Kletskerk

Hier staan ek…
Duisende mense in die Afikaanse gemeenskap voel verwyderd van die fundamemtalistiese en dogmatiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar ies fout is met hulle. Getrou aan hul Afrikaanse karakter, soek hierdie mense nuwe gespreksgenote en gemeenskappe waarin hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Die boek Hier staan ek is die resultaat van sodanige gesprekke.

’n Brief aan ons lesers

Liewe Leser

Wanneer jy hierdie boek die eerste keer deurblaai, sal jy jou miskien afvra waarom ons ’n versameling stories wou bundel waarin ’n aantal skrywers vertel van hul spirituele groei en ontwikkeling weg van waarhede wat nie meer vir hulle sin gemaak het nie, en van koersveranderings wat hulle in hul geloof gemaak het.

As antwoord hierop vra ons jou om, voordat jy die boek aandurf, ’n paar minute te luister na ons verduideliking van wat ons bedoeling daarmee was, en begrip hê vir wat die verskillende skrywers probeer sê.

Oor die afgelope paar jaar het ons drie redaksielede opgemerk dat heelwat van ons vriende en kennisse, net soos ons, probleme ondervind, of ondervind het, met kerke se boodskap en met die verstaan van die Bybel. Om watter redes ook al, was hulle egter huiwerig om daaraan uiting te gee. Ons sal nie verbaas wees as daar meer van diesulkes is as wat algemeen vermoed word nie. Miskien sluit dit jou wat nou hier lees, ook in.

Ons het dus gereken dit sou ’n goeie idee wees om die stories bymekaar te bring van ’n aantal persone wat uit ’n stewige kerklike agtergrond kom, maar wat om ’n verskeidenheid redes nie meer tuis of gemaklik voel met die godsdienstige inhoude waarmee hulle grootgeword het en geleer is nie. Wat hulle vertel kan, so meen ons, ’n aanduiding wees van die soort probleme waarmee nie net leke nie maar selfs ook teologies geskooldes worstel. En daaruit kan almal wat van geloof erns maak iets leer – ook kerke en mense wat nié die sienings deel wat hier gelug word nie.

Die stemme wat jy sal hoor, is dié van ’n paar mense van wie se standpunte ons bewus geword het. Die name van enkeles van hulle is waarskynlik aan jou bekend, maar van die meeste het jy waarskynlik nog nie gehoor nie. Dit is presies wat ons wou hê: Ons wou aan jou ’n wye spektrum stemme voorhou, ’n spektrum van bekend tot onbekend, dus van die soort mense van wie jy ongemaklike vrae en opinies sou verwag, maar ook mense van wie jy dit miskien nié sou verwag nie. Die skrywers wat ons aan jou voorstel, moes uit verskillende dampkringe en van verskillende agtergronde kom, aan verskillende invloede blootgestel gewees het, verskillende persoonlikhede hê en hulle op verskillende paaie bevind. Ons wou met ander woorde ’n verskeidenheid sienings laat hoor: van berustend tot opstandig, en in stemme wat wissel van bedaard tot uitgesproke. Die een raakpunt wat al die skrywers by mekaar uitbring, is egter hul reise na nuwe geloofsinsigte; hul soeke na groter duidelikheid as dit waarmee hulle begin het.

Ons het bydraers gevra om hul spirituele reise openhartig, uit die hart, met ons te deel. Dit moes vertel hoe en waarom dit gebeur het dat hulle koersveranderings in hul geloofslewe ondergaan het. Dit moes in die eerste plek stories wees en nie teologiese diskoerse nie, hoewel geloofstandpunte onvermydelik deel van die vertellings sou uitmaak. Ons wou met ander woorde die mense agter die reise aan die woord stel.

Ons wil eerstens jou aandag op ’n drietal aspekte van die bydraes in die boek vestig, wat jou sal help om ’n geheelprentjie te kry.

Wanneer jy na die persoonlike besonderhede van die skrywers kyk, sal jy merk dat nie een van hulle jou spreekwoordelike “angry young man” of “woman” is nie. Elkeen het al ’n hele ent op die lewenspad gevorder. Trouens, ’n hele paar het al afgetree. Sommiges het al die Bybelse “three score and ten” jare bereik en enkeles is selfs nog ouer. Dus almal mense wat lank en ernstig oor hul geloof besin het.

Wat jy ook sal merk, is dat nie ’n enkele skrywer ’n “ateïs” in die gewone sin van die woord is nie. Toegegee, hulle verstaan of konseptualiseer God, Jesus en die Bybel miskien anders as jy. ’n Hele aantal voel ook nie meer tuis in kerke nie. Maar elkeen het ’n nuwe Godsbegrip gevind, ’n ander boodskap in die Bybel ontdek, of Jesus op ’n onortodokse manier beleef, wat vir hulle betekenisvol is – al verskil dit miskien van jóú sienings. Maar vir een en elkeen is geloof haar of sy erns.

Let ook daarop dat, hoewel kerke onvermydelik by die naam genoem word, kerke en diegene wat konvensioneel glo, nie veroordeel of aangeval word nie. Inteendeel, in meer as een bydrae word by name waardering uitgespreek vir teoloë en bedieners van die Woord vir hulle vormende invloed, ook al is die uitkoms miskien nie wat dié mentors sou wou sien nie. Let ook op hoeveel deelnemers spesifiek noem dat dit nie hulle begeerte is om ander tot hulle sienswyses oor te haal nie. Wat jy sal vind, is slegs stories van skrywers wat miskien onortodoks of dalk anders as jy glo. Hierdie boek is bedoel as spreekbuis vir hulle, en ’n poging om beter begrip en hopelik ook gesprek te bevorder. Ons wil ook graag enkele aspekte van die stories uitlig waarop jy veral kan let as jy ’n verkondiger van die Evangelie is of in ’n kerklike amp staan.

Iets wat jou sal opval is hoeveel skrywers getuig dat hulle geloofslewe op skuldgevoelens, angs en vrees gebaseer was en dat hulle hul daaruit moes ontworstel. En dit geld nie net ’n ouer geslag nie; jy sal lees dat selfs jong mense bieg dat hulle dieselfde emosies ervaar. Dalk sal jy dan saam met ons vra hoe dit gebeur het dat vrees so sentraal in mense se belewenis van die Christelike boodskap staan.

Nog iets wat jy meermale sal teëkom, is dat mense bang is, of was, om twyfel uit te spreek of om kritiese vrae te vra, bang omdat hulle veroordeling of verwerping of ander negatiewe reaksies vrees. Jy sal ook lees dat wanneer daar wel vrae gevra word, dit dikwels deur dié wat dit hoor, geïgnoreer word, ontwyk word, afgemaak word as ongeloof, of veroordelend ontvang word, selfs op die hoogste vlak. Hierdie “twyfelaars”, by gebrek aan  ’n beter woord, kry met ander woorde nie antwoorde op hulle vrae nie, of kry antwoorde op vrae wat hulle nie gevra het nie, om ’n ou cliché te gebruik.

Let verder daarop hoeveel bydraers tot hierdie bundel teen die bors gestuit word deur bloeddorstige stories in die Bybel en deur aaklighede wat sowel in Bybelse verhale as later in die geskiedenis in die Naam van God gepleeg is. Dit sal jou ook nie ontgaan nie dat verskeie deelnemers kwellings het, of gehad het, oor teenstrydighede en stellings wat gewoon teen ’n mens se verstand indruis, in die Bybel en in kerke se verkondiging.

Natuurlik sal teoloë en verkondigers van die Woord verklarings en verduidelikings vir en antwoorde op die meeste van hierdie kwellings hê, indien nie op alles nie. Dit is egter nie die punt nie. Wat ons deelnemers se stories wel sê, is: “So het ons dit gehoor, so het ons dit gelees, en so het ons dit verstaan.” Verklarings, verduidelikings, antwoorde of selfs net openlike bespreking vanuit kerkgeledere het die skrywers wie se stories hier opgeneem is, dus nie bereik of oortuig of bevredig nie. Om ’n ander cliché te gebruik: Hulle het geluister na wat nie gesê is nie.

Jy as leser sou ook opgelet het hoeveel van die skrywers in ons boek teologies opgelei is. Ons het dit nie so beplan nie, trouens, ons het aanvanklik doelbewus gekonsentreer op “gewone” gelowiges. Soos ons gehoor het van die een na die ander potensiële deelnemer, het daar egter al meer name van teologies geskooldes na vore gekom. Dit hou ’n duidelike boodskap in: Dit is nie net leke wat worstel met probleme soos dié wat hier uitgelig is nie; selfs vir dié wat deur die wyer lens van ’n teologiese agtergrond kyk, bly daar onduidelikhede, onsekerhede en kwelvrae wat tot koersveranderinge in mense se geloof kan lei.

’n Paar medewerkers het om begryplike redes verkies om anoniem te bly. Ons het hul bydraes in ’n afsonderlike afdeling saam gegroepeer onder die subtitel: hier staan ek  …maar ek kan nie sê wie ek is nie. Die tweede afdeling van die bundel, die bydraes van medewerkers wat onder hul eie name geskryf het – en onder hulle is ook ’n paar teologies geskooldes – het ons hier staan ek … want ek kan nie langer stilbly nie genoem.

Wat ons nou van jou vra – of jy teoloog of leek, twyfelaar of skeptikus, simpatiek gesinde of vyandiggesinde is – is om by die lees van die verskillende bydraes met aandag en ’n oop gemoed te luister na wat elke skrywer te vertel het. Vergeet ’n oomblik van jou eie standpunte. Gaan staan in elkeen se skoene, beleef sy/haar belewenisse en loop haar/sy ervarings, argumente en pleidooie na.

Gaan sit by wyse van spreke langs ’n klein dogtertjie en luister grootoog saam met haar na die donderende slae van ’n goed bedoelende dominee op die kansel terwyl hy die vrees van God by die gemeente indreun, en probeer dan verstaan hoe haar reis daarvandaan verder verloop het. Lees deur die oë van ’n skrywer hoe Pizarro die goedgelowige Inkas in die naam van God afgemaai het en probeer sy ontsteltenis oor die misbruik van die Bybel ervaar. Stap saam met ‘n toegewyde sendeling langs sy drie stasies na ’n volgende vlak van insig en probeer verstaan waarom hy sy kerk vir groter begrip vra. Luister na die worsteling en pyn van ’n geresiteerde wanneer sy veranderde insigte die kerk se pad met hom laat doodloop, ook al het jy nie simpatie vir sy standpunte nie. Probeer die eerlikheid en integriteit herken waarmee skrywers bieg dat hulle opgehou om ’n, wat hulle betref, uitgediende Godsbegrip te vertrou, of afskeid moes neem van die geloof waarmee hulle grootgeword het.

Lees elke bydrae met dié gesindheid en jy sal met ’n ander indruk die boek neersit; jy sal weet dat jy jou in die geselskap bevind het van mense wat hul geloof diep en ernstig deurdink en beleef het, al is dit soms op maniere wat jy vreemd mag vind.

As jy dalk self een van diegene is wat twyfel of ongemaklike vrae het wat jou gemoed kwel, wil hierdie boek en die stories daarin jou aanmoedig om daarmee na vore te kom. Daar is simpatieke ore wat na jou sal luister en jou op jou reis sal bystaan. Let maar weer eens op hoeveel teoloë en kerklikes wat skrywers direk of indirek ondersteun het, deur hulle by die naam genoem word. En as dit nie help nie, is daar andere, soos diegene wie se stemme hierin opklink, wat na jou sal luister. Miskien vind jy selfs in een of meer van die bydraes antwoorde op die vrae wat jý het.

’n Laaste opmerking. Jy sal merk hoeveel skrywers bely dat hulle spirituele reise nog nie voltooi is nie, dat hulle geestelike groei voortgaan. Geloof is vir hierdie skrywers nie ’n statiese, afgehandelde aangeleentheid nie, maar ’n proses wat steeds oopstaan vir ontwikkeling. Al ons deelnemers, ook dié wat dit nie in soveel woorde sê nie, is pelgrims op reis na ’n bestemming waar daar ruimte is vir ’n verskeidenheid blikke op die misterie van die werklikheid.

Dit is met dié gesindheid van sowel openhartigheid as oopheid vir verdere ontwikkeling dat ons die boek saamgestel het. Daarom is dit onder meer ’n pleidooi aan kerke en hulle verteenwoordigers om met groter begrip en insig, en indien moontlik ook groter inklusiwiteit, om te gaan met diegene wat lastige vrae het en oënskynlik stroomop is, maar tog die geloof nie wil versaak nie.

As jy dit so aanvaar, het ons in ons doel met hierdie bundel geslaag.

Neem die boek nou op en vertrek saam met ons bydraers op reise wat ons glo vir jou ’n stimulerende leeservaring kan wees.

Lekker lees!

Die Redaksie

Hier staan ek kan bestel word by www.boekblik.co.za en is ook verkrygbaar by uitgesoekte boekwinkels soos Exclusives.

Verdraagsaamheid is die deug wat vrede moontlik maak
Deur Jean Oosthuizen:

Die saad van onverdraagsaamheid groei welig en geil in ons samelewing. Nie net op politieke gebied nie maar ook op godsdienstige terrein is onverdraagsaamheid aan die orde van die dag.

Namate diversiteit in ons geloofslewe groter momentum kry, word die teelaarde vir onverdraagsaamheid al hoe groter lyk dit my.

Dit is veral op die internet en in die media waar hierdie soort onverdraagsaamheid gedy. Dit vind nie net tussen gelowiges en ongelowiges plaas nie. Die grootste onverdraagsaamheid vind dikwels tussen gelowiges onderling plaas. Lees mens die kommentare op webwerwe onder die berigte of artikels wat oor geloof handel, skaam jy jou soms vir die onverdraagsaamheid wat Christene openbaar.

Sulke onverdraagsaamheid is nie nuut in die Christelike geloof nie. Dit is byna asof die inkwisisie, die kruistogte en die donker dae uit die Middeleeue toe hekse verbrand is net in ’n ander gedaante voortleef. Al verskil is dat mense deesdae met woorde gestenig word en nie meer met klippe doodgegooi word nie. In plaas daarvan om andersdenkendes op die brandstapel te verbrand, belaster jy hulle in boeke of boelie hulle met woorde op die internet dood.

Dit is geen maklike taak om verdraagsaamheid te kweek nie en verg soms bomenslike geduld. Soms is dit bykans onmoontlik vir mense wat in verskillende paradigmas leef om sinvol met mekaar te kommunikeer.

Daar is min gemeenskaplike geloofsgrond tussen mense wat alles in die Bybel letterlik interpreteer en diegene wat anders dink oor die Bybel. Beide kante sal moet leer om mekaar se standpunte te verdra al stem hulle nie met mekaar saam nie. Verdraagsaamheid veronderstel nie dat jy jou eie oortuigings agterweë moet laat nie. Dit vra slegs om ruimte te skep vir mense wat nie dieselfde oortuigings as jy deel nie.

Dit impliseer ’n bereidwilligheid om van ander te leer.

Op 16 November is dit Internasionale Dag van Verdraagsaamheid. Die dag is in 1996 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies ingestel nadat UNESCO 1995 tot die jaar van verdraagsaamheid verklaar het.

Die eerste artikel uit die Verklaring van Verdraagsaamheid se beginsels wat deur al die lidstate van UNESCO onderteken is, stel ’n duidelike raamwerk daar wat presies bedoel word met verdraagsaamheid.

Volgens artikel een van die verklaring veronderstel verdraagsaamheid of toleransie respek, aanvaarding en waardering vir die ryk diversiteit van die wêreld se verskillende kulture, vorms van uitdrukking en van menswees. Dit moet aangespoor word deur kennis, openhartigheid, kommunikasie en vryheid van gedagtes, gewete en geloof. Verdraagsaamheid veronderstel harmonie in onderlinge verskille. Dit is nie net ’n morele plig nie. Dit moet ook ’n politieke en wetlike vereiste wees. Verdraagsaamheid is die deug wat vrede moontlik maak. Dit dra by tot die vervanging van ’n kultuur van oorlog met ŉ kultuur van vrede.

Verdraagsaamheid beteken nie kapitulasie nie. Dit is ŉ aktiewe beywering vir die erkenning van universele menseregte en vryhede waarop elke individu geregtig is. Daarom bots verdraagsaamheid lynreg met enige inperking van ’n ander persoon se oortuigings of waardes wat nie ander se vryhede aantas nie.

Verdraagsaamheid vra van jou om nie die hele pad vir jouself op te eis nie. Hou links op jou geloofspad en gee die ander wat wil verbykom geleentheid om dit te doen. Jy hoef nie jou medereisigers van die pad af te druk omdat julle nie in dieselfde baan is nie. Ons bly steeds reisgenote selfs al verskil ons.

(Bron:  Nuwe Hart Stigting – ‘n Nasionale gesprek)

Die Geloofsbelydenis van Schaapenberg
Deur Bertus van Niekerk:

Geskryf na aanleiding van Jurie van den Heever se “Ope brief aan die Gereformeerde Kerke in die RSA” soos gepubliseer op Kletskerk se webwerf en as reaksie op jare se gesprekke in die kerk oor die opstel van ŉ eietydse geloofsbelydenis.

Ek glo in een uitspansel, die ruimte van hemel en aarde en van alle sienlike en onsienlike dinge

en in een lewe wat oorvloedig vloei uit kosmiese energie waarvan ons die tyd en omvang nie besef nie

lewe is lig: waaragtig verwek, nie gemaak nie, een in wese met die heelal

waaruit alle dinge ontstaan het

wat ook tot voordeel van my, ‘n mens, en ten bate van my voortbestaan verspreid voorkom, wat voed en inspireer

wat gees en liggaam op ‘n verskeidenheid maniere verbind maar tog vlietend, broos en verganklik is en dikwels deur mense vernietig en geminag word totdat dit uitsterf

om weer opgeneem te word in die geslote sisteem wat hierdie planeet omvou

wat my organies en sonder onderskeiding elke dag omhels; ook die res van alles wat nog bestaan of reeds dood is

waarmee die fassinasie geen einde sal hê nie

En in ‘n kollektiewe bewussyn, wat respek en aanvaarding kweek, wat essensieel is tot almal se voortbestaan en gewaardeer en gekoester moet word, wat deur waardiges voorgeleef word

Ek glo aan een kosbare, gelyke mensheid gegrond op wedersydse waardering van verskille

Ek bepleit die besef van hoe kosbaar elke oomblik en hoe uniek elke belewenis is

Ek smag daarna om hierdie waardes uit te bou totdat ek sterwe en

Ek begeer om ook vandag geakkommodeer te mag voel

Bertus van Niekerk

16 Augustus 2011

Natuurlik is ek moetswillig om spesifiek die Niceanum as matriks vir my eie belydenis te gebruik. Ek was net so moetswillig om spesifiek nie êrens in my belydenis van ‘n transendente figuur of konstruk melding te maak nie. Na my mening is gestolde belydenisse deel van die rook wat ons oë só laat traan dat ons nie meer ons gespreksgenote kan akkomodeer nie en nie meer kan onderskei wat eietydse spiritualiteit goed kan verwoord nie. Dus: bêre die gestolde belydenis in die kas, saam met ander kosbare items uit ons erfenis.

Maar juis dít, juis die gestolde belydenisse en die kosbare erfenisse in ons kaste vorm die kettings wat aan die denke vas is binne tradisionele kerke. Vir dekades reeds is daar komitees wat deur sinodes opdrag ontvang na die opstel van sogenaamde eietydse geloofsbelydenisse. Die komitees rapporteer feitlik sonder uitsondering terug dat daar nie eenstemmigheid onder lede was oor wat nou eintlik die inhoud van ‘n eietydse belydenis moet wees nie – laat staan nog die bewoording daarvan. Dan is daar natuurlik die ekstra komplikasie dat verskillende kerke oortuig moet word om mekaar se geloofsbelydenisse te onderskryf, selfs al staan hulle organisatories nie te ver van mekaar af nie. ‘n Goeie voorbeeld is die gesprek oor wat die status van Belhar in die NG kerk behoort te wees. Dié gesprek duur al meer as twee dekades en word nou eers behoorlik warm.

Gevolglik klink gesprekke tydens sinodale sittings baie tentatief: geen afgevaardigde of akademikus wil homself só afgrens in ‘n belydenis dat hy homself ostraeer van die res van die vergadering nie. Wat die essensie behoort te vorm van groot kerkvergaderings (geloofsleer) word dan dikwels ‘n gerondvallery oor die status van ou belydenisse en tot watter mate hulle oop is vir interpretasie. Dis besonder ironies dat gesprekke oor die gebruik van gesonde, akademies-aanvaarde hermeneutiese beginsels om die Bybel uit te lê, deur paranoïese groepe gekortwiek word wanneer dieselfde beginsels op die lees en verstaan van geloofsbelydenisse van toepassing gemaak wil word.

‘n Goeie voorbeeld van hoe duisende jare oue teks deur ‘n minderheidsgroep beswaardes gebruik word om die tweede grootste Afrikaanse kerk in ‘n buitengewone sinodesitting in te dwing, is besig om hom in die Hervormde Kerk af te speel. Dié groep beswaardes gaan juis in Oktober poog om baie ou belydenisse te gebruik om die kerk te oortuig dat haar onlangse besluit dat apartheid sonde is, die geloofsinhoud van die kerk bedreig. Wedersydse verdagmakery in beide kampe is so duidelik op die kerk se amptelike Facebookblad dat die administrateur van die blad deelnemers aan die gesprek gereeld moet herinner aan die etiese kode van die blad en dat dit nie gelowiges betaam om mekaar ad hominem-beledigings toe te slinger nie.

Só diep sny die verskille tussen kampe in kerke, dat lidmate in ekstreme gevalle die kerk eerder verlaat as om teen hulle gewete in voort te gaan om soos die kerk en saam met die kerk waarin hulle grootgeword het, hulle geloof te bely. Súlke verloopte lidmate beskou hulleself dan soms as “soekers”, want dikwels het hulle steeds ‘n diep spirituele behoefte, maar hulle kan nie meer struktureel beaam wat die kerk bely nie. ‘n Goeie voorbeeld ‘n voormalige predikant wat hiérdie paadjie geloop het, is Pieter Cilliers, wie se boek Soeker  juis oor ŉ eens gelowige se disassosiasie met sy geestelike tuiste handel.

Omdat dosente en predikante wat poog om iets van geloof in ons huidige tyd en omstandighede te verwoord sonder om ikonoklasties om te gaan met ouer belydenisse en besluite van die kerk, begin hulle dikwels hulle uitsprake oor geloof met: “Ek glo nie …” eerder as “Ek glo …” Die inhoud van wat só ‘n spreker op ‘n kerkvergadering sê, is dikwels geweeg én verdun om nie te veel lede van die vergadering van hulleself te vervreem nie. Hartseer genoeg word hulle dikwels goeie teologiese begronding juis dan in die vergadering te lig bevind en deur een of ander meer ekstremistiese spreker ter vergadering tot op die rand van die gesprek gerelativeer. Dit sal altyd moeiliker wees om innoverend die woorde te soek wat weerspieël wat in mense se gemoed leef as om waarhede wat (en dis ‘n veronderstelling, niks meer nie) eeue reeds vas staan, harder te skree. Die rede swik ongelukkig maklik voor die emosie tydens hierdie gesprekke.

Dan staan ek by my Schaapenberg-belydenis. Ek wou dapper genoeg wees om te verwoord waarin ek glo, nie waarin ek nie glo nie. Ek besef ek moet respek en aanvaarding uitleef as ek verwag dat ek geakkommodeer sal word. Om by dié punt uit te kom, is ‘n radikale ondersoek na die basis van wat ek glo, kritiek. Ek sal ook my retoriek van snydende woorde en veroordelende houdings moet stroop as ek gehoor wil word deur ander kerke en gelowe en soekers in die komplekse spirituele landskap waarin ek vandag leef.

Quo Vadis: ‘n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA
Deur Jurie van den Heever:

Die internasionaal-bekende Nuwe-Testamentikus, Bart Ehrman, noem in sy boek Jesus Interrupted  (2009) dat die Bybel nie net die topverkoper en die mees gelese boek in die geskiedenis van die Westerse beskawing is nie, maar dat dit ook dié boek is wat, veral deur die gewone leser, ten diepste misverstaan word.

Ehrman skryf boeiend oor Jesus en alhoewel sy styl populêr is, is die verhaal gegrond op die navorsingsbevindings van Bybelwetenskaplikes. Hy noem spesifiek hoedat argeologiese ontdekkings, die studie van Grieks en Hebreeus waarin die Bybel geskryf is en historiese en tekstuele analises oor die afgelope tweehonderd jaar, Bybelnavorsers in staat gestel het om met toenemende noukeurigheid die ryk ontstaansgeskiedenis en die werklike betekenis van die Bybel te ontrafel.

Volgens Ehrman is daar, in die Verenigde State alleen, duisende navorsers wat hieraan meedoen. Hulle navorsingsresultate vorm deel van die onderrigmateriaal van studente en voornemende predikante. Tog is die grootste gedeelte van die Amerikaanse bevolking salig onbewus van, of onkundig oor, hierdie navorsing. Hy vermoed dit is omdat professionele Bybelwetenskaplikes, nie die nuwe bevindings op ‘n verantwoordelike manier aan die publiek deurgee nie, en ook omdat predikante, wat wel oor die inligting beskik, om een of ander rede, dit nie met hulle gemeentes deel nie.

As `n mens luister en lees hoe Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes soos Sakkie Spangenberg, wat wel hierdie bevindings oor die Bybel bekendstel, deur onkundiges verguis word en hoe die Bybel deur geleentheidsprekers soos Angus Buchan en die plastiekpredikante van die radiogolwe misbruik word, lyk dit of dieselfde toestand in Suid-Afrika heers.

Dat die Bybel nie `n wetenskaplike handboek is nie en dat dit deur mense geskryf is, word vandag allerweë erken. Kerke is egter tradisioneel uitgesproke oor die onfeilbaarheid van die Bybel, wat hulle die Woord van God noem. Die Bybel word gevolglik steeds deur sommige predikante en baie gelowiges voorgehou as `n goddelikgeïnspireerde teks vol waarhede oor die Skepper en die doen en late van Jesus. Dat dit beslis nie die geval is nie, word gewoonlik verswyg.

Ehrman maak die belangrike punt dat die evangelies dikwels chronologies gelees word. Vandaar die idee dat dit een naatlose geheel vorm. As die evangelies egter parallel gelees word en die verskillende skrywers se weergawes van spesifieke gebeure, veral met betrekking tot die Jesus-verhaal, vergelyk word, staan die teensprake en foute duidelik uit.

Sakkie Spangenberg toon in sy jongste boek, Jesus van Naseret (2010), hoekom hy een van die voorste Bybelwetenskaplikes in Suid-Afrika is. In soepel Afrikaans word meer as vier eeue se navorsing oor die Ou en Nuwe Testament onder die vergrootglas geplaas en saam met sy eie insigte, elegant saamgevoeg tot `n rasionele en ewewigtige basisdokument vir ’n nuwe hervorming. Op grond van al hierdie inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte met ons moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is. Die tyd is ook verby dat kritici gemuilband kan word deur te beweer dat hulle die Bybel nie verstaan nie, of dit nie reg lees nie, of dat hulle nie gelowig is nie.

Sommiges neem selfs die posisie a lá Adrio König in (Ek Glo die Bybel – Ondanks al die Vrae, 2003) deur te verklaar dat hy die Bybel in elk geval glo, ten spyte van al die ongerymdhede. Om so kop in die sand te steek, los  niks op nie.

Baruch Spinoza (1632-1677) was die eerste geleerde van naam wat die Bybel bestudeer het as `n historiese geskrif waarvan die identiteit van die outeurs onseker was en waarvan die teks die intellektuele beperkings van die tyd weerspieël het.

David Friedrich Strauss (1808-1874), `n Duitse teoloog veroorsaak in die eerste helfte van die negentiende eeu ‘n opskudding met sy boek Das Leben Jesu Kritisch Bearbeit (= Die lewe van Jesus krities beskou). Aan die hand van die Bybel, die enigste bron oor die doen en late van Jesus, toon hy o. a. aan dat Jesus `n gewone mens was. Die boek was ‘n sensasie maar het Strauss se loopbaan vernietig. Volgens een resensent was dit “die Iskariotisme van ons tyd” terwyl `n ander dit verdoem het as: “…die mees verpestelike boek  wat die kake van die hel nog ooit gebraak het..,”.

Sederdien het talle teoloë wat eerliker met die teks wou omgaan, hulle telkemale in die onversetlike houding van kerke vasgeloop. Enkele bekende gevalle sluit Albert Schweitzer (Duitsland), Ds Geelkerken (Holland), Biskop Colenso (Suid-Afrika), J.A.T.Robinson (Engeland), Johannes du Plessis (Suid-Afrika), Ferdinand Deist (Suid-Afrika), Willem Moore (Namibië) en Sakkie Spangenberg (Suid-Afrika) in.

Met Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret en Willie Esterhuyse se onlangse publikasies, God en die Gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010) word die Bybel, en in die geval van Spangenberg, veral die persoon Jesus, histories binne konteks geplaas. Ons kerke kan en mag hierdie inligting nie langer ignoreer of verdoem nie. Dit verteenwoordig ‘n waterskeiding in godsdienstige literatuur in Afrikaans en behoort verpligte leestof te wees vir alle katkisante en elkeen wat hom of haarself ‘n Christen wil noem.

Ten spyte van waarskuwings deur teoloë soos Frits Gaum (Woordfees, Stellenbosch, 2011) dat lidmate net nie meer tevrede is met die tradiononele dogma, wat Bybelstories, wat deur mense geskryf is, steeds opdis as goddelike uitsprake wat onaantasbaar en vir ewig waar is. Hulle begin twyfel aan die eerlikheid en openheid van kerke en hoe die ampsdraers met die bediening omgaan. Afgesien van die feit dat die Bybel geen sinvolle verklaring vir die problem van lyding bied nie, begin sommige lidmate besef dat daar al lankal toenemend ernstige vrae rondom die persoon van Jesus gevra word.

Enkeles hiervan is hoe hy van Dawid kan afstam as as hy nie ‘n biologiese pa gehad het nie. Hy is glo uit ‘n maagd gebore maar beide sy geslagsregisters (wat van mekaar verskil) sluit Josef as sy biologiese pa in. Sy voorspellings (Matteus 16: 27-28, 23:36, 24:34 en 26: 64, Markus 9:1, 13:30 en 14:62, Lukas 9:27) was verkeerd en boonop het hy nooit slawerny verdoem nie. Spangenberg wys tereg daarop dat hy ten beste ‘n Joodse wysheidsleraar was. Die Jode en die Moslems weet dit al lankal. Aan ons word hy egter steeds voorgehou as ‘n God, of God se Seun, die Tweede persoon van die Drie-eenheid.

Pieter Botha (Die Nuwe Hervorming, 2002) wys daarop dat Jesus nie `n Christen was nie, maar `n Jood en nie Grieks, maar Aramees, gepraat het. Hy is vernoem na Josua en sy volgelinge het hom rabbi Jeshua genoem. Dit plaas die gesprek tussen Jesus en Nikodemus oor die wedergeboorte (Joh 3), onder verdenking. Volgens Ehrman werk die gedagte van `n wedergeboorte net in Grieks, waar die woord meer as een betekenis het. Jesus en Nikodemus het Aramees gepraat, `n taal waar die woord slegs die een voor die hand liggende betekenis het.

Dit gaan `n toenemend ongemaklike situasie tydens eredienste skep wanneer predikante die geloofsbelydenis resiteer en ingeligte lidmate reeds weet dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit ‘n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie.

Christo Lombard verwys in die boek van Willie Jonker, Die Relevansie van die Kerk (2008), na Jaap Durand wat voel dat ons in die post-Verligtingsyd die knie gebuig het voor die eendimensionele rede van die logika en daarom die dieper dimensies van ons bestaan verwaarloos. Logika was egter nog nooit eendimensioneel nie en indien die dieper dimensies van ons bestaan bloot na die tradisonele benadering tot godsdiens verwys, is dit miskien tyd om logika `n kans te gun.

Volgens Lombard het daar sedert die Verligting `n soort Ortodokse speelruimte ontstaan waarbinne sinvol oor God gepraat kan word. Indien ons daardie speelruimte verlaat, om „…`n suiwer redelike sfeer vir die gesprek oor God te skep, …“ loop ons, volgens hom, die gevaar : „om die betekenis van ons hele bekende wêreld te verloor.“

Dit is egter so dat die betekenis van ons bekende wêreld en hoe moreel ons daarin optree, nie noodwendig van godsdiens of die Bybel afhanklik is nie. Daarvoor is die tronke te vol Christene. Sam Harris wys in The Moral Landscape (2010) juis daarop dat lande soos Denemarke, Swede, Noorweë en Nederland, wat die mees ateïstiese samelewings in die wêreld verteenwoordig, moreel en eties by verre beter vaar as sogenaamde godsdienstige nasies.

Ingeligte lidmate beskik tans oor `n enorme hoeveelheid inligting oor die Bybel en die destydse sosio-politieke klimaat van die Ou Nabye Ooste en kan nie meer, soos voorheen, met ex cathedra uitsprake gestuit word nie. In die lig van die ernstige daling in die bywoning van eredienste sal dit interessant wees om te weet hoeveel mense vanweë kulturele oorwegings steeds lidmate van byvoorbeeld die NG Kerk is, maar nie meer eredienste bywoon nie, omdat hulle spiritueel reeds ligjare verder as die kerkers van die “ortodokse speelruimte” dink. Gesien die feit dat geloof in een of ander vorm steeds die middelpunt van baie mense se bestaan vorm, wonder `n mens onwillekeurig of die tradisionele Kerk hoegenaamd nog vertrou kan word binne die geestelike speelruimte. Julian Müller (Om te Mag Twyfel, 2011) stel dit treffend as hy sê dat die kerke hulself in die oë van die moderne mens as gespreksgenoot gediskwalifiseer het.

Tipies is die reaksie van Amie van Wyk (Die Kerkblad, 2010) wat nie ooghare vir die Jesus van die Nuwe Hervorming het nie. Hy is beswaard dat deurwinterde teoloë Jesus in perspektief plaas en beweer, onder andere, dat die Teologie van die Nuwe Hervorming geen hoop vir die toekoms bied nie. Gesien in die lig van die onjuisthede oor Jesus en die Bybel wat deur die eeue en nog steeds aan ons as die waarheid voorgehou word, is dit ‘n vreemde stelling. Net so is die geestelike bevryding en werklike hoop wat die Nuwe Hervorming adem, vir hom klaarblyklik `n geslote boek.

In sy nuwe boek Fluit Fluit die Kerk is Uit? (2011) reken Frits Gaum dat dit vir die NG Kerk teoreties maklik behoort te wees om jammer te sê vir die foute van die verlede. “Wanneer dit om berou gaan, moet die kerk waaragtig berouvol wees, anders beteken die lippetaal niks nie.“ Hy steek egter vas by onderwerpe soos apartheid, die rol van die vrou en homoseksualiteit.

Of die Christelike kerke in die breë en in die besonder, die gereformeerde kerk, ooit berou gaan toon oor die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word, is `n ope vraag. Deur eerlik te erken dat Jesus `n mens was, sal nie die einde van die Christelike geloof beteken nie. Die Jode weet dit al duisende jare en dit doen nie afbreek aan hulle ryk kulturele erfenis nie. Trouens, dit sal waarskynlik die deur open vir die groter medemenslikheid en liefde hier op aarde waarvoor Gaum in sy boek pleit.

Johan Janse van Rensburg (Rapport 20/3/2011) probeer walgooi deur te vra: “Waarom in die openbaar kritiek op die kerk uitspreek?” Godsdiens is juis `n kultuuraktiwiteit wat elke Sondag en by vele ander geleenthede in die openbare oog afspeel. Dit maak aanspraak op ewige waarhede en skryf aan mense voor hoe hulle in die openbaar behoort op te tree en op watter maniere hulle by openbare kwessies betrokke behoort te wees. Die stelsel word begrond in `n denkraamwerk wat o.a. Jesus as God defineer. Amie van Wyk (In die Skriflig, 2003) erken byvoorbeeld openlik dat standpunte soortgelyk aan dié van die Nuwe Hervorming al sedert die vroeë Christendom in omloop is. As dit waar is en die kerke swyg steeds daaroor, is dit des te meer rede vir `n openbare debat.

Janse van Rensburg beweer ook dat die fundamentalisme in die NG Kerk nou besweer is. In plek daarvan identifiseer hy vrysinnigheid as die huidige gevaar en vra ewe besorg: „Wie wil nou deel van `n kerk wees wat van niks meer seker is nie?“

Dit is bloot `n retoriese foefie. Gesien teen die agtergrond van `n kwynende kerk, is die korrekte vraag: Wie wil nou deel wees van `n kerk wat nie die waarheid praat nie?

(Dr Jurie van den Heever is ‘n paleontoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenosch en mede aanbieder van die program Hoe verklaar u dit wat Sondae oggende op RSG uitgesaai word)

Sal ons nog droom as ons dood is?
Piet Muller:

Is die dood die Groot Einde? Bly na die sterfte niks oor van al ‘n mens se drome en aspirasies nie? Het alles wat ‘n mens in jou lewe bereik het, na die dood geen sin meer nie? Oor hierdie soort vrae wonder die mens reeds sedert die begin van die geskiedenis. Sowat 180 000 jaar gelede het die bewoners van ‘n grot in die Lebomboberge al seeskulpe saam met hul dooies begrawe en hul dooies boonop met okerstrepe versier – aanduidings dat hulle ‘n verwagting gehad het van die lewe na die dood.

Vir die die Europese Middeleeuse mens was geboorte en dood bloot twee plekke waar ‘n mens op dieselfde reis aandoen. Selfs die modern Boeddhistiese monnik, Thich Nhat Hahn skryf in ‘n gedig:

Ek is nie my liggaam nie, dit hou my nie gevange.

Ek is lewe onbegrens – wat nooit gebore is en

wat nimmer sterwe.

Aanskou die oseaan, die uitspansel besaai met sterre

wat ingebed is in my diepste wese.

Van die voortyd af is ek ongebonde.

Geboorte en dood is telkens net poorte, gewyde drempels op ons reis.

Geboorte en dood is net ‘n lig-en-skaduspel…(Vry vertaal).

Persoonlik ken ek geen hipnoterapeut wat nie reïnkarnasie minstens ‘as ‘n ‘psigiese werklikheid’ in die lewe van hul pasiënte aanvaar nie. Hierteenoor staan die ‘amptelike” standpunt van die wetenskap dat die mens bloot ‘n materiële wese is en selfs sy oomblikke van godsdienstige vervoering of sy innigste liefde die resultaat is van chemiese en neurologiese prosesse is. As jy sterf, sterf al die insig en wysheid wat jy verwerf het saam met jou; soos die musiek op ‘n laserskyf vir altyd verlore gaan wanneer die skyf vernietig word.

Die Nobelpryswenner, Francis Crick stel dit so:” Die verbasende hipotese is dat “jy”, jou vreugde en jou verdriet, jou geheue en jou ambisie, jou sin vir persoonlikheid en vrye wil, in werklikheid niks meer is as die gedrag van ‘n groot hoeveelheid senuselle en aanverwante molekules nie.”

Op grond van hierdie uitdruklike wetenskaplike veronderstelling kan geen aspek van die mens na die dood voortbestaan nie. Berigte oor mense wat om onverklaarbare redes uit hulle liggame getree het, kan wetenskaplik net die ‘waar’ wees nie, omdat sulke gedrag net nie ooreenstem met die beginsel dat alle oorsake fisiek van aard is nie. Indien sulke verskynsels voorkom, moet dit die gevolg wees van fisieke oorsake, soos hallusinasies weens ‘n tekort aan suurstof in die brein.

Die tydskrif Nature het in 2002 bevind dat die illusie van uitrede juit die ligaam veroorsaak word deur ‘n prikkeling van die regter-gyris angularis, ‘n klein randgebied aan die agterlob van die brein. In Nederland het ‘n span medici, onder leiding van die kardioloog, dr. Pim van Lommel, egter ‘n studie van vier jaar onderneem om uit te vind watter van die gangbare teorië oor buiteliggaamlike ervarings  korrek is:

Dat dit veroorsaak word deur suurtsoftekort in die brein;

Dat dit ‘n sielkundige reaksie op die vrees vir die dood is;

Of dat dit ‘n euforiese reaksie is wat veroorsaak word deur die afskeiding van endorfiene en ketamine deur die brein, twee hormone wat ‘n mens goed laat voel.

Hierdie span navorsers het hul toegespits op pasiënte wat hartstilstand gehad het. Medies gesproke is dit ‘n ondubbelsinnige toestand, want mense met hartstilstand is klinies dood. Hul asemhaling hou op en daar is geen reflekse meer nie. Binne 15 sekondes is daar geen meetbare breinaktiwiteit nie.

Buite die hospital is daar weinig kans dat ‘n mens so ‘n hartstilstand sal oorleef. Binne ‘n hospitaal kan pasiënte egter elektries gestimuleer word om hul hartklop weer aan die gang te kry. Wanneer pasiënte se hart weer klop is hulle nog steeds bewusteloos en bly die breinfunksie nog ‘n rukkie vlak. Hulle kan ook nog nie spontaan asemhaal nie en hul asemhaling moet kunsmatig gestimuleer word. Soms slaag dit nie en is so iemand se korttermyngeheue permanent aangetas.

Vir hierdie studie het Van Lommel se span 334 pasiënte oor  bynadoodervarings uitgevra. Hierdie studie het aangetoon dat 18% sulke ervarings gehad het terwyl 82 persent geen ervarings kon onthou nie. Jonger mense en pasiënte wat voorheen al sulke ervarings gehad het, was meer geneig om sulke ervarings te hê as ouer mense.

Aangesien al hierdie gevalle suurstoftekort van die brein ondervind het, sou ‘n mens, indien die teorie van suurtsoftekort juis was, meer sulke gevalle kon verwag. Ook vrees vir die dood is uitgeskakel, deurdat hartstilstand so vinnig gebeur dat “iemand wat ‘n hartstilstand beleef nie tyd het om doodsangs te beleef nie, laat staan nog dit bestry deur deur middel van ‘n bynadoodservaring”, soos Van Lommel in die Britse mediese tydskrif, The Lancet, geskryf het.

Die bevindinge van Van Lommel se groep het soveel opspraak verwek dat The Lancet tans ‘n vyfjaar lange studie onderskryf, om meer oor bynadoodervarings te leer. Vir hierdie studie is daar selfs kassies teen die plafonne van sekere hospitale se teaters gebou, waarin voorwerpe geplaas kan word, sodat enige moontlike gevalle van uitrede tydens ‘n operasie na die tyd gekontroleer kan word aan wat die pasiënt alles waargeneem het.

Seker een van die heel merkwaardigste gevalle van ‘n “skyndood” en heldersiendheid wat daarmee saamhang, wat ooit beskryf is, is die geval van die NG-predikant, ds. Michiel de Kock, wat in 1919 in Port Elizabeth ernstig siek geword het en maande lank tussen lewe en dood in die hospital gelê het. In hierdie tyd het hy nie net “‘n reis deur die hel en die hemel” onderneem nie, maar was ook bewus  van wat in sy eie gemeente, Fouriesburg in die Vrystaat aangaan. So kon hy ‘n gebedsbyeenkoms beskryf wat deur ‘n swart kategeet, Jacob, gelei is en waar om sy herstel gebid is. Hy het ook ‘n insident beskryf waarby ‘n diaken betrokke was, en waartydens ‘n kas oogebreek moes word om ‘n sleutel te vind. Ook hoedat die plaaslike magistraat gesukkel het om sy (ds. De Kock) se belastingopgaaf in te vul.

Nog die bynadoodervarings van pasiënte met hartstilstand, nog ds. De Kock se heldersiendheid, kan volgens die huidige wetenskaplike paradigma verklaar word. Dit kan eenvoudig nie plaasvind nie! Tog is daar deesdae alhoemeer wetenskaplike “jukskeibrekers” wat nietemin bereid is om sulke verskynsels ernstig op te neem. So het die Nobelpryswenner, Dr. Roger Sperry, wat in 1981 die toekenning ontvang het vir sy navorsing oor die hemisfere van die brein, die wetenskaplike gemeenskap geskok toe hy in die selfde jaar in Annual Review of Neuroscience geskryf het:

Die huidige opvatting oor die brein-gees (mind brain) verteenwoordig ‘n direkte breuk met lank gekoesterde opvattings en materialistiese  en behaviouristiese dogmas wat die wetenskap vir dekades oorheers het. In plaas van bewussyn te verwerp of te ignoreer, wil die nuwe benadering juis erkenning verleen aan die innerlike bewussyn as primêre oorsaak van die werklikheid”.

Dit lyk of die kwessie van “bewussyn” veral bioloë in twee groepe verdeel: die groep wat vashou aan die ortodokse opvatting dat bewussyn die ‘oorsaak’ is van chemiese en neurologiese  prosesse en ‘n groter wordende groep ‘ketters’ wat selfs so ver gaan as om te glo dat bewussyn buite die ligaam bestaan (in die Kwantum- of Zero-veld) en dat die brein slegs ‘n ‘ontvanger’ is van inligting wat buite die liggaam ‘gestoor’ word.

So ‘n verskynsel sal byvoorbeeld die Britse bioloog, Rupert Sheldrake, se opvatting van ‘n “morfologiese veld”, waarin ‘n spesie se inligting gestoor word, onderskryf. Maar dit sal ook ‘n verklaring kan bied oor waarom mediums in gekontroleerde eksperimente soveel betroubare inligting oor oorledenes kon uitvind.

Terselfdertyd sal dit ‘n verklaring kan bied vir die resultaat van een van die vreemdste proefnemings wat ‘n gesoute Behavouris ooit gedoen het – die Amerikaner McDougal se eksperiment in die jare 30 van die vorige eeu, waartydens laboratoriumrotte onder water gelos is om te bepaal hoe vinnig hulle leer om die korrekte uitgang te vind. Terselfdertyd is ‘n lig by ‘n vals uitgang aangebring, waarheen die rotte aanvanklik almal eerste geswem het, net om te vind dat hulle gaan verdrink as hulle nie ‘n ander uitgang kan vind nie!

Soos vooraf verwag is het die rotte met elke probeerslag die regte uitgang vinniger en vinniger gevind. Wat egter vreemd was, was dat hulle nageslag presies begin het op die punt waar hulle ouers laas opgehou het en die geslag na hulle weer waar hulle opgehou het, sodat elke geslag die regte resultaat vinniger as die vorige geslag behaal het.

Hierdie eksperiment is later in sowel Australië sowel as Skotland gereplikeer, en elke slag het ook hierdie rotte begin waar die vorige geslag Amerikaanse rotte opgehou het, so asof die inligting oor hoe hulle dit moes doen ‘in die lug’ was!

Maar geen eksperiment kon meer bisar – en eties bedenklik- wees as die Amerikaner, Karl Lashley, se eksperimente met rotte nie. Hy was vasbeslote om vir eers en altyd vas te stel waar in  die brein  geheue gestoor word. Vir hierdie doel het hy ‘n groep rotte afgerig om oor ‘n reeks hekkies te spring tot by hulle beloning van kos. Die wat die prosedure verkeerd gedoen het, het in ‘n poel water geval. Daarna het hy sistematies dele van die rotte se breine begin vernietig om dit ‘uit te skakel’ as tuiste van die geheue. Hy was nie juis sensitief met die manier waarop hy dit gedoen het nie: hy het dit sommer met sy vrou se warm haarkruller afgebrand! Maar hoe hard hy ook probeer het, hy kon nie daardie plekkie in die brein kry nie. Die arme diere het hul liggame later met moeite voortgesleep, maar hulle het die pad nie vergeet nie!

In Sal ons nog droom as ons dood is? plaas ek telkens die wetenskaplike opvatting (hetsy ortodoks of onortodoks) teenoor goedgedokumenteerde gevalle van buiteliggaamlike ervarings, heldersiendheid en selfs gedokumenteerde gevalle van vermoedelike reïnkarnasie, waarvan daar veel meer gedokumenteer en ondersoek is as wat ‘n mens aanvanklik sal vermoed. Dit is vir die leser self om te besluit wat “waar” is.

Maar dat daar “iets” aan die gang is reeds baie duidelik.

Piet Muller se boek Sal ons nog droom as ons dood is? kan by Boekblik bestel word en sal per pos aan jou besorg word. Verdere gesprek oor die onderwerp kan ook op Kletsklerk se forum gevoer word HIER

“Superman en die CEO van Apple”
Abel Pienaar:

Ek’s van kleinsaf aangegryp deur superhelde. Ek praat hier spesifiek van superhelde soos Superman, Batman, Thor, The Hulk, Ironman, Green Lantern en Wolverine. Hierdie superhelde en hulle avonture fassineer my. Ek onthou nog goed hoe my ma vir my ‘n rooi mantel met ‘n “S” op gemaak het. Hoe ver het ek nie met daai mantel gevlieg en hoeveel monsters het ek nie verslaan nie.

Wel vandag is ek verseker nie meer ‘n kind nie, ek’s ‘n volwasse man. Maar sou jy na my “screen saver” op my rekenaar kyk sou jy niemand anders as The Green Lantern daar sien nie. En langs my bed staan daar ‘n Incredible Hulk aksie-figuur. Natuurlik tot die afgryse en skaamte van my vrou en my dogter.

Dit is egter nie net ek wat hierdie fassinering met superhelde het nie. Kyk maar net na die welslae van die afgelope paar jaar se rolprente soos Batman Begins, Spider-man, Superman: The Movie, The Hulk, The Fantastic Four, Ironman, Daredevil, Thor, Green Lantern en Marvel se X-Men reeks, met o.a. Wolverine, Storm, Professor X en Magneto. Ons praat hier van biljoene rande se inkomste by rolprent-teaters en van die grootste lokettreffers van alle tye.

Hierdie wêreldwye fassinering met superhelde is egter meer kompleks as net ‘n behoefte aan ontvlugting. Dit gaan oor die moderne mens se groeiende behoefte aan ‘n eietydse verstaan van sy ewigdurende veranderende wêreld.

Die wetenskap en ekonomie is eenvoudig net nie gerat om die menslike psige ‘n sin van betekenis te gee nie. En tradisionele godsdienste, aan die ander kant, het weer vasgeval in outydse mites en sodoende irrelevant geword vir vandag se moderne mens.

Dit beteken egter nie dat moderne mense nie ‘n behoefte het aan ‘n eietydse, kreatiewe, dinamiese en inspirerende mitologie nie. En interessant genoeg lyk dit asof films die rol van die godsdiens in die skepping van mites oorgeneem het. Hiervan getuig die sukses van die grootste lokettreffer van alle tye: Avatar.

In Avatar skep James Cameron, die draaiboekskrywer en regisseur, die asemrowende wêreld van Pandora. Die verhaal speel af in die jaar 2154, en die verwondering wat die kyker ervaar help om ‘n nuwe mite te skep. Dit is dan ook die eerste funksie van ‘n mite, om verwondering binne jou wakker te maak.

Avatar se mitologie put sy inspirasie uit die Gaia (Grieks vir “grond” of “aarde”) of moeder Aarde mitologie. Gaia was in die Griekse mitologie die dogter van die heel eerste god, Chaos (dit waaruit geglo is die heelal ontstaan het). In Avatar noem hulle dit Moedergodin Eywa. Die inwoners van Pandora (die Na’vi) staan in ‘n intieme verhouding met die netwerk van lewe.

In teologiese taal sou dit beskrywe word as panenteïsme — God in alles, alles in God, maar God ook meer as alles. En so skep of herskep Avatar ‘n mite. ‘n Baie nodige nuwe uitkyk. Veral omdat die hartseer realiteit is dat die tradisionele godsdienste nie gehelp het om die mensdom sensitief te maak vir hulle enigste woning, planeet Aarde nie. Inteendeel, die mites wat godsdiens die mensdom gegee het, het hulle arrogant en selfsugtig gemaak. Hierdie “Kroon van die skepping”- mitologie het meegebring dat moeder Aarde geplunder, misbruik en verkrag is.

Kan jy jou indink hoe anders ons realiteit sou wees indien mense hulle self werklik gesien het as deel van alles, deel van mekaar — alle lewe as Een. Joseph Campbell, een van die grootste kenners van mites, skryf presies oor hierdie noodsaaklikheid van so ‘n eenheids-mite vir ons tyd: “The only mythology that is valid today is the mythology of the planet — and we don’t have such a mythology.”

A.H. Almaas, een van my gunsteling spirituele skrywers verwoord hierdie verstaan as volg: “The world is perceived, in some sense, as alive and living, as one infinite and boundless organism of consciousness. It is not merely the presence of Being or consciousness; this dimension of Being is experienced as a living organism, boundless and infinite.”

Mense soek na nuwe rigtingwysers en spirituele beginsels wat hulle lewens kan verryk en genees. Maar hulle soek ook na beginsels wat hulle kritiese en ondersoekende denke kan bevredig. Daarom dat moderne mense reg oor die wêreld behoefte aan nuwe mites het wat hulle nie meer verlore en geïsoleerd laat voel nie.

Seker daarom dat die Amerikaanse filosoof en antropoloog, Roger Walsh, die volgende skryf: “Indeed, this lack of meaningful myth may underlie much of the fragmentation and alienation that haunts our lives and our future may well depend on our ability to create a new, life affirming myth that gives coherence and common meaning to our modern world.”

Sy verwysing na ons wêreld se huidige “fragmentation” en “alienation” is baie akkuraat. Dit is tipies wat gebeur as daar nie meer ‘n narratief of mite is wat mense sinvol aan mekaar bind nie. Daarom is ‘n eietydse mitologie so nodig.

Ek verstaan egter die huiwering by baie mense om oop te wees vir hierdie idée van ‘n eietydse mite. Baie mense voel hulle is mislei deur hulle godsdiens en wil daarom niks meer te doen hê met mites nie. Hulle is baie skepties oor die rol van mites in ‘n wêreld waar die wetenskap veel meer waarheid verkondig as wat ‘n storie kan. En daarom verkies hulle die empiriese en feitelike verklarings vanuit die wetenskaplike wêreldbeeld.

Ongelukkig is meeste van die kritiek geldig. Want verseker is die grootste gevaar van mites se metafore, simbole en stories, die potensiaal wat dit het om verkeerdelik as direkte geskiedenis of wetenskap beskou te word. Want simbole is nie feite nie en metafore is nie dogma nie. En vanuit hierdie verkeerde verstaan van mites is godsdienste gebore. Dit is mense wat nie verstaan het dat poësie, dramas en verbeeldingryke stories, eintlik net kreatiewe menslike vertellings was/is nie.

Dit het meegebring dat mense onder mekaar begin baklei het, juis omdat hulle verkeerdelik hulle eie simboliese tekens as feitelike waarheid verstaan het. En natuurlik is ander mense se godsdienstige stories dadelik as mites en dus as leuens afgemaak. Vandag nog doen christene dit, hulle maak ander gelowe se sienings af as mites maar hulle eie mites word as feitelike waarheid gesien. Dink ook aan die stryd tussen gelowe onder mekaar en wetenskap teenoor bygeloof. Meestal omdat mense nooit geleer het wat ‘n mite is nie.

Hoekom is mites enigsins nodig? Basies omdat die mens nie net bestaan uit rede nie, ons is meer as net ons koppe. Ons het ook lywe, gevoelens en emosies. Daarom dat mense altyd mites sal nodig hê. Mense het nodig om uitdrukking te gee aan hulle diepste ervarings, mense smag na kreatiwiteit en mense word bekoor deur die onbekende en die transendente.

Wiskundige en feitelike taal het verseker sy plek maar min dinge kan ‘n mens inspireer soos musiek, kuns of ‘n goeie storie. Ons vertel graag vir mekaar stories van hoop. Stories wat troos, insig en motivering kan bring waar daar voorheen slegs hartseer en moedeloosheid was.

Dit is in essensie al wat ‘n mite eintlik is. Net ‘n storie wat deur mense binne ‘n spesifieke tyd en omstandighede vertel is, om daarmee woorde te gee aan hoe dinge wat gebeur het, deur hulle ervaar is. Dit gaan primêr daaroor om sin te maak uit hulle ervarings-wêreld. Dit moet dus nooit verwar word met feite of geskiedkundige gebeure nie.

Joseph Campbell gee sy definisie van mites as: “It is an organization of symbolic images and narratives, metaphorical of the possibilities of human experience and the fulfillment of a given culture at a given time.” Dit beteken dat mense ‘n kreatiewe storie vertel, vol simbole en metafore vanuit hulle ervarings-wêreld.

Anders gestel kan mites gesien word as ‘n simboliese kaart vir die innerlike reis. En op hierdie kaart is sleutel verwysings aangebring wat kan help om dieper insig te beleef, en metafore om die ego en donkerkant te verduidelik. Die kaart is nie die terrein nie, slegs ‘n simboliese vertolking daarvan.

Dink maar net, hoe ‘n eks dwelmslaaf aan iemand sou verduidelik wat die verslawing aan sy lewe gedoen het. Hy sal dit vertel asof die dwelms ‘n fisiese monster is. En dat hierdie monster hom wou vernietig en dat daar ‘n stryd om lewe en dood tussen hulle was. Almal weet tog dat dwelms nie ‘n fisiese monster is nie. Almal weet instinktief dat hierdie mitiese taal is en probeer beskrywe wat die persoon in sy innerlike stryd teen sy verslawing ervaar en beleef het.

Mens kan dus sê dat mites ‘n storie struktuur van betekenis is. Dat mense mites skep om hulle te help om sin en betekenis te verwoord. Daarom dat mense altyd hulle mites inkleur vanuit hulle direkte omgewing. Byvoorbeeld, mense wat in ‘n woestyn woon, se mitologieë lyk anders as mense wat by die see woon. Hulle verhoudings met hulle omgewing se uitdagings, gebeure en gode sal verskil.

Kyk maar net hoe mense deur die geskiedenis hulle werklikheid verwoord het en watter metafore oor die lewe, dood en die onsienlike hulle gebruik het. Sien ook raak dat dit meer van hulle kennis en interpretasie sê, as noodwendig oor die werklikheid.

Weens my belangstelling in mites en mitologie, kan ek dus nie ‘n fliek met superhelde misloop nie. Ek geniet dit om te sien hoe belangrike lewenstemas na vore kom. Dink maar aan wat die moderne mites in die vorm van superhelde vir mense sê.

Hoe groter en belangriker die doel van die superheld is — gewoonlik om die vernietiging van die aarde te verhoed (en jy kry nie sommer ‘n groter doel of taak as dit nie!) — hoe moeiliker word dit om die taak suksesvol te kan voltooi.

Ou mitologie het ook sy superhelde gehad. Herkules moes twaalf take uitvoer. Ulysses het jare lank rondgeswerf voordat hy weer kon huis toe gaan. David moet so veel opoffer en sy eie vrese konfronteer in sy geveg teen die reus Goliat. En Jesus is bespot, geslaan, gemartel en gekruisig, alles ter wille van sy taak om die mensdom te red.

Vergelyk dit met Spiderman en Batman wat deur ongelooflike diep innerlike wroegings moet gaan omdat hulle bang is vir die groot verantwoordelikheid van hulle taak. Spiderman se bekende mantra wys byvoorbeeld hierdie groot taak wat hy het: “With great power comes great responsibility.” Of dink aan Superman wat as vreemdeling op aarde moet voortleef en heeltyd sy ware identiteit geheim hou. Dieselfde met Batman, Captain America, Ironman en The Green Lantern. Daarom die nodigheid van superhelde se kostuums, maskers en geheime identiteit.

In Thor, The Hulk en X- Men gaan dit weer om ‘gnosis’; om innerlike kennis van hulle ware self te vind. En daarvoor moet hulle alles opoffer, selfs hulle lewens. So word die psigologiese (pedagogiese) funksie van ‘n mite, om die individu deur die verskillende fases van die lewe te begelei. Joseph Campbell noem dit, “to help persons grasp the unfolding of life with integrity.”

Natuurlik weet ons dat daar nie regtig ‘n Gotham City of Metropolis bestaan nie. En verseker bestaan daar geen ring wat jou super kragte kan gee soos vir The Green Lantern nie. En (hopelik) dink niemand as ‘n spinnekop jou byt gaan jy “spider senses” ontwikkel nie. Dit is slegs metafore, simbole, verbeeldingryke stories waarmee iets gesê word van ons elkeen se stryd met ons ego, donkerkant, vrese, drome, verantwoordelikhede, beperkings en sterflikheid.

Hierdie superhelde help ons om ons eie innerlike held te vind. Danny Fingeroth skryf in sy boek Superman on the Couch: “A hero can be said to be someone who rises above his or her own fears and limitations to achieve something extraordinary. The hero embodies what we believe is best in ourselves.”

Dink maar net aan die onlangse lokettreffer Thor. Hier word die ewige stryd tussen goed en kwaad briljant uitgebeeld. Dit is belangrik om te weet dat hierdie mite lewe gekry het tydens die eeu van die Vikings, toe die Christendom besig was om Skandinawië te verower. Dit het hulle hoop gegee teen die oormag van die Christene.

Die held is Thor en sy hamer, Mjöllnir — die Noorse god van donder, weerlig en storms — maar ook van fertiliteit en genesing. Interessant is dat Donderdag (Torsdag) na hom vernoem is. Thor is die seun van Odin, koning van Asgard, die woning van al die gode. Ook die plek waar Loki, Thor se halfbroer, die bedrieër woon.

In die mite ontdek Thor eers sy ware self nadat hy sterf aan sy ego. En wanneer hy selfs bereid is om te sterf vir mense hier op aarde, dan eers word hy “waardig” om sy goddelike hamer, Mjöllnr te vind. En dan word hy sy pa, Odin se troon opvolger. Hy vind daardeur sy ware lewensdoel. Herinner dit nie sterk aan Jesus se woorde: “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” (Matteus 10:39, Die Bybel: nuwe vertaling 1983.)

Christopher Vogler verduidelik hierdie heldereis van Thor as: “Ultimately, a Hero is one who is able to transcend the bounds and illusions of the ego, but at first, Heroes are all ego; the I, the one, that personal identity who thinks it is separate from the rest of the group. The Hero archetype represents the ego’s search for identity and wholeness.”

Die funksies van mites is daarom baie belangrik vir elkeen van ons om sinvol hier en nou te kan leef. Wat is hierdie funksies? Eerstens om nuwe verwondering vir die lewe in jou wakker te maak; tweedens om ‘n nuwe kosmologie daar te stel (een wat in lyn is met die wetenskaplike verstaan van ons tyd); derdens om nuwe simbole en rites te skep wat mense in ‘n gemeenskap saambind en met respek en oopheid laat saamleef. En laastens om die ware self te ontdek, die ego te laat sterf en wakker te word vir jou goddelikheid.

‘n Nuwe mite kan ons met ons innerlike stryd met ons ego’s help. Superhelde as mite, is ‘n riglyn om jou vrees (ego) te transendeer. Meer nog ons het nodig om die “malligheid” van die ego-gedrewe lewe, soos Eckhart Tolle dit noem, te verander. Dit kan alleen verander indien ons ontwaak tot die ware self. Hiervoor het ons ‘n nuwe mitologie nodig!

Al wat ons het vir die skep van so ‘n nuwe mitologie is om die beste uit die verlede te neem en die beste van die hede te neem. ‘n Nuwe kosmologie, sosiologie en psigologie kan so ontwikkel word. ‘n Mitologie wat dit regkry om die inkarnasie van God in alle mense (mistieke), in alle lewe, ernstig op te neem.

Ek wil afsluit met die woorde van Steven Jobs, een van die stigters en huidige CEO van Apple. Ek dink sy woorde eggo vele van my superhelde se woorde en ek hoor ook die fluistering van iemand wat met ‘n nuwe mite werk:

“Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma — which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of other’s opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition. They somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary.”

BRON: Abelpienaar se blog

Waarheen met die goddelike?
Gerrie Snyman:

﻿Die skilder Diek Grobler se waarneming oor die goddelike en sy vraagstelling oor wat die goddelike nou eintlik doen in die stuk God the Voyeur problematiseer vir my die denke oor die goddelike.

Die titel van die kunswerk noop die toeskouer om die goddelike as ŉ loervink te beskou waar die aarde letterlik op ŉ afstand vanuit die ruimte betrag word, asof daar geen betrokkenheid met die wêreld is nie. Die deel van die aardbol wat gewys word, lyk na die Nabye en Verre Ooste. Eersgenoemde is natuurlik die bakermat van die Christelike godsdiens in terme van die wortels in die vroeë Judaïsme en die vroeë Christendom waar die kerke in die oostelike deel van die Romeinse Ryk ŉ baie groot rol gespeel het vanuit Konstantinopel.

Die goddelike se voorstelling is ŉ mansgesig (wat baie na Goya se figure lyk) met ŉ lyf wat na ŉ voël lyk met vyf vingers wat mens aan ŉ voëlklou laat dink, hoewel daar te veel ledemate vir so ŉ kloutjie is. Tussen die figuur en die aarde is daar wolke wat ŉ wasigheid meebring. Die hand-klou klou vas aan iets wat soos ŉ vlerk lyk, of dalk ŉ mantel. Daar is dus iets gerubagtig aan die goddelike voorstelling. As mens dit lees saam met die voëlagtige lyf, dan sou mens by ŉ arend kon uitkom wat volgens Esegiël 10:14 goddelike teenwoordigheid simboliseer.

Die blik van die goddelike is afwaarts, na die aardbol toe. Die kunstenaar verdiskonteer  ŉ wetenskaplike wêreldbeeld van ŉ draaiende aarde om sy eie as, maar vra die vraag uiteindelik oor waar só ŉ wêreldbeeld die goddelike laat. Word die goddelike uitgeskuif na die buitenste duisternis? Laasgenoemde word veral beklemtoon deur die medium wat gebruik word, naamlik mestekenbord en die donker dele op die doek. Of is die goddelike besig om nader te kom met ŉ meer vriendelike gesig? Die goddelike is duidelik op ŉ afstand, hoewel die gesigsuitdrukking van die goddelike baie sagmoedig voorkom. Maar dit is juis hierdie afstand wat vir my tref.  Binne die ortodokse siening word die goddelike beskou as iemand wat wette gemaak het met  die mens wat dit nou net moet nakom. Daar is niks verder vir die goddelike om te doen nie. Vandaar die afstand.

ŉ Verdere vraag is wat presies die goddelike nou is wat so uitgeskuif word? Mens sien hier ŉ mansgesig, ŉ voëlagtige gelaat en ŉ wasigheid. Mens sou kon sê hier word net twee lede van die Drie-eenheid verteenwoordig:  God die Vader en God die Heilige Gees. Dit lyk nie of daar plek is vir Christus as God die Seun hier nie. Die afwesigheid van Jesus in Grobler se uitbeelding van die goddelike dui dalk op ‘n intuïtisie met betrekking tot die rol wat Jesus binne die Reformatoriese tradisie speel en dat sy goddelike rol ten spyte van ŉ uitgewerkte leerstelling in die hedendaagse lewe nie tuiskom nie.

Die manlike gesig het nie ŉ gestrengheid aan hom nie. Daar is iets weerloos aan die goddelike. Dit laat my weer dink dat die goddelike versag het en eintlik besig is om nader te kom in teenstelling met die afstand.  Die afstand wat in die kunswerk tussen die goddelike en die aardbol geskep word, en die sagte uitdrukking op die gesig van die goddelike bevestig enersyds dat die goddelike nie juis ervaar word in die lewe nie, maar andersyds dui dit op die moontlikheid van ŉ nuwe beskouing oor die goddelike, een wat minder met outoritêre gesagsuitoefening geassosieer word. Mens sou ook die kunswerk kon interpreteer as sou die goddelike besig wees om weer die aardbol te nader, en dus in ŉ nuwe gedaante as goddelike sigself voordoen. Daar is genoeg beweging in die kunswerk om so ŉ skuif aan te dui. Dit sou dus ook ŉ skuif in tandem wees met ŉ nuwe godsbeskouing wat aan die ontwikkeling is.

As my interpretasie van Grobler se skildery geldig is, versterk dit my vermoede wat ek het oor die toepassing van die Gereformeerde leerstellings oor Jesus Christus in sommige aspekte van die alledaagse lewe: hulle werk gewoon nie meer nie.  Gee Grobler se werk nie maar intuïtief (Grobler is ŉ kunstenaar en nie ŉ teoloog nie) weer wat op grondvlak teologies gebeur en boonop in weerwil van ortodokse en fundamentalistiese reaksies teen die soort van siening van Jesus soos vergestalt deur die Jesus Seminaar en die Nuwe Hervorming nie?

Terwyl die voorstelling van die goddelike vele komponente het, problematiseer die voëlagtigheid van die goddelike sowel as die gesigsprofiel die idee van die goddelike as imperiale maghebber deurdat die voël nie heeltemal as ŉ arend uitgemaak kan word nie en die gesig vertederend is. Hierteenoor staan die tradisionele of ortodokse siening van die goddelike in noue verband met magsuitoefening. In watter mate durf mens nog enigsins die goddelike verbind aan mag?

Die kunswerk self staan binne die Westerse tradisie en is gekonsipieer en gemaak vir ŉ uitstalling in Parys. Tog het mens gedink as kunswerk binne ŉ Suid-Afrikaanse konteks dat die blik op Afrika sal wees. In hierdie opsig frustreer die kunswerk die kyker wat in ŉ  Afrika-konteks oor die goddelike dink. Die blik wat Grobler se goddelike op die aarde werp, is op ŉ spesifieke wêrelddeel, naamlik die Midde Ooste en die Verre Ooste. Die Weste het natuurlik baie spesifieke idees oor hierdie wêrelddeel wat deur Edward Said as “Orientalisme” gedefinieer word. Orientalisme kom neer op ‘n baie duidelike etnosentriese blik op die Ooste maar vanuit die Westerse kultuur se universele aansprake. Die goddelike se blik is egter nie op Afrika nie, en die vraag is wat het die hele debat oor die goddelike uiteindelik met Afrika te doen.  Is die hele debat tussen ateïsme en fundamentalisme nie maar net ŉ storm in ŉ Westerse teekoppie nie?

Gerrie Snyman,  Dept OT&ANES, Unisa

﻿(Kunswerk: God the Voyeur. Diek Grobler, 2008. Mestekenbord. Gepubliseer met kunstenaar se toestemming.)

Kerk moet fyn luister na sosiale netwerke
Die kerk se erns met diversiteit word met wantroue bejeën. Hoewel daar verskillende groeperings is wat aan die gesprek oor diversiteit deelneem, is daar een saak waaroor meeste deelnemers saamstem en opmerkings maak. Hulle is skepties oor die kerkleierskap se erns oor die gesprek van diversiteit en die bereidheid om werklik ruimte te skep vir diversiteit in die kerk.

Dit blyk uit ’n verslag van die Taakspan vir Diversiteitsbestuur wat aan die Algemene Sinode van die NG Kerk se Moderamen voorgelê is. Die rede vir hierdie wantroue kan volgens die verslag gevind word in die wyse waarop die leierskap die hele kerkeenheidsgesprek hanteer, sowel as die hantering van Kletskerk se webwerf.

Die verslag waarsku dat die invloed van sosiale netwerke ’n belangrike konteks word wat in die kerk verreken sal moet word. “Die dae toe een of twee persone namens die kerk gepraat het, is verby,” staan in die verslag. “Daar sal na die netwerke gekyk moet word en fyn gelees moet word wat lidmate dink en sê via hierdie netwerke as diversiteit sinvol bestuur moet word.” Die verslag wys daarop dat nie net NG Kerk-lidmate hierdie forums lees nie. Dit het ook die ontmoetingsplek geword waar die drie susterkerke se lidmate bymekaarkom en idees uitruil.

Die opstellers van die verslag waarsku ook teen etikettering in die gesprek oor diversiteit. “Terme soos fundamentalisme, liberaliste, nuwe hervormers ens, word deur die onderskeie gespreksgenote aan mekaar toegedig.” Hierdie etikette bring volgens die verslag skeiding tussen gespreksgenote. Dit bring ook mee dat daar nie werklik ’n ruimte vir onderlinge luister na mekaar se standpunte bestaan nie. Die linies word opgestel en gevegte word geveg om die kerk te red van mekaar se standpunte en vertrekpunte.

“In die gesprek is dit duidelik dat ons nie oor die nodige vaardighede beskik om met mense wat diverse standpunte het en wat van ons verskil in ’n gees van onderlinge respek en liefde na mekaar te luister en te groei nie.”

Die gesprek or diversiteit in die kerk word volgens die verslag verder bemoeilik omdat bestaande teologiese en sosiale strukture uitgedaag word en mense nie gereed is om die nodige grense oor te steek nie.

Die voorsitter van die NG Kerk se taakspan vir diversiteitsbestuur, dr Jan Botha, skryf in sy deel van die verslag wat vir hom ontstellend op die NG Kerk se diversiteitsforum is, is die verdagmaking, persoonlike aanvalle en ondeurdagte asook eensydigheid van ’n aantal deelnemers. Hy sê dit wil voorkom of dit aanvaarbaar is om die man te speel en nie die bal te speel nie. “Beskuldigings, beledigings en selfs karakterskending is en bly onaanvaarbaar, oneties asook onchristelik.”

Dr Botha sê om links en regs mense te etiketteer en verdag te maak dra nie by tot die bevordering van ’n oop, sinvolle en gepaste gesprek nie. Hy sê daar behoort te alle tye met liefde, respek en eerlikheid debat gevoer word al verskil die deelnemers hoe radikaal van mekaar.

Een van die sake wat in die verslag vermeld word en groot aandag getrek het, is Izak du Plessis se bedanking uit die NG Kerk en veral sy kritiek dat die kerk liefdeloos optree teenoor lidmate. Ook sy opmerking dat die kerk nie vir mense wat ander vrae vra voorsiening maak nie verdien glo nadenke.

Demoondoom wil g’n sangoma wees nie
Die demoondoom wat soos ’n wafferse wit sangoma adverteer het hoe hy spoke verdryf en raad het met toordery huil nou lang demoontrane in die media omdat ek hom ’n wit sangoma genoem het.

Wat anders is dit as jy jou ophou met spoke jag, toordery en goëlery?  Doen sangomas dan nie dieselfde nie? Neels Jackson van Beeld gebruik demoondoom Pieter Fourie se treurmare oor my vandag as inleiding vir sy berig oor die demoondoom wat nou sy eie kerk gaan stig nadat hy en sy gemeente nie meer oog tot oog sien nie. (http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Jesus-kry-ook-lelike-name-20110601)

Fourie probeer nou martelaar speel. Hy maak asof dit dáároor is waarom hy sy tasse moet pak en die NG Kerk vaarwel roep. Hy gaan egter suinig met die waarheid om. Dit is nie as gevolg daarvan dat hy moet loop nie.

Sy beheptheid met duiwels en demone was nie die rede waarom sy kerkraad hom by die ring verkla het nie. Anders as wat mens dalk uit Beeld se berig kan aflei, is Fourie sy werk kwyt omdat hy nie sy werk gedoen het nie. Punt. Fourie en sy gemeente se geskil het gegaan oor die nakoming van sy dienskontrak. Nié oor die duiwel of omdat hy ‘n demoondoon of wit sangoma genoem is nie.

Wat sy demoonjagtery en ander Middeleeuse uitsprake betref hoef mense eintlik niks meer te sê nie. Dit spreek vanself. Iemand wat in 2011 vertel van demone wat brullend en brakend deur hom uit mense gedryf word terwyl die demone stink winde laat moet regtig nie verwag om ernstig opgeneem te word nie. Tensy jy natuurlik jou bewerings kan staaf. Sulke aansprake is niks minder Middeleeus as diegene wat vroue as hekse verbrand het nie. En die storie van bose geeste wat in Afrikamaskers skuil en Harry Potter speelgoed wat gevaarlik is of dat die dra van silwer kruise duiwels is, is regtig te gek vir woorde.

Ongelukkig is al die demoondoom se uitsprake en handelinge glad nie so skadeloos of onskuldig soos wat dit op die oog af mag lyk nie. Ek dink al ons joernaliste moet in die algemeen meer ondersoekende joernalistiek in die verband doen. En ook oor die gevolge wat dit op kinders se emosies het. As daar iets bestaan soos demone wat een-een al brullend, brakend en poepend by mense uitgedryf word, is daar ‘n paar vrae wat nie sommer net geïgnoreer kan word nie. Dan spreek dit tog vanself dat dit ‘n waarneembare verskynsel moet wees. Waar is die goed? Wie sien hulle? Wie hoor hulle winde los? Op wie braak hulle so? Soms tot sewe en meer van hulle uit een mens! As dit waar is dan is dit ‘n ernstige saak en durf die media sit nie sommer net aflag nie. Maar hoe braak ‘n demoon? Is hulle fisiese en liggaamlike goed dat hulle so brul en braak? Seker want hoe anders tel mens hulle? En waarheen verkas hulle nadat hulle met so groot geskal uitgedryf is?

Dan praat mens nie eers van Fourie se homofobiese uitlatings of insinuasies dat siektetoestande soos depressie die werk van die duiwel is en dat antidepressante eintlik maar net ‘n foefie is omdat die duiwel daaragter sit nie.

As die goed wat hy verkondig níe waar is nie behoort mense gewaarsku te word teen duiwelbeheptes soos Fourie. Dit is nié so onskuldig soos wat dit op die oog af mag lyk nie. Daarom moet ons in die media ophou om net as buiksprekers vir die Fouries se onsinnighede op te tree. Om kinders van so jonk as agt jaar en selfs jonger met die duiwel bang te maak is niks anders as emosionele kindermishandeling nie. Om allerhande magiese magte in Afrikamaskers te sien en mense aan te raai om die goed te verbrand omdat dit duiwels is, is belaglik en niemand hoef daaroor sleg te voel as hy of sy dit aflag as snert nie. Dis spookstories soos die wat met spookasemteologie aan goedgelowige mense opgedis word as die evangelie.

Maar wat van die gevolge wat sy Middeleeuse teologie op gay mense, kinders en depressielyers kan hê? Kan ons dit bekostig dat die Fouries van die wêreld sulke vrese en vooroordele verkondig terwyl ons stilswyend toekyk. Ek dink nie so nie.

Om te mag twyfel
Jean Oosthuizen:

“Die God wat ek verloor het, is die teïstiese God,” skryf Julian Müller in sy nuwe boek Om te mag twyfel. “Ek het hom agtergelaat en ek voel verlig, maar tog is ek ook ambivalent daaroor. Enersyds juig ek, want dit is ’n bevryding om nie meer daardie God te hê nie. Andersyds voel ek soos om soos Julian Barnes aan die begin van sy boek Nothing to be frightened of te sê: I don’t believe in God, but I miss him.”

Müller wat adjunk-dekaan is van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria se lewensverhaal is gans anders as wat baie mense van iemand in sy posisie sou verwag. “Ek glo nie meer in die God van wat ver, ver anderkant, los van my van buite my vir my loer nie,” erken hy sommer vroeg in sy boek.  Tog ontdek hy God op ŉ nuwe manier soos deur Paul Tillich beskryf in sy konsep van “the God beyond God”.  Hoewel hy geen woorde meer het waarmee hy God kan beskryf nie, sê Müller hy voel nie meer van God verlate nie. “Daardie God anderkant die teïstiese God het vir my meer troos gebring.”

Die God wat nou sy lewe betree het, is nie meer so maklik om in woorde vas te vang nie. Die bekende begrippemateriaal van “Vader”, “Bo”, “Hoër Hand”, Beskikker”, “God se wil”, “Voorsienigheid” en nog heelwat meer pas nie meer in by die God wat hy leer ken het nie. God is nie meer daar bo en buite en manlik en sterk en in beheer nie. “God is nou vir my veel meer die Moontlike, die Onverwagte, die Vreemdeling, die Gemarginaliseerde, die Gedagte, die Werklikheid, die Beweging, die Lewe. Uiteindelik het die konsepte postteïsme en panenteïsme aan hom die nodige woordeskat en verwysingsraamwerk verskaf om in nuwe kategorieë oor God te dink, te praat en te skryf, verduidelik Müller in sy boek.

“Dit is ŉ verlies en tog ook ŉ verlossing. Ek hoef God nie meer met behulp van komplekse dogmatiese teorie te verdedig en verstaanbaar te maak nie. Toe ek daarmee vrede gemaak het, kon ek weer stadig begin om God te herontdek.”

Julian Müller se boek sal beslis nie in almal se smaak val nie. Dit is ook nie bedoel om so te wees nie. Om te mag twyfel is sy eie lewensreis. Enige mens wat sy persoonlike geloofsreis op die manier verwoord stel homself bloot. Hy loop die gevaar om verketter óf bespot te word. In Müller se geval kan jy maar weet albei sal gebeur. Verkettering én bespotting. Die boek is nie geskryf vir mense wat klaar gedink het oor God nie. Nie vir die fundamentaliste wat al die antwoorde ken nie en ook nie vir diegene wat met ewe groot sekerheid klaar besluit het daar is géén godheid nie.

Die boek is in Müller se eie woorde vir mense soos hy: mense wat soms met geloof sukkel, mense wat nie elke dag ewe goed glo nie en mense wat hulle geloof beslis nie as ŉ prestasie kan aanbied nie. “Dis mense wat soms daaroor verras is dat hulle tog nog glo en mense wat partykeer daaroor ontsteld is dat hulle so ongelowig is. Dis mense wat onthou hoe hulle as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar sukkel om steeds so naïef te vertrou.”

Met die titel Om te mag twyfel neem Müller posisie in teenoor die kampioene van geloof. Hy skaar hy hom liewer by die “ongelowige” gelowiges. Hy vertel nie van die oorwinning van geloof nie. Daarvan sê hy is daar genoeg in die Christelike populêre literatuur. “Ek wil eerder die teenoorgestelde beklemtoon, naamlik dat geloof gebroke, gehawend, swak en ontoereikend is, geloof het geen inherente krag en betekenis nie. Dit is kwesbaar en breekbaar.”

Daarmee distansieer Müller hom dan ook van die konsep “geloofsekerheid”, iets waaroor hy met die jare al hoe meer skepties oor geraak het. “Dit is ŉ konsep waarmee gepoog word om iets tot geloof toe te voeg, asof geloof alleen nie genoeg is nie. Jy moet nog ŉ kwaliteite daarby verwerf. Dis so asof daar twee soorte geloof is: sekere én onsekere geloof. En dan is die deur oop vir nog verdere onderskeidinge: geloof wat oortuig is en geloof wat onoortuig is; die geloof van wedergebore Christene en die geloof van gewone Christene.”

In die soeke na ŉ nuwe godsbeeld vind Müller geen finale antwoorde nie. Hy erken die “onvolledigheid” van sy eie waagstuk en sê reguit daar bestaan nie iets soos ŉ volledige teologie nie. “In my geval is dit ook so, want daar is nog baie ontbrekende stukkies. Met die skryf het ek eenvoudig by sekere plekke langs my lewenspad stilgehou.”

Muller se verhaal begin as jong seun wat van kleins af geweet het hy wil predikant word. Sy ouers was plaasboere met sy ma se familie as Hervormers. Hulle was die vrolike deel van die familie. Die aardse en rasionele spiritualiteit van die Hervormde kerk was deel van die erfenis wat hom tot vandag toe beïnvloed. Sy pa se kant se NG spiritualiteit was vromer as die Hervormer deel maar beslis ook nie deel van die evangeliese strominge in die NG Kerk nie.

Müller het duidelik geen erg in die evangeliese stroom nie. Sy ontnugtering met die evangeliese sekerheid het reeds as eerstejaar op Universiteit begin toe ŉ buurseun aan kanker dood is. In daardie stadium was Müller nog onder die invloed van die evangeliese vroomheidsgodsdiens. Ondanks sy moedige poging om die buurseun “voor die dood se gapende kake weg te bid” het die seun gesterf.

Dit het hom tot die besef gebring die evangeliese sekerheid bied geen bevredigende antwoord op lyding nie. Dit skep aan die een kant ongekende verwagtings wat in die krag van gebed en toewyding gesetel is. Dit het lank geneem voordat hy hom van die evangeliese oortuigings gedistansieer en dit as ŉ valse vorm van godsdiensbeoefening verwerp het. “Maar uiteindelik moes ek dit doen, al was dit teen die stroom in.”

Geloofsekerheid is volgens Müller so ŉ vae konsep dat dit blootgestel is aan misverstand en misbruik. “Dit dra die illusie van sekerheid wat van God ontvang is, maar dit is uiteindelik maar net ŉ eie konstruk. Dit word nie gegee nie, dit word verwerf en sommige is beter daarmee as ander. Dit is juis gevaarlik omdat dit voorgehou word as iets “gereformeerd”, ŉ vertroue op God alleen. In die praktyk kry dit egter die betekenis van erekleure wat verwerf moet word, ŉ soort kwalifikasie wat by gewone geloof bygevoeg moet word.”

Vir Müller het dit ŉ leeftyd geneem om van baie geykte angswekkende gedagtes oor geloofsekerheid bevry te raak. “Dit is soos ŉ nuwe ontdekking: dat ek nie hoef te glo om iemand te wees nie; dat geloof nie ŉ geheimsinnige, ontwykende gawe is wat my gevange hou nie; dat geloof niks anders en niks meer is nie as ŉ lewenswaarde wat deur my opvoeding en konteks aan my gegee is. Dit is nie heiligskennis om aan my geloof te twyfel nie. Ek mag maar daarop reflekteer en dit bevraagteken en kan dit soms ook opnuut omhels.”

Op ŉ dag moes ek bid: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Want “my God” – die een wat ek tot in daardie stadium geken het – het agter die horison verdwyn. Die ou God het hom in bekende begrippe en gerusstellende taal laat vasvang. Daarmee (die ou God)  kon ek ŉ greep op God ervaar. As jy die regte woorde soos “erfsonde”, “verkiesing”, “geloofsekerheid”, genoeg en in die regte volgorde herhaal, word dit ŉ vaste sisteem (dogma) wat veiligheid gee. Met sulke evangelies-teïstiese taal en die gerusstellende taal van die kerklike belydenis kan ŉ mense God as’t ware beheer.”

Die meeste gelowiges aanvaar dat hulle idee van God uit die hemel geval het en nie bevraagteken kan word nie. Dit is eenvoudig hoe God is. Müller verduidelik dat idees oor God en die taal wat God beskryf menslike maaksels is. “Dit is almal die gevolg van een of ander interpretasie van wat ons in die Bybel oor God te lese kry.” Hy verduidelik hoe daar deur die loop van die eeue verskillende sieninge oor God ontwikkel het uit bepaalde godsbeelde wat in die tradisie van die Christendom inslag gevind het. Hierdie beelde of konsepte van God word mettertyd so geïnternaliseer dat mense dit nie meer bevraagteken of daaroor wonder nie. Dit word eenvoudig aanvaar as die enigste geldige manier om oor God te dink.”

Gelowiges besef volgens Müller nie aldag dat hulle begrip van God op ŉ interpretasie neerkom nie. “Die interpretasie is nie net op die Bybel gebaseer nie, maar is ook die produk van ons kultuur en van ons wêreldbeeld.”

“Die spanning tussen die moderne wêreldbeeld aan die een kant en ons godsdienstige konsepte aan die ander kant is vandag ŉ bron van groot vertwyfeling onder Christene. In my ervaring bevind denkende mense hulself gevolglik al hoe verder en meer vervreem van godsdiens -  altans van die soort godsdiens wat algemeen en populêr in kerke en in die pers verwoord word. Die toenemende konsensus onder wetenskaplikes en gewone mense oor die werking van die natuur en die ontstaan van lewe pas byvoorbeeld net nie meer by die geykte konsepte van God, die skepping en die verhouding tussen mens en God nie.”

Vir diegene wat soek na ŉ taal wat uiting gee aan hulle Bybelse geloof maar wat terselfdertyd getrou wil bly aan ŉ moderne verstaan van die wêreld beveel Müller panenteïsme ter oorweging aan. Dit is ŉ filosofiese konsep wat die Duitse filosoof Karl Christian Frederich Krause die eerste gebruik het en later deur verskeie filosowe en teoloë gebruik is. In kort beteken dit God is in alles én alles is in God. Müller noem homself egter ŉ postteïs. “Dit beteken ek aanvaar dat ŉ bepaalde era met sekere (verouderde) denkwyses en taal oor God verbygegaan het. Hy gee toe dat hy nog daardeur beïnvloed word. “Ek dink nog, praat nog en sing nog in die ou taal en dit spreek selfs nog tog my. Aan die ander kant weet ek dat ek onherroeplik aanbeweeg het en nuwe denkraamwerke oor God my nou inspireer en fassineer.”

Die feit dat hy homself ŉ postteïs noem, staan egter nie teenoor sy identiteit as Christen nie, want hy glo  die teïsme het nie die alleenreg op die Christelike geloof nie. “Ek dra graag die naam Christen en het geen behoefte om uit my geloofsverbondenheid met Christus te bedank nie. Tog wil ek my Christenskap postteïsties verstaan en verwoord. Ek glo dit is moontlik om ŉ Christen te wees met ŉ teïstiese, ŉ postteïstiese, of selfs ‘n panenteïstiese Godsbeskouing.”

Soos wat die flapteks aandui laat Müller se nuwe taal om oor geloof te praat, en sy kritiek op kerklike dogma, hom dikwels in die spervuur beland by teologiese kollegas en medegelowiges. Sy jongste boek waarin hy aanrypend vertel van die impak wat dit op hom as persoon gehad het sal beslis nie die wagters op Sionsmure sus en tevrede stel nie. Inteendeel, dit open die deur vir ŉ nuwe vlaag van verkettering en verdagmakery. Vir krities denkende gelowiges bied dit ŉ welkome ontsnaproete uit die muwwe doodloopstrate van die georganiseerde godsdiens waarin baie gelowiges hulle vandag bevind.

Om te mag twyfel word uitgegee deur Tafelberg en kan HIER bestel word.