelprentjie te kry.

Wanneer jy na die persoonlike besonderhede van die skrywers kyk, sal jy merk dat nie een van hulle jou spreekwoordelike “angry young man” of “woman” is nie. Elkeen het al ’n hele ent op die lewenspad gevorder. Trouens, ’n hele paar het al afgetree. Sommiges het al die Bybelse “three score and ten” jare bereik en enkeles is selfs nog ouer. Dus almal mense wat lank en ernstig oor hul geloof besin het.

Wat jy ook sal merk, is dat nie ’n enkele skrywer ’n “ateïs” in die gewone sin van die woord is nie. Toegegee, hulle verstaan of konseptualiseer God, Jesus en die Bybel miskien anders as jy. ’n Hele aantal voel ook nie meer tuis in kerke nie. Maar elkeen het ’n nuwe Godsbegrip gevind, ’n ander boodskap in die Bybel ontdek, of Jesus op ’n onortodokse manier beleef, wat vir hulle betekenisvol is – al verskil dit miskien van jóú sienings. Maar vir een en elkeen is geloof haar of sy erns.

Let ook daarop dat, hoewel kerke onvermydelik by die naam genoem word, kerke en diegene wat konvensioneel glo, nie veroordeel of aangeval word nie. Inteendeel, in meer as een bydrae word by name waardering uitgespreek vir teoloë en bedieners van die Woord vir hulle vormende invloed, ook al is die uitkoms miskien nie wat dié mentors sou wou sien nie. Let ook op hoeveel deelnemers spesifiek noem dat dit nie hulle begeerte is om ander tot hulle sienswyses oor te haal nie. Wat jy sal vind, is slegs stories van skrywers wat miskien onortodoks of dalk anders as jy glo. Hierdie boek is bedoel as spreekbuis vir hulle, en ’n poging om beter begrip en hopelik ook gesprek te bevorder. Ons wil ook graag enkele aspekte van die stories uitlig waarop jy veral kan let as jy ’n verkondiger van die Evangelie is of in ’n kerklike amp staan.

Iets wat jou sal opval is hoeveel skrywers getuig dat hulle geloofslewe op skuldgevoelens, angs en vrees gebaseer was en dat hulle hul daaruit moes ontworstel. En dit geld nie net ’n ouer geslag nie; jy sal lees dat selfs jong mense bieg dat hulle dieselfde emosies ervaar. Dalk sal jy dan saam met ons vra hoe dit gebeur het dat vrees so sentraal in mense se belewenis van die Christelike boodskap staan.

Nog iets wat jy meermale sal teëkom, is dat mense bang is, of was, om twyfel uit te spreek of om kritiese vrae te vra, bang omdat hulle veroordeling of verwerping of ander negatiewe reaksies vrees. Jy sal ook lees dat wanneer daar wel vrae gevra word, dit dikwels deur dié wat dit hoor, geïgnoreer word, ontwyk word, afgemaak word as ongeloof, of veroordelend ontvang word, selfs op die hoogste vlak. Hierdie “twyfelaars”, by gebrek aan  ’n beter woord, kry met ander woorde nie antwoorde op hulle vrae nie, of kry antwoorde op vrae wat hulle nie gevra het nie, om ’n ou cliché te gebruik.

Let verder daarop hoeveel bydraers tot hierdie bundel teen die bors gestuit word deur bloeddorstige stories in die Bybel en deur aaklighede wat sowel in Bybelse verhale as later in die geskiedenis in die Naam van God gepleeg is. Dit sal jou ook nie ontgaan nie dat verskeie deelnemers kwellings het, of gehad het, oor teenstrydighede en stellings wat gewoon teen ’n mens se verstand indruis, in die Bybel en in kerke se verkondiging.

Natuurlik sal teoloë en verkondigers van die Woord verklarings en verduidelikings vir en antwoorde op die meeste van hierdie kwellings hê, indien nie op alles nie. Dit is egter nie die punt nie. Wat ons deelnemers se stories wel sê, is: “So het ons dit gehoor, so het ons dit gelees, en so het ons dit verstaan.” Verklarings, verduidelikings, antwoorde of selfs net openlike bespreking vanuit kerkgeledere het die skrywers wie se stories hier opgeneem is, dus nie bereik of oortuig of bevredig nie. Om ’n ander cliché te gebruik: Hulle het geluister na wat nie gesê is nie.

Jy as leser sou ook opgelet het hoeveel van die skrywers in ons boek teologies opgelei is. Ons het dit nie so beplan nie, trouens, ons het aanvanklik doelbewus gekonsentreer op “gewone” gelowiges. Soos ons gehoor het van die een na die ander potensiële deelnemer, het daar egter al meer name van teologies geskooldes na vore gekom. Dit hou ’n duidelike boodskap in: Dit is nie net leke wat worstel met probleme soos dié wat hier uitgelig is nie; selfs vir dié wat deur die wyer lens van ’n teologiese agtergrond kyk, bly daar onduidelikhede, onsekerhede en kwelvrae wat tot koersveranderinge in mense se geloof kan lei.

’n Paar medewerkers het om begryplike redes verkies om anoniem te bly. Ons het hul bydraes in ’n afsonderlike afdeling saam gegroepeer onder die subtitel: hier staan ek  …maar ek kan nie sê wie ek is nie. Die tweede afdeling van die bundel, die bydraes van medewerkers wat onder hul eie name geskryf het – en onder hulle is ook ’n paar teologies geskooldes – het ons hier staan ek … want ek kan nie langer stilbly nie genoem.

Wat ons nou van jou vra – of jy teoloog of leek, twyfelaar of skeptikus, simpatiek gesinde of vyandiggesinde is – is om by die lees van die verskillende bydraes met aandag en ’n oop gemoed te luister na wat elke skrywer te vertel het. Vergeet ’n oomblik van jou eie standpunte. Gaan staan in elkeen se skoene, beleef sy/haar belewenisse en loop haar/sy ervarings, argumente en pleidooie na.

Gaan sit by wyse van spreke langs ’n klein dogtertjie en luister grootoog saam met haar na die donderende slae van ’n goed bedoelende dominee op die kansel terwyl hy die vrees van God by die gemeente indreun, en probeer dan verstaan hoe haar reis daarvandaan verder verloop het. Lees deur die oë van ’n skrywer hoe Pizarro die goedgelowige Inkas in die naam van God afgemaai het en probeer sy ontsteltenis oor die misbruik van die Bybel ervaar. Stap saam met ‘n toegewyde sendeling langs sy drie stasies na ’n volgende vlak van insig en probeer verstaan waarom hy sy kerk vir groter begrip vra. Luister na die worsteling en pyn van ’n geresiteerde wanneer sy veranderde insigte die kerk se pad met hom laat doodloop, ook al het jy nie simpatie vir sy standpunte nie. Probeer die eerlikheid en integriteit herken waarmee skrywers bieg dat hulle opgehou om ’n, wat hulle betref, uitgediende Godsbegrip te vertrou, of afskeid moes neem van die geloof waarmee hulle grootgeword het.

Lees elke bydrae met dié gesindheid en jy sal met ’n ander indruk die boek neersit; jy sal weet dat jy jou in die geselskap bevind het van mense wat hul geloof diep en ernstig deurdink en beleef het, al is dit soms op maniere wat jy vreemd mag vind.

As jy dalk self een van diegene is wat twyfel of ongemaklike vrae het wat jou gemoed kwel, wil hierdie boek en die stories daarin jou aanmoedig om daarmee na vore te kom. Daar is simpatieke ore wat na jou sal luister en jou op jou reis sal bystaan. Let maar weer eens op hoeveel teoloë en kerklikes wat skrywers direk of indirek ondersteun het, deur hulle by die naam genoem word. En as dit nie help nie, is daar andere, soos diegene wie se stemme hierin opklink, wat na jou sal luister. Miskien vind jy selfs in een of meer van die bydraes antwoorde op die vrae wat jý het.

’n Laaste opmerking. Jy sal merk hoeveel skrywers bely dat hulle spirituele reise nog nie voltooi is nie, dat hulle geestelike groei voortgaan. Geloof is vir hierdie skrywers nie ’n statiese, afgehandelde aangeleentheid nie, maar ’n proses wat steeds oopstaan vir ontwikkeling. Al ons deelnemers, ook dié wat dit nie in soveel woorde sê nie, is pelgrims op reis na ’n bestemming waar daar ruimte is vir ’n verskeidenheid blikke op die misterie van die werklikheid.

Dit is met dié gesindheid van sowel openhartigheid as oopheid vir verdere ontwikkeling dat ons die boek saamgestel het. Daarom is dit onder meer ’n pleidooi aan kerke en hulle verteenwoordigers om met groter begrip en insig, en indien moontlik ook groter inklusiwiteit, om te gaan met diegene wat lastige vrae het en oënskynlik stroomop is, maar tog die geloof nie wil versaak nie.

As jy dit so aanvaar, het ons in ons doel met hierdie bundel geslaag.

Neem die boek nou op en vertrek saam met ons bydraers op reise wat ons glo vir jou ’n stimulerende leeservaring kan wees.

Lekker lees!

Die Redaksie

Hier staan ek kan bestel word by www.boekblik.co.za en is ook verkrygbaar by uitgesoekte boekwinkels soos Exclusives.

This entry was posted in Algemeen. Bookmark the permalink.

6 Responses to Hier staan ek…

  1. Visi lucem says:

    Die lees van “Hier staan ek…” was vir my n diepliggende katarsis en n bevryding wat my onkant gevang het.
    Ek is n “wedergebore mens” wat na baie jare van pynlike isolasie en verwildering van die kerk, familie en vriende waarlik besef het, “…ek is nie alleen nie”.
    Dis so heerlik om te weet ek hoef nie gered te wees om nie hel toe te gaan nie. (Die Stones se “You’ll never make a saint of me!” het nou vir my n heel nuwe betekenis !).
    Ek ervaar my God en my spiritualiteit nou met vreugde, n ongebondenheid en in n dimensie wat ek nooit gedink moontlik was nie.
    Aan die skrywers van die artikels baie, baie dankie.
    Julle het meer vir my siel en saligheid gedoen as wat kerke, predikante en familie in n leeftyd nie kon regkry nie.
    Julle het my verlos van n skuldgevoel waarmee die “plaasbrak” te lank “gesuffer’ het. Die “keeuvoel” se vlerke is nog lomp en swak maar hulle gaan my nog lank en ver dra na towerplekke waar ek skaars kan wag om heen te vlieg.
    n Hele nuwe lewe le voor om te verken en te geniet vry,skuldloos en ongered!
    Die uitdaging is om nie verbitterd te raak nie, want dit sal my my beroof van my nuutgevonde saligheid.

  2. Chris Steenkamp says:

    ‘Iets wat jou sal opval is hoeveel skrywers getuig dat hulle geloofslewe op skuldgevoelens, angs en vrees gebaseer was . . . .’
    Skuldgevoelens, angs en vrees is sekerlik nie vreemde ervarings by mense wat tot geloof in God en sy Seun gekom het nie, want dit is nou maar eenmaal so dat daar in die bybel gepraat word van ‘n hel waarin daar baie slae uitgedeel sal word. Om hierdie emosies te ervaar, spreek egter in ‘n sekere sin van iets goeds, want in teenstelling met dit wat wêreldwyd verkondig word nl. dat Jesus die prys vir die verlossing van sonde en die ewige lewe aan die kruis volledig betaal het, blyk dit duidelik uit die evangelie wat Jesus aan sy dissipels oorgedra het dat ‘n dissipel van Jesus Christus in werklikheid soos ‘n leerder of student is wat aan sekere vereistes moet voldoen om uiteindelik te kwalifiseer vir bv. ‘n matriek sertifikaat of universiteitsgraad. Is dit nie maar normaal vir ‘n toegewyde leerder of student om in die aanloop na die eindeksamens emosies van angs en vrees te ervaar nie? Sal ‘n toegewyde dissipel van Jesus dan nie ook sulke emosies ervaar op pad na sy beloning nie?
    Die rede waarom dit vir ‘n dissipel vreemd is om sulke emosies te ervaar, is weereens te wyte aan die feit dat hulle glo dat die prys vir hulle verlossing reeds betaal is, en hoe harder hulle daaraan werk om hulleself te oortuig dat hulle van hulle sonde, wat hulle van die ewige lewe af weerhou, verlos is, doen die Heilige Gees sý werk in hulle gemoed, nl. om hulle van die teendeel te oortuig! Kan ‘n mens die Gees van God weerstaan?
    Volmaakte liefde dryf natuurlik die vrees na buite, maar wat is hierdie ‘volmaakte liefde’? Daar is slegs een wyse waarop ‘n mens waarlik vir God kan liefhê, en dit is om die vrug van sy Gees lief te hê, en ‘n mens wat God só liefhet, sal spoedig bewus raak van die aanspraak wat die vrug van sy eie gees op hom het, en also het daardie persoon dan eerstehands geleer wat God die dissipels van Jesus wil leer sodat hulle na sy Seun sal gaan (Joh. 6 vers 44) om hulle van daardie lewe met daardie vrug te verlos en dit te vervang met die lewe van sy Seun met dieselfde vrug as díe van sy Vader se Gees. Só word die volmaakte liefde van God dan in daardie mens ‘ingebou’ en sal hy nooit weer skuldgevoelens, angs en vrees ervaar nie!

  3. Lizette says:

    Wat ‘n wonderlike boek. Ek het hom gister klaar gelees. So dankbaar daar is nog mense wat voel soos ek voel. Ek voel of daar my hele lewe vir my gelieg is, ek voel verraai deur die kerk. Ek het Jan Coetzee, Lina Spies en Sandra en Jean se bydraes die meeste geniet.

  4. Chris Swart says:

    Ek het die boek gisteraand klaar gelees, vir my was dit n reis wat ek mee kan identifiseer. Ek het steeds baie vrae en soek nog steeds, is nog op pad, maar die bydraes wat ek hier gelees het, het my lewe verryk en my meer insig gegee in ander se lewens ervaringe wat ek kon meemaak.
    Ek sal die boek aanbeveel vir elke mens wat vir homself wil dink en nie slaafs dogmas en leerstellinge wil navolg nie.
    Dit was `n verryknde ervaring, dankie vir julle meedelings.

  5. vixen says:

    Ek het vanaand eers Nico Geldenhuys se brief in Beeld gelees en dink dit verdien ook ‘n plekkie hier:
    Hoewel hy die Bybel bestudeer en elke Sondag twee dienste bywoon, het Nico Geldenhuys verlede week met die nagmaal uit die kerk gevlug. Soos Martin Luther van ouds, wil – moet? – hy ’n brief teen die kerk se deur vasspyker, sê hy. Want hoewel hy lankal nie meer glo nie, gee hy steeds om.

    ’n Week gelede, op Hervormingsondag, het ek uit die kerk gevlug.

    Dit was ’n intieme aanderediens, en die dominee het ’n paar mooi gedagtes oor leierskap met ons klein groep kerkgangers gedeel. Maar toe die tyd vir die nagmaal aanbreek, het hy aangekondig dat die formaat vanaand van ander kere verskil: Elk van die 15 kerkgangers moes individueel na die preekstoel kom, waar die nagmaal een-een aan hulle bedien sou word.

    Ek het beangs om my rond- gekyk om die reaksie van die gemeente te probeer peil. Niemand het beswaard gelyk nie.

    Ek het ’n rukkie lank doodstil gesit en kyk hoe vrywilligers een-een opgestaan het om die nagmaal te ontvang. Telkens was die dominee se hand op hul skouer terwyl hy die stuk brood aan hulle sou oorhandig en daarna sou bid.
    Nadat drie vrywilligers elkeen hul beurt gekry het, het ek besef die uurglas loop leeg – ek het voor ’n keuse gestaan.

    Toe die dominee vir die vierde kerkganger bid, het ek my Bybel gegryp en na die uitgang gehardloop. Buite het ek in my kar gespring en weggery.

    En terwyl ek ry, met Bob Dylan so hard moontlik oor die luidsprekers, het ek gedink: Dis nogal ironies dat my middelnaam “Petrus” is.

    Ek is 23 jaar oud en oortuig daarvan dat God nie bestaan nie. Ek is ook ’n lidmaat van die NG Kerk, en ek is nie van plan om te loop nie.

    Ek woon elke Sondag twee eredienste by, hoewel ek nie meer saamsing of saambid nie. Ek doen daagliks Bybelstudie – soms ’n paar hoofstukke uit Genesis of Jesaja, ander kere ’n hele sendbrief in die Nuwe Testament. Die Handelinge van die Apostels is meestal boeiend genoeg om in een sitting deur te lees.

    In die noorde van Botswana, waar ek die grootste deel van my hoërskoolloopbaan deurgebring het, het ons dikwels sendelinge gehuisves wat na Zambië onderweg was. Die sendelinge het my só geïnspireer dat ek met alle geweld teologie wou gaan studeer. Ná my studie wou ek my by hierdie mense aansluit en die Woord van die Here gaan verkondig.

    Maar my verhoogvrees het die oorhand gekry; daarom het ek eerder ’n regsgraad aangepak. Tussendeur het ek die Here gedien in die Johannesburgse gemeente waarvan ek lidmaat was – eers as tesourier, daarna as diaken en uiteindelik selfs met ’n paar lees-preke wanneer ons dominee met verlof was.

    In my studentejare het hierdie kaartehuis in duie gestort. Ek het die Bybel meer intensief vanuit ’n histories-wetenskap- like raamwerk bestudeer en ’n paar ontstellende ontdekkings gemaak. Die maagdelike-geboorte-verhaal is op ’n vertaalfout in die Griekse Bybel geskoei. Die skrywer van die Hebreër-brief het oneerlik met sy Psalm-tekste omgegaan om sy argument te versterk. Matteus het plagiaat gepleeg. Lukas se geknoei met datums het ’n gat in Jesus se geboorteverhaal gelaat.

    Die geloofslewe van geen Christen wat eenmaal sulke ontdekkings gemaak het, is daarna ooit weer dieselfde nie.

    Ek het probeer red wat te redde is deur by die liberale teoloë vlerk te sleep. Maar uiteindelik bevind ’n mens jou op ’n glybaan wat jou net vérder ondertoe sleep.

    Toe ek nie langer vir myself en die gemeente kon lieg nie, het ek een middag ’n briefie aan die kerkraad getik en dit, soos ’n wafferse Martin Luther, met ’n duimspyker aan die kerk se deur gaan vasheg. Maar daar was een belangrike verskil: Luther het agtergebly om met die kerk oor sy stellings te debatteer. Ek was nie dapper genoeg om daardie aand die kerkraad in die oë te kyk en my stellings te herhaal nie. Ek het die briefie maar net teen die deur gelos en gewag vir ’n oproep van die leierouderling.

    Pleks van soos Luther, het ek eerder gevoel soos Guido de Bres, wat op die aand van 1 November 1561 die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die kasteelmuur van Tournai gegooi het in die hoop dat die Spaanse regering dit sal lees.
    ’n Tyd lank wou ek niks met die kerk te doen hê nie. Onlangs het ek egter ingeskakel by ’n wonderlike NG gemeente waar ek met ope arms ontvang is – en dít ondanks my oortuigings.

    Verlede maand het ’n bundel by Griffel Media verskyn met die reformatoriese titel Hier Staan Ek… Daarin het vyf predikante anoniem gebieg dat hulle vasgevang voel in ’n kerk wie se belydenisse hulle nie meer kan onderskryf nie.
    Vandag moet ook ek bieg: Die Bybel is nie vir my die Woord van God nie. Jesus het nie vir my sondes gesterf of ná drie dae uit die graf opgestaan nie. Wat in die hiernamaals met my sal gebeur, weet ek nie, maar ek vermoed dat ek in dieselfde toestand sal wees as in 1987 – die jaar voordat ek gebore is. (En van 1987 onthou ek net mooi niks!)

    Waarvan ek wél seker is, is dat ek nooit my intense liefde vir die Bybel verloor het nie. Dit is ’n boek wat die vermoë het om my meer as enige ander boek te bekoor en te inspireer. Ek put inspirasie uit daardie dapper profete van die Ou Testament, daardie profete wat die konings van Israel en Juda trompop geloop het met ’n radikale boodskap van sosiale geregtigheid. Soms was die profete ook bang, moedeloos of hardkoppig.

    Ek dink aan die skrywers van Rut en Jona wat die vooroordele van hul gemeenskap uitgedaag het met treffende protesliteratuur. Aan die Prediker, wat gewroeg het oor die sin van alles hier op aarde. Aan die Jesus van die Markus-evangelie wat selfs ná sy “opstanding” verwerp word. Aan Job, wat aangedring het op ’n reguit antwoord van God. Aan Paulus, wat kon uitroep: In Christus is daar nie Jood of nie-Jood, man of vrou, slaaf of vryburger nie. In Christus is ons almal één.

    In daardie woorde van Paulus lê die tweede rede waarom ek na die kerk teruggekeer het: Ek sal graag wil sien dat die kerk terugkeer na die eerste beginsels van naasteliefde; die beginsels voordat dogmatiese bagasie bygekom het.
    Bestudeer ’n slag die oudste geskrifte in die Nuwe Testament soos die Markus-evangelie en die briewe van Paulus. Vergelyk dit met latere geskrifte soos die Hebreër-brief en die Openbaring en kyk hoe Jesus as’t ware “geëvolueer” het.

    Ek glo dat die Christendom nie hoef te staan of val by ’n letterlike interpretasie van sy mites nie. Jesus se geboorte- verhale, die leë graf en die hemelvaart is mitologie wat later by die verhaal gevoeg is. Die Christus-ervaring het tevore sonder hierdie tierlantyntjies bestaan – dit kan dus oorleef daarsonder.

    Maar terug na daardie aand in die kerk. Vir die tweede keer in my lewe moes ek kies tussen veg en vlug. Tot my ewige spyt het ek albei kere gekies om te vlug.

    Vandag smeek ek die kerk se besluitnemers om nie die twyfelaars in hul midde te verguis nie. Ons is in hierdie posisie omdat ons die waarheid gesoek het – nie omdat ons kwade bedoelings gehad het nie. Baie van ons is steeds lief vir die Bybel en lief vir die kerk. Party is selfs nog lief vir God.

    ’n Week ná die herdenking van Martin Luther se belydenis teen die kerkdeur van Wittenberg prewel duisende kerkgangers steeds saggies: Hier staan ons. Ons staan hier omdat ons nie anders kan nie.

    Ons sien ’n kerk wat wurg aan sy belydenisskrifte omdat dit nie tred gehou het met die kennisontploffing van die laaste paar eeue nie. En ons wil help om oplossings vir hierdie krisis te vind sodat die kerk sy profetiese stem kan terugkry in ’n land wat na profete smag.
    Bron:http://www.beeld.com/By/Nuus/My-brief-teen-die-kerkdeur-20111104-3

  6. Stefaan de Jager says:

    Mense worstel oor geloof en die Bybel. Dit is seker maar so oud soos die berge. Tog is die boodskap van die Skrif een van absolute sekerheid. Dink maar aan 1 Joh 5:13 ” Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo”. Die boodskap van die apostels na die uitstorting van die Heilige Gees is nie apologeties nie maar `n proklamering van die Evangelie. Van die begin van die skepping het ons maar die probleem gehad, dat as jy nie iets wil glo nie, maak jy maar net van God `n probleem. Soos die slang: “Is dit so dat God gesê het?….”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>